Lente Roode: Vir die liefde van diere

Lente Roode se onblusbare passie vir diere het haar een van die bekendste name in bewaringskringe gemaak. (Foto: Verskaf)

Lente Roode ontmoet my by die voordeur van haar statige huis in Pretoria. Met haar hare in ʼn sagte styl agter haar kop vasgebind en geklee in ʼn stylvolle pienk-en-grys trui, lyk dit of dié elegante vrou tuis sal wees in die redakteurstoel van ʼn vrouetydskrif of in die gange van ʼn modehuis.

Maar dít is nie waar jy Roode sal vind nie. Sy kan eerder gevind word waar sy kilometers ver in die veld agter ʼn wilde dier aanloop, ure langs ʼn renosterkalf sit wie se ma pas deur stropers afgemaai is, of plat op haar maag lê om ʼn bloukransvoëltjie te voer.

“Ek het dit nie so beplan nie, dit het net oor my pad gekom. En ek is slegs ʼn instrument in die Here se hande.”

Lente Roode (71) is sekerlik een van die bekendste name in dierebewaringskringe en het al reg oor die wêreld gereis om soveel moontlik bewusmaking te skep oor die lot van bedreigde spesies. Haar verhaal, omvattend genoeg om ʼn hele boek se bladsye te vul, het alles begin met ʼn enkele jagluiperd.

“My pa [Willie Schurmann] het ʼn plaas naby Hoedspruit gehad waar hy met beeste en skape geboer het en dié plaas was baie naby aan die wildtuin. Leeus, luiperds, jagluiperds en wilde honde was ʼn groot probleem, want hulle kom van die wildtuin af en vang die vee. So het dit gebeur dat ʼn jagluiperd skape gevang het en hulle het haar geskiet. Nadat sy geskiet is, het hulle gesien sy het melk en het toe haar kleintjie gaan soek. En só het die welpie by ons in die huis grootgeword,” vertel sy.

Wat vir die meeste mense effens bisar sal wees, was vir Roode net alledaagse lewe. Die jagluiperd, Sebeka, was deel van die Schurmann-gesin en het saam in die motor aan ʼn leiband tussen Pretoria en Hoedspruit gereis. Roode was 21 jaar oud toe Sebeka dood is, maar die liefde vir jagluiperds het toe reeds diep binne haar wortelgeskiet.

Jare later is sy met Johann Roode getroud en in 1985 het die egpaar die plaas aangrensend aan die Schurmann-familieplaas naby Hoedspruit gekoop. Ná haar pa se dood het Lente die familieplaas geërf en die egpaar het mettertyd nog omliggende grond aangekoop. Uiteindelik het hulle die Kapama-wildreservaat, ʼn eiendom van 12 500 ha, op die been gebring.

Dit was in dié tyd dat die gedagte aan ʼn huishouding met ʼn jagluiperd weer by Roode posgevat het. “Ek het vir my man gesê dit sal lekker wees om twee of drie jagluiperds op die plaas te hê wat ek kan geniet,” sê sy.

Jagluiperds by die Hoedspruit Endangered Species Centre. (Foto: HESC)

Roode het vir Des Varaday van Loskop Cheetah Sanctuary genader en hy het daarop aangedring dat sy en Johann hom besoek. “Ek het sommer dadelik gewonder, nou hoekom moet my man saamkom? Ék bel jou mos nou,” sê Roode. Maar sy het ingestem dat sy en Johann vir Varaday sal besoek.

“Toe ons daar was, kon ek sien hy is baie lief vir sy diere en sy diere is baie lief vir hom. Maar die plek was verwaarloos. Dit is bitter moeilik om genoeg geld te bekom om so ʼn plek aan die gang te hou. Destyds was sy vrou ook bedlêend en hy kon net nie meer met die skuiling aangaan nie. Hy het my man gevra of hy nie dalk al 35 jagluiperds vir my sou koop nie.”

Sy vertel op pad terug huis toe, het sy besef dat sy eintlik graag ʼn skuiling vir jagluiperds sou wou bestuur. “Ek is nie ʼn sosiale mens nie en ek hou nie van teepartytjies nie. Ek is nie ʼn mense-mens nie, ek is ʼn diere-mens. Ek raak gou moeg vir mense en dan sny ek my af, maar vir diere raak ek nooit moeg nie,” sê sy.

Die jagluiperds is gekoop en met die leiding van Varaday en prof. David Meltzer van die Universiteit van Pretoria is die uitleg van die jagluiperdsentrum beplan en die kampe gebou. Binne ʼn jaar was die 35 jagluiperds gevestig by die skuiling genaamd Hoedspruit Cheetah Project (HCP).

