Liefde is … ʼn selfgemaakte geskenk

“Upcycling” is die term wat gebruik word vir die kreatiewe herwinning van afvalmateriaal of onbruikbare, ongewenste items, om nuwe produkte te skep wat waarde het.

Dit is meer as net die hergebruik van alledaagse weggooigoed. Jy moet die oorspronklike doel van die voorwerp buite rekening laat en met heeltemal nuwