Lego-stel noop sesjarige om eerste boek te skryf

Klein Maya Enslin. (Foto: Verskaf)

Klein Maya Enslin. (Foto: Verskaf)

Die sesjarige Maya Enslin moes vinnig ʼn plan beraam om geld vir ʼn Lego-blokkiestel, wat haar oë in die winkelsentrum laat blink het, in die hande te kry.

Sy het blitsvinnig haar storievertellersgene daarvoor ingespan en ʼn kinderboekie van ses bladsye geskryf.

Haar pa, Stefan Enslin, die bekende draaiboekskrywer en rolprentmaker van flieks soos Nul is nie niks nie, Strikdas en Liewe Kersfeesvader, het sy dogter gehelp om die teks vir die boekie te tik en illustrasies soortgelyk aan dié wat klein Maya met die hand geteken het op die internet gesoek – en ʼn boekie van ses bladsye het die lig gesien.

Enslin het besluit om dié boekie, getiteld Die verlore teddie, op sy Facebook-blad te plaas en tot sy verbasing het die bestellings die een ná die ander begin inrol.

“Ek en Maya was in die winkel en sy wou graag die Lego-stel hê, maar dit is baie duur. Ek het vir haar gesê ek het nie geld daarvoor nie en sy sê toe maar al haar maatjies het Lego-stelle. Ek het vir haar gesê dit is nou maar ongelukkig hoe dit is en ʼn mens kan nie altyd kry wat jy wil hê nie,” vertel Enslin in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Sy wou by my weet hoe sy die stel in die hande kan kry en toe ek vir haar sê sy sal dit self moet koop, wou sy by my weet waar sy dan geld daarvoor moet kry,” lag hy.

Hy vertel Maya was nog altyd lief vir storievertel. “Sy het dit seker maar by my geërf. Sy het voorheen al vir my stories vertel saam met bypassende prentjies wat sy self op papier teken. Sy kom vertel toe die dag vir my die storie van die verlore teddie. Ek het gedink dit is só oulik en kom toe met die idee dat ons die storie in ʼn boekie bymekaarsit wat sy dan aan haar maats by die skool kan gaan verkoop.”

Maya Enslin en haar pa, Stefan. (Foto: Instagram)

Maya Enslin en haar pa, Stefan. (Foto: Instagram)

Enslin sê hy het die storie neergepen net soos Maya dit vertel het. “Ek wou eers daaraan begin redigeer, maar sy het agtergekom ek verander haar woordjies, en dan het sy vir my gesê nee, ek moet dit skryf soos sy dit gesê het. Ek het besef ek moet juis nie aan haar storie karring nie, want die essensie daarvan is die onskuld waarmee sy die storie as sesjarige aan my oorgedra het.”

Hy het die boekie op die drukker by die huis gedruk en aanmekaargeplak. Nadat hy ʼn Facebook-plasing oor die boekie gemaak het, het die bestellings die een ná die ander begin instroom. “Daar is tans sowat 100 boekies wat bestel is – van ʼn boekwinkel in Stellenbosch tot skole in die Karoo, Richardsbaai en in Noordwes het boeke bestel.”

Die koste vir die boekie is R5. Hy vertel soveel soos wat hy Maya ʼn les in sakevernuf wou leer, leer hy self ook ʼn paar lesse.

“Maya kry elke Vrydag R5 vir snoepiegeld, so dit is maar haar verwysingsraamwerk van ʼn bedrag. Ek het daartoe ingestem, maar nou het ons soveel bestellings ingekry dat ons die boekie meer professioneel sal moet laat druk. Ons gaan die koste steeds slegs R5 hou, so ek gaan seker maar ʼn verlies ly, maar sy hoef dit nie te weet nie!” skerts hy.

Hy sê Maya wou eers die boekie sommer net vir haar maats uitdeel, maar hy moes aan haar verduidelik dat om dit te verkoop die enigste manier is hoe sy die Lego-stel sal kan bekostig. “Ons het al van vierjarige ouderdom vir haar geleer om wiskunde te doen en wil ook nou vir haar die konsep van geld en besigheid leer. Sy sal baie daarby kan baat wanneer sy eendag groter is.”

Die verlore teddie handel oor ʼn seuntjie met die naam Jack, wat baie lief is vir sy teddiebeer. Die aand toe hy gaan slaap, wag hy dat sy ma sy slaapkamer verlaat en toe hy in die donker opstaan om met sy teddiebeer te speel, hoor sy hom.

“Soos wat sy dan uitroep: ‘Jack, wat maak jy?’, skrik hy vir sy ma se stem en gooi die teddiebeer die donkerte in. Nou is die teddiebeer weg en Jack kan nie slaap sonder sy teddiebeer nie. So volg ons die verhaal van Jack en sy teddiebeer tot in Beerland,” vertel Enslin.

Maya se ma, Louise, is ook baie trots op haar dogter se poging, vertel Enslin. “Ek is nou die persoonlike assistent wat die oproepe van voornemende kopers hanteer en Louise hanteer die logistiek soos die kwotasies om die boekies te laat druk. Nóg ek nóg sy het aanvanklik gedink die bestellings gaan so groot wees!”

Enslin sê hy en sy vrou moedig Maya aan om haar drome te volg. “Storievertel kom vir haar natuurlik en sy is mal daaroor. Dit maak haar gelukkig en sy is baie kreatief. Die boekie is perfek vir kinders wat nou leer lees. Ek wil amper sê dit is ʼn selfhelp- of leerlees-boekie.”

Indien jy graag ʼn eksemplaar van Die verlore teddie wil bestel, maak kontak met Stefan Enslin by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Darryl ·

Well done julle..nou dit is hoe jy n kind finansieel bemagtig.

wielie ·

Dankie klein meisie dat jy jou boekie vir R 5.00 verkoop ek is seker daar is baie baie ander klein mensies wat daardie boekie gaan sien en kan bekostig! Hoop jou pragtige gebaar is n les vir baie ………. geseende toekoms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.