Hier het Roode nie net gefokus op rehabilitasie en sorg van die 35 jagluiperds wat aan haar toevertrou is nie, maar ook op metapopulasiebestuur, volhoubare teel van die katte en vestiging van jagluiperds terug in die natuur.

Lente Roode en een van haar geliefde jagluiperds. (Foto: Verskaf)

Van jagluiperds tot res van die diereryk

Eie aan Roode se omgeehart en doelgerigte aard, het haar bewaringspogings nie net by jagluiperds gebly nie en dit was nie lank voor verskeie ander diere hul pad na die sentrum gevind het nie. Alles van buffels, olifante, renosters, leeus, wildehonde, tierboskatte, swartwitpense, bloukransvoëls, bromvoëls en aasvoëls is deur die jare by dié sentrum versorg.

Dit het daartoe gelei dat die sentrum se naam later na die Hoedspruit Endangered Species Centre (HESC) verander is, aangesien die sentrum nou ʼn heenkome bied vir verskeie soorte dierspesies. Die diere wat by die sentrum beland het, is na die sentrum gebring omdat hulle beseer of wees gelaat is en gerehabiliteer moes word. Ander is deur natuurowerhede gebring nadat daar op die diere beslag gelê of hulle uit ongunstige omstandighede gered is.

Roode het geen dier weggewys nie. “Soms het ek die dier na ʼn ander sentrum verwys wat dalk meer gepas was om as tuiste vir die dier te dien, maar dikwels het ek maar net ʼn uitweg gevind,” erken sy.

Haar liefde en band met die diere is ooglopend duidelik terwyl sy praat. Deurentyd in die gesprek sluip daar staaltjies in oor die diere wat deur die jare by HESC was. Die mooi verhaal van die renosterwesie, Gertjie, en Lammie, die skaap, se ongewone vriendskap. Die komieklike storie van Esmé, die renosterversie, wat vir Dawid (ʼn Anatoliese herdershond) en Mielie (ʼn skaap) as geselskap gehad het – maar toe is Mielie bang vir Dawid en sy kuiers by Esmé moet onder toesig plaasvind. Gabby, die jagluiperd van Namibië, wat in Roode se huis gewoon en hoender uit haar hand geëet het.

In ʼn stadium het 12 leeus en drie tiere wat in ʼn sirkus gebruik is ook by HESC beland nadat hulle deur Animal Defenders International gered is. “Jy word in ʼn ding in betrek waar daar ʼn behoefte is. Ek het net elke keer gevoel, ek kan nie nee sê nie. Ek moet aangaan en ʼn plan maak.”

Jabulani was net ‘n paar maande oud toe hy na die Hoedspruit Endangered Species Centre gebring is. (Foto: jabulanisafari.com)

Van planne maak, kan jy Roode niks vertel nie. Dié ystervrou het telkens kans gesien vir die onmoontlike. Dit was ook die geval toe sy gevra is of Jabulani, ʼn 11 maande oue olifantkalf, na HESC gebring kan word. Jabulani is gevind waar hy verlate en beseer in die modder van ʼn slikdam vasgeval het.

Nadat Jabulani suksesvol gerehabiliteer en gespeen is, is daar probeer om hom deel van die trop wilde olifante in die Kapana-reservaat te maak, maar dié trop wou niks van Jabulani weet nie. Jabulani het ook aanhou terugkeer na HESC waar hy bekend en veilig gevoel het.

In 2002 is Roode weereens genader, dié keer om in te gryp by ʼn trop olifante wat gered moes word van ʼn olifantsafari-onderneming in Zimbabwe. Dié olifante sou geskiet word as deel van die Afrika-land se grondhervormingsproses.

ʼn Paar dae later was die trop olifante en hul hanteerders by HESC en het Roode gesit met die massiewe finansiële las wat dit meegebring het. Sy het besluit om ʼn luukse lodge te bou om te help om die versorging van die olifante te finansier en in 2005 het Camp Jabulani tot stand gekom.

Adine Roode, Lente se dogter, is tans die besturende direkteur van Camp Jabulani, terwyl Roode se seun, Bernard, in beheer is van die Kapama-wildreservaat.

Lente by die Hoedspruit Endangered Species Centre. (Foto: Verskaf)

Stryd vir voortbestaan

Johann se onverwagse dood in 2002 was vir Lente ʼn reuseslag en ook baie slegte nuus vir HESC. Waar Johann altyd baie finansiële steun aan die sentrum gebied het, moes Lente nou self planne maak om kop bo water te hou.

