Liedjieboer op pad kansel toe

Anton Goosen, sy verloofde Estie Geldenhuys en Lochner de Kock. Foto: Facebook via Lochner de Kock

Anton Goosen, sy verloofde Estie Geldenhuys en Lochner de Kock. Foto: Facebook via Lochner de Kock

Die sanger Anton Goosen, Suid-Afrika se liedjieboer, het onlangs sy vriendin, Estie Geldenhuys, wat al agt jaar aan sy sy is, om haar hand gevra.

Anton vertel dit het gebeur die aand ná sy 70ste verjaarsdagkonsert. Die paartjie het die vorige aand vir ure gelê en gesels.

Daar was nie oulike maniertjies en iets deftig daaraan nie, het hy gesê. “Ek was nog op ʼn high van my konsert die vorige aand. Ons het gelê en lag en gesels. Ek het haar toe in die oë gekyk en gevra ‘wanneer trou ons?’” het Anton vertel.

Sy het begin lag. “Ek het gesê jy is laf, man. Jy is net bly oor jou konsert,” het Estie vertel. Sy is ʼn fotograaf, maar studeer deesdae afstandsleer by die Noordwes-Universiteit.

“Hy het weer gevra en ek het weer gelag. Toe hy ʼn derde keer vra, was daar erns in sy oë. Ek het geweet hy bedoel dit en ek het onmiddellik ja gesê.”

Estie sê Anton het met ʼn groot glimlag die volgende dag heeltyd vir haar gesê ‘jy het ja gesê’. “Toe sê ek vir hom mens is nie agt jaar saam met iemand om nee te sê nie.”

Anton vertel hulle het voor die tyd op die internet gekyk wat die regte ding is om te doen. “Ons het op die internet gelees dis deesdae seksisties of iets om die ouers te vra of jy met ʼn vrou mag trou. Ek het toe maar die ouers gevra vir hulle seën. Dié het hulle met ʼn glimlag gegee.”

Hy sê die familie is baie bly oor hulle verlowing. Anders as mense wat altyd “stories” het en nie verstaan dat liefde nie grense het nie. “Ek was nog besig om aan haar ma te verduidelik oor die storie, toe kom die ‘ja’ al. Die familie jaag ons baie aan, maar ons maak nog plannetjies,” vertel hy skertsend.

Anton sê hy weet nie of daar ʼn spesifieke oomblik is wanneer jy weet jy het jou sielsgenoot ontmoet nie, maar dat sy ʼn sielsgenoot is, is gewis. “As jy net iemand kry wat jou nie moeilikheid gee nie en saam met jou goed kan doen, is dit genoeg. Sy is dit.”

Die paartjie het nog nie ʼn datum vasgemaak vir die troue nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.