Leeuwelpies kry ʼn Somerkersfees

Een van die leeuwelpies wat na Suid-Afrika gaan vlieg. (Foto: Verskaf)

Vyf leeuwelpies wat in aanhouding in die Oekraïne gebore is, gaan dié Kersfees vir die eerste keer op Afrika-bodem kan baljaar, waar kenners sê hulle hoort.

Die welpies, Maya, Carmen, Sandra, Uma en Lion-El, is geteel vir blikjag en om as troeteldiere aangehou te word in die Oekraïene, ʼn land wat volgens diereregte‑aktivis Lionel de Lange diere as ʼn statussimbool gebruik. De Lange, wat al ses jaar lank in die Oos-Europese land woonagtig is, beywer hom tans om die leeus veilig na Suid-Afrika te bring.

“Diere soos leeus en ander groot katte word deur die rykes en magtiges gekoop om as eksotiese troeteldiere aangehou te word, maar wanneer die oulike welpie in ʼn groot leeu ontaard, word dit te vreesaanjaend vir die eienaars, en te groot om te hanteer,” sê De Lange.

Die diere eindig dan volgens De Lange in klein hokkies met sementvloere op.

De Lange kon die vyf welpies onder sy vlerk neem en hou hulle tans in ʼn toegeruste kamp aan. De Lange was egter bekommerd dat die welpies nie die koue van dié land, waar die kwik in die winter tot so min as -7 ° kan daal, sou oorleef nie.

De Lange het reeds vir die welpies ʼn nuwe tuiste in Suid-Afrika gereël, by ʼn wildreservaat in Noordwes, en ook al die nodig reisdokumente en permitte gereed gehad om die welpies na Suid-Afrika te vervoer. Selfs die vlugte was al bespreek.

Daar was egter een ding wat De Lange nie gehad het nie – R126 000, die bedrag wat die vliegtuigkaartjies na Suid-Afrika kos.

Te danke aan die Jacaranda FM se Good Morning Angels‑span kon die geld vir dié duur uitstappie ingesamel word.

Een van die leeuwelpies wat na Suid-Afrika gaan vlieg. (Foto: Verskaf)

Die radiospan het Donderdagoggend met Craig Roberts, die bestuurshoof van Mazda Suidelike Afrika en voorsitter van die Mazda Stigting, ʼn welsynsorganisasie, gesels. Roberts het namens die Mazda Stigting die volle bedrag vir die vlugte aan De Lange geskenk.

Die versoek is deur André Groenewald, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Oekraïne, aan die Good Morning Angels‑span gerig.

Die leeus sal na verwagting op 11 Desember by die OR Tambo‑lughawe in Johannesburg land.

Dit is egter nie die eerste keer wat De Lange leeus red en na Suid-Afrika bring nie. In 2018 het De Lange vier leeus by ʼn sirkus in Oekraïne gered. Nathan, Charlie, Luca en Kai is sedertdien by die Kragga Kamma‑wildreservaat, naby Port Elizabeth, vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.