Diabetes is ʼn siekte wat nie omgee oor jou ouderdom nie, nie omgee oor jou velkleur nie en ook nie of jy ʼn man of ʼn vrou is nie. Boonop raak die siekte miljoene mense reg oor die wêreld.
Lurina Fourie wat self met Tipe 1-diabetes (T1D) leef en die The Glucose Glitch-blad op Facebook bestuur, het ʼn liedjie geskryf wat deur haar man, Steyn Fourie, ʼn sanger, opgeneem is om hoop te bring vir die lyers van die siekte, en om ook meer lig op die saak te werp.
Die “Attitude of Gratitude” video is uitgereik in die aanloop tot November, wat Diabetes-bewusmakingsmaand is. Wêrelddiabetesdag word ook Donderdag gevier.
T1D, wat ook bekend staan as insulien-afhanklike diabetes, is volgens die Mayo-kliniek ʼn chroniese siekte wat voorkom wanneer ʼn mens se pankreas bitter min of geen insulien vervaardig nie. Insulien is die hormoon wat suiker (glukose) toelaat om deur te syfer na selle, sodat dit energie kan vervaardig.
Die siekte kan nie genees word nie, maar kan behandel word deur die bloedsuikervlakke te beheer, ʼn dieet te volg, leefstylaanpassings aan te bring en ʼn daaglikse insulieninspuiting.
“Die doel van die video was om te wys dat T1D universeel is, en nie op enige ouderdom of kleur pik nie. Ek het op verskeie sosialemediaplatforms vir mense gevra om betrokke te raak deur hul foto’s in te stuur en dit is juis wat die projek so uniek maak: Dit was ʼn Suid-Afrikaans gebore idee, wat in ʼn internasionale gemeenskapsprojek verander het,” vertel Fourie.
Sy sê dat sy spesifiek op T1D gefokus het omdat sy self op 16 daarmee gediagnoseer is en reeds 16 jaar met die siekte leef. “Hoe meer ek met ander diabete gesels, besef ek dat soveel mense net ʼn bietjie hoop of motivering nodig het, om te voel dat hul nie alleen is nie en dat iemand wel hul realiteit verstaan. Die jongste seuntjie in die video is 18 maande oud en die oudste oom is 80 jaar oud en hy leef al 73 jaar met Tipe 1-diabetes, wat ʼn mylpaal!”
Die lirieke meld egter nêrens die woord diabetes nie, maar dit is opbouend en van so ʼn aard dat enigiemand dit kan geniet, want almal word deur hul eie uitdagings in die gesig gestaar.
Die voelgoed-liedjie, sê Fourie, is nie uitgereik om simpatie se soek vir mense wat met diabetes leef nie, maar eerder om inspirasie te bring vir mense wat daarmee leef. Die liedjie het inspirerende woorde en die musiekvideo bevat foto’s van mense van reg oor die wêreld, almal met T1D.
Die trefslae op YouTube is tans net meer as 2 000. “Dit groei stadig, maar dit groei konstant en dit is vir my meer werd as ʼn paar duisend kyke elke dag, want ek weet diegene wat daarna kyk of luister, is iemand wat dit heel moontlik van iemand anders gekry het, omdat dit vir hul iets beteken het en hul glo die ontvanger vir wie hul dit stuur, sal dit ook kan geniet of gebruik.”
Sosialemediagebruikers is reeds gaande oor die lied. Op YouTube, het ene Lisa Knapp gedeel dat sy nie kan wag om die lied aan haar kind, wat aan T1D ly, te wys nie. “Ek is seker die liedjie gaan kliphard en heeldag gespeel word.”
“Dankie vir hierdie pragtige geskenk aan ons gemeenskap,” het Christie Street, nog ʼn YouTube-gebruiker in die kommentaarafdeling gesê.
Fourie sê die terugvoer is hartroerend. “Ek het nooit besef wat die waarde van die liedjie regtig sal wees nie; dit kan natuurlik ook nie gemeet word nie. Wanneer daar iemand met T1D in ʼn huishouding is, word die hele gesin daardeur geraak en die feit dat my man dit kon sing lê my baie na aan die hart, want hoewel ek die diabeet is, leef hy net so intens daarmee dat hy elke woord van die liedjie presies verstaan.”
Fourie sê die liedjie is glad nie vir finansiële gewin geskryf nie. “Dit was sommer net lekker.”
dankie Here vir Steyn en Lurina!!
uiteindelik word diabetes raak gesien en nie net kanker nie!!
diabetes is een van die gevaarlikste sluip moordenaars van alle tye!!