Leerders laat wéér die speke sing vir liefdadigheid

Voor v.l.n.r. Rianli Badenhorst, Mire Reinstorf, Elka Scholtz, Bianca Aucamp, Karla Viljoen, Nelise van Aardt, Carmi Scholtz, Le Roux Nieuwoudt, Michael du Plessis
Agter v.l.n.r. Claude van der Schyf, Stefan Gerber, Luka Rossouw, Lourick Fourie, Elri Neethling, Mia Clark, Ruach Roux, Corné Meyer (Foto: Verskaf)

Altesaam 16 leerders van die Hoërskool Outeniqua in die Wes-Kaap gaan einde vandeesmaand weer op ʼn week lange fietstoer tussen George en Worcester vertrek – dié keer om geld in te samel vir minderbevoorregte laerskoolleerders van ʼn plaaslike skool.

Elandi Rautenbach, ʼn onderwyseres by die skool, sê dié fietstoer volg op die sukses van ʼn soortgelyke toer in 2016 waartydens 19 leerders meer as 500 km afgelê het om geld vir boere in droogtegeteisterde gebiede in te samel.

Danksy die skool se 2016-fietstoer is nagenoeg R170 000 vir droogtehulp aan boere ingesamel, en dié jaar mik die skool na R200 000 vir onder meer ʼn nuwe klaskamer vir die Laerskool Herold in die Wes-Kaap.

Die 16 leerders wat vanjaar aan die toer gaan deelneem, is weer leerders verbonde aan die Hoërskool Outeniqua se Impak-portefeulje – ʼn skoolprojek wat leerders aanmoedig om self die verskil te wees wat hulle graag in die wêreld wil sien.

“Ons visie is om ʼn verskil te maak,” vertel Rautenbach. “Nie een van die leerders is werklik fietsryers nie. Almal probeer hier en daar oefen, maar hulle pak dié fietstoer aan om vir die minderbevoorregte leerders van Laerskool Herold te sê ons is hier; ons sien julle swaarkry. Ons wil vir hulle hoop gee en daarom het ons besluit om geld vir ʼn nuwe klaskamer in te samel, want onderrig is iets wat blywend is.”

Die 2016 Hoërskool Outeniqua-span (Foto: Verskaf)

Rautenbach sê die meeste van die 49 leerders in die laerskool verkeer onder erge finansiële druk. Sy sê talle leerders is afhanklik van daaglikse kospakkies by die skool, en in baie gevalle is dié kos hul enigste ete vir die dag.

“Ons het al gesien mense is wel bereid om betrokke te raak as iemand net eers die eerste stap doen. Ons het nou die stap gewaag en ons hoop mense ondersteun hierdie projek sodat ons vir die skool iets daadwerkliks kan beteken,” vertel sy.

Die fietstoer skop op 23 Junie by die Laerskool Herold af. Ses onderwysers van dié skool en sewe leerders gaan die eerste dag van die fietstoer saam met die leerders van Hoërskool Outeniqua meemaak.

Die fietstoer sal oor 525 km strek en op 27 Junie voltooi word. Die toer word in samewerking met Solidariteit Helpende Hand aangebied.

Om betrokke te raak, besoek die Impak-fietstoer se skarefinansieringsblad hier. Vir meer inligting stuur ʼn e-pos aan Rautenbach na [email protected]. SMS ook die woord “Hoop” na 42266. Besoek ook die Impak (Hoërskool Outeniqua) Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.