Liefde en sorg vir Pretoria se weggooibabas

(Argieffoto: Unsplash)

Enige ma van ʼn pasgebore baba sal vir jou sê jy is laf wanneer jy haar vra wanneer die volgende baba op pad is – sy slaap immers tans bitter min en kan nie eers begin om te dink waar haar krag vir nóg ʼn baba vandaan sal kom nie.

Vir Jeanette Birrell, stigter van onder meer die Swallow’s Nest Nursery en Tshwane Place of Safety-organisasie in Waterkloof Heights, Pretoria, is die teenoorgestelde egter waar: Sy sorg tans vir ses pleegsorgbabas wat almal by hospitale of polisiestasies deur hulle ouers agtergelaat is.

Die organisasie het vyf huise reg oor Pretoria, waar babas en peuters liefde en sorg ontvang. Hulle het ook sowat 200 kinders wat in 80 pleeghuise in Pretoria woon. In sommige gevalle word die kinders herenig met hulle families, maar in die meeste gevalle word hulle groot in huise waar hulle geplaas word.

Buiten die gewone behoeftes van ʼn baba, is hierdie babas en peuters ook erg mishandel en ondervoed, ly aan HIV of TB en toestande soos Down se sindroom, is prematuur gebore en het hart- en longkwale wat deurgaans mediese sorg verlang. Van die babas ly boonop aan onttrekkingsimptome omdat hulle geboortema’s dwelmmisbruikers is.

Die apteekgroep Pharma Valu het onlangs op die Good Morning Angels-program op Jacaranda FM benodigdhede soos bottels, fopspene en drinkbekertjies ter waarde van R200 000 aan die organisasie en Jeanette se uitgebreide familie van versorgers geskenk.

By Jeanette se Swallow’s Nest sorg sy spesifiek vir babas wat prematuur gebore is en wat aan onttrekkingsimptome ly.

Jeanette Birrell. (Foto: Tshwane Place of Safety)

“Ek het 20 jaar laas deurgeslaap,” sê Jeanette, wat in Maart 2001 haar eerste pleegsorgbaba ingeneem en sedertdien 187 babas in haar eie sorg gehad het.

“Dit is vir my lekker. Dit is harde werk en partykeer ʼn bietjie gek, maar dit is uit en uit my passie. Hoe meer babas ek het, hoe lekkerder is dit,” sê sy.

Birrell vertel sy het as 18-jarige in die polisiediens begin werk en het later die skuif na die korporatiewe wêreld gemaak. Toe haar eie seun 30 jaar gelede prematuur gebore word, het sy egter besluit om uit die korporatiewe bedryf te bedank en voltyds by die huis te bly.

Dit was nie lank voor die rooimiere begin byt het nie. “Enige kind wat deur trauma gegaan het, hoort in ʼn normale huis waar hulle normaliteit kan ervaar. Ek het hande gevat met die Abba-huis, wat destyds sy deure gesluit het.”

Sy en haar man, Lloyd, het eers na agt babas gekyk voordat hulle die Tshwane Place of Safety in 2003 gestig het. Dié organisasie het tot op hede ʼn verskil in 1 253 kinders se lewens gemaak.

Jeanette en Lloyd het twee van hulle eie kinders, ʼn 30-jarige seun en 28-jarige dogter wat ook in Desember die egpaar se eerste kleinkind, ʼn seuntjie, ryker geword het. Sy het ook ‘n 13-jarige aangenome dogter.

Sy vertel haar seun se premature geboorte het haar ʼn sagte plekkie vir babas wat prematuur gebore is, laat ontwikkel. Tog is dié taak nie sonder sy uitdagings nie.

“Babas wat prematuur gebore is, is hoërisiko-babas, want hulle kan enige tyd apnee-aanvalle kry of selfs wiegiedood. Hulle moet elke twee ure, dag en nag, gevoer word, afhangende van hoe groot hulle is natuurlik.

“Sogenaamde kangaroo care, waar babas met hulle velletjies direk teen joune lê, is ook iets wat vir my baie belangrik is. Met die babas wat aan onttrekkingsimptome ly is dit effe anders, want hulle wil nie vasgehou word nie en skree 24 uur van die dag van pyn. ʼn Mens kan weens die feit dat hulle reeds aan dwelms verslaaf is ook nie vir hulle enige pynmedikasie toedien nie,” verduidelik sy.

Met ses babas en ʼn groot organisasie om te bestuur, is Jeanette se dagboek elke dag stampvol. “Elke dag lyk anders, maar oor die algemeen is ons tussen 05:00 en 06:00 in die oggende wakker, waarna ek elke baba self bad en aantrek. Dan is dit tyd vir melk of pap en dan vat ek hulle na my ma toe. Sy kyk na hulle tot 16:00 sodat ek kan sorg dat die honderde ander babas wat ons hulp nodig het, die aandag kry wat hulle moet.”

Tog raak dit nooit makliker wanneer sy een van haar babas moet laat gaan nie. “As ʼn kind aangeneem word, noem ek hoe ek voel ‘sappy’; Ek is sad, maar ek is ook happy. Soms het ek ʼn beklemming om die hart as ek weet ʼn kind gaan terug na ʼn plek toe waar daar nie voldoende sorg is nie, maar ongelukkig is dit ook iets waarmee ek oor die jare moes vrede maak.

“Ek het nie baie tyd om oor ʼn baba te rou nie, want die volgende dag is daar weer ʼn nuwe een wat my volle aandag verg. As een van my babas gaan, tap ek daardie aand vir my ʼn warm bad en ek huil my oë uit. Ongelukkig moet ek sterk wees en aanbeweeg. Ek sien elke dag soveel hartseer, maar ek sien ook soveel wonderwerke. Dit is die wonderwerke wat dit die moeite werd maak.”

Besoek die webwerf om ‘n skenking te maak of kontak met die Tshwane Place of Safety te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

baie sterkte jeanette, ek glo dat die Here dit raaksien en ek glo dat Hy jou sal seën en bystaan met elke klein hartjie wat jy versorg
ek bid vir Sy krag aan jou, ek glo daar sal vir julle voorsien word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.