Lekker verjaar, ATKV!

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die ATKV vier op 19 Augustus sy 86ste bestaansjaar en is beslis geen “outydse taalorganisasie” nie! Die organisasie kyk vandag terug op dit wat die ATKV in 86 jaar bereik het.

Mercia Eksteen, ATKV woordvoerder, het gesê dié organisasie is tot nou die grootste Afrikaanse kultuurvereniging wat deur ʼn wye verskeidenheid projekte brûe bou tussen Suid-Afrikaners van alle rasse.

Die ATKV spog met 300 takke in Suid-Afrika en Namibië, waaraan altesaam 200 000 gesinslede behoort.

“By die ATKV gaan dit vir ons oor die belange van oud en jonk, met Afrikaans as die belangrikste gemene deler. Die ATKV ondersteun Afrikaans in sy volle omvang onder alle Afrikaanssprekendes, maar ons beywer ons ook vir moedertaalonderrig vir alle taalgroepe en vir ʼn meertalige Suid-Afrika.

“Ons bevorder ook gebruiksafrikaans onder nie-Afrikaanssprekendes, onder meer deur ons jaarlikse koorkompetisie waaraan 15 000 koorlede van alle taalgroepe deelneem,” het Eksteen bygevoeg.

Die organisasie se kultuurprojekte bereik jaarliks meer as 500 000 mense landswyd.

Laerskool Durbanville (Kaapstad) met koorleier: Anne-Marie Dippenaar in aksie tydens ATKV-Applousfinaal 2016 (Foto: Annemarie Wichmann)

Laerskool Durbanville (Kaapstad) met koorleier: Anne-Marie Dippenaar in aksie tydens ATKV-Applousfinaal 2016 (Foto: Annemarie Wichmann)

Projekte soos die Rieldanskompetisie het ook al internasionaal opslae gemaak toe ʼn rieldansgroep tydens ʼn internasionale kunswedstryd as gouemedaljewenners aangewys is. Tienertoneel- en die redenaarskompetisie is albei ook al vir meer as vyftig jaar aan die gang en landswyd bekend.

Die organisasie se tydskrif, Taalgenoot, het ook al talle toekennings ingepalm.

LAPA Uitgewers, die organisasie se eie uitgewery, is die grootste kinderboekuitgewer van oorspronklike Afrikaanse boeke in die land en LAPA-boeke uit alle genres boer op Afrikaanse topverkoperlyste.

“By die ATKV is lees baie belangrik, en ons bevorder dit op verskeie maniere in gemeenskappe, by skole en op feeste. Die Vriende van Afrikaans versprei jaarliks 50 boektrommels aan behoeftige skole as nog ʼn manier om lees te bevorder.”

Die ATKV doen moeite om uitnemendheid in Afrikaans te bekroon en doen dit jaarliks deur ʼn verskeidenheid toekenningsgeleenthede, onder meer aan Afrikaanse joernaliste en skrywers.

“Maar by die ATKV gaan alles darem nie net oor werk en projekte nie. Ons verseker ook dat jy dit kan bekostig om te gaan uitspan by ons sewe baie bekostigbare vakansieoorde. Boonop spog al ons oorde met talle bedryftoekennings, wat ʼn genotvolle vakansie waarborg.”

Besoek die ATKV se webwerf, of sluit aan as lid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maggie Pringle ·

Baie geluk met jul verjaarsdag. Ek het as ‘n klein dogterjie die Taalgenoot verslind. Ons het ook baie vakansies by die veskillende oorde geniet. My gunsteling was Hartenbos.

Mag daar nog vele jare wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.