“Dit is die grootste uitdaging van diereskuilings – om finansieel te oorleef. Jy sukkel verskriklik met fondse, daar is net nie mense wat geld kan skenk nie,” sê Roode. “Toe my man geleef het, het hy my geleer hoe om ʼn begroting op te stel en oor finansiële state en goed, maar ek het nie vreeslik belang gestel nie. Tog het ek geluister na wat hy sê. En toe hy dood is, het ek besef hy wou my voorberei op die dag dat hy nie meer daar is nie sodat ek self na HESC se geldsake kan omsien.”

Sy vertel sy het haar tot haar finansiële adviseur gewend vir raad om die sentrum aan die gang te hou, maar die geldelike las was swaar. “Hy het eendag net vir my gesê ek sal die sentrum moet toemaak, die mense laat gaan en die diere verkoop. Hy het vir my gesê ek kan nie so aangaan nie en ek het teen daardie tyd al miljoene rande verloor. Dit was vir my ʼn wake-up call en ek het besef nou moet ek iets anders doen.”

Lente se bewaringspogings het met jagluiperds begin, maar uiteindelik tot onder meer olifante, renosters, buffels, wilde honde en tierboskatte uitgebrei. (Foto: Verskaf)

Vir Roode was tou opgooi en van haar diere ontslae raak, nie ʼn opsie nie. “Ek sou nooit dit kon los nie. Ek is net te lief vir my diere. As ek roep, kom hulle. Hoe kan ek dan net omdraai en wegstap?”

Sy het ʼn belangrike werk gehad om te doen – en 30 jaar later doen sy dit steeds met oorgawe.

Roode het verskeie samewerkingsooreenkomste gesluit en projekte op die been gebring om geld vir HESC in te samel. Maatskappye soos Investec, PPC Cement en Kyron Laboratories is ten nouste betrokke by die sentrum se projekte, asook verskeie individuele skenkers en vrywilligers.

Die US Friends of the Hoedspruit Endangered Species Centre is deur Allen en Heidi Roberts op die been gebring ná die Amerikaanse egpaar die sentrum besoek het. Deur dié projek hou die Roberts-egpaar etes by hul huis in New York waardeur hulle geld vir HESC insamel.

Roode het natuurlik al verskeie van dié geleenthede in die egpaar se Park Avenue-huis bygewoon, maar die glansryke lewe van die Groot Appel is nie vir haar nie. Sy verlang gou na haar diere-kinders en Afrika-wortels en dit is hiér waar sy haar vrede vind.

“Die Amerikaners sê self vir my, as daar ʼn God is, is hy hier in Suid-Afrika. Hy is nie daar in New York nie. As hulle hier in Suid-Afrika sit en na die sterre kyk, kan hulle Hom voel. Dan glo hulle, want hulle weet Hy is hier. Dit is hier waar jy God vind.”


 Die Hoedspruit Endangered Species Centre fokus op die bewaring van skaars, weerlose en bedreigde spesies. Die sentrum is nie net betrokke by die teel, behandeling en rehabilitasie van bedreigde spesies nie, maar bied ook onderrig aan leerders, studente en die algemene publiek oor bewaring en bewaringspogings en is aktief betrokke by navorsing. Die sentrum is ten nouste betrokke by teenstropingspogings. Daaglikse toere word aangebied om die publiek aan die sentrum se diere bekend te stel. Besoek hesc.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dup ·

Sjoe, dit was nou heerlik om die stuk te lees.

Lente Roode is van nou af vir my ‘n ikoon.

ChrisE ·

Baie positiewe bydrae wat die dame en haar man gelewer het. Sy dood was onverwags, soos met alle gevalle. Ek het die vorreg gehad om hom in die laat 70’s te ontmoet. Hy was voorwaar ‘n besonderse mens. Standvastig en doelgerig. Sy het voortgegaan en lewer steeds ‘n positiewe bydrae. Sterkte

ANNE-MARIE ·

Nou weet ek nog beter en duideliker wie ek is….NI ‘N MENS MENS NIE ….MAAR ‘N DIEREMENS..Lente ek volg jou goeie dade al jare lank en hierdie was nou so kosbaar om te kon lees….Ek verstaan hoe jou hart klop…Alle sterkte en seen van God oor jou vir jou lewe nog vorentoe en mag jy nog lank gespaar bly om jou geliefde diere te kan omhels en te versorg…wens ek kon naby wees Groete en liefde van my af

netso ·

‘n Pragtige mens en van kleins af vir my ‘n inspirasie (as ek tien gaste om my tafel moet kies, sal sy een wees). Ek dink ‘n boek oor haar lewe en diere is ‘n uitstekende gedagte. Hoe lyk dit?

Eben P ·

Wat n merk waardige vrou. n Mens wat soveel vir diere omgee MOET n fantastiese mens wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.