Letterkundemuseum 50 jaar al ’n kleinood vir Afrikaans

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein. (Foto: Werner Pretoria/Vriende van NALN/Facebook)

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein, wat in 1973 deur die Vrystaatse provinsiale regering gestig is, vier vanjaar sy vyftigste bestaansjaar.

Volgens Wyno Simes, kurator van NALN, lewer die letterkundemuseum ʼn prominente bydrae tot die behoud en bevordering van Afrikaans.

“As sentrale argief vir materiaal en inligting oor die omvangryke geskiedenis en ontwikkeling van letterkunde, musiek en drama in Afrikaans, is NALN ʼn skatkamer vol kleinode. Dit is ook die bewaarplek van Afrikaanse skrywers se werk.”

In Maart bereik die feesvieringe ʼn hoogtepunt met die feesrede wat op Donderdag gelewer word deur prof. Bernard Odendaal, voormalige hoof van die ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Vrydag word die Volksblad-redakteurskamer amptelik bekendgestel, en op Saterdag 11 Maart volg ʼn inligtingsessie oor die museum en die gebou se geskiedenis. Leana Lategan, voormalige hoofvakkundige beampte van NALN, sal tydens die sessie oor die geskiedenis van die letterkundemuseum gesels, terwyl Kobus du Preez, ʼn dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Argitektuur, oor die geskiedenis van die gebou, wat in 1877 voltooi is, sal praat.

As die Ou Goewermentsgebou was dit die regeringsetel van die ou Vrystaatse Republiek. Die Vrystaatse Volksraad het aanvanklik in die Derde Raadsaal in hierdie gebou vergader.

As die Ou Goewermentsgebou was dit die regeringsetel van die ou Vrystaatse Republiek. Die Vrystaatse Volksraad het aanvanklik in die Derde Raadsaal in hierdie gebou vergader. (Foto: Verskaf deur NALN)

Later vandeesmaand word die meertalige digter, prof. Jerzy Koch, se jongste digbundel deur Turksvy Publikasies by NALN bekendgestel. Op 11 Mei gesels Johan Myburg, wat in 2020 die Hertzogprys vir sy digbundel, Uittogboek (2018), gewen het, oor sy jongste bundel, Narreskip, en op 18 Mei word ʼn musiekkonsert met Afrikaanse liedere hier aangebied.

Wyno voeg by dat die Vriende van NALN ʼn onontbeerlike bydrae lewer en help om die feesvieringe moontlik te maak. Netwerk24 help met die bekendstelling van die redakteurskamer wat voorverlede jaar van die ou Volksblad-gebou na NALN geskuif is.

Stuur ʼn e-pos aan Annelien Diedericks na [email protected] om bywoning te bevestig. Toegang is gratis. Hou ook Vriende van NALN se Facebook-blad dop om meer oor die geleenthede te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Kleinnood vir voortbestaan van Afrikaans. Pragtige gebou. Behoud uiters noodsaaklik

kaplyn ·

Ek hoop nou net nie dat die gebou ook soos die BFN stadsaal afgebrand gaan word nie. Die gebou (NALN) is langs die Appelhof gelee en die afgebrande ou Stadsaal is skuins agter NALN gelee. Die ou Stadsaal is gerestoreer, maar is nie naastenby dieselfde soos dit was voor dit afgebrand is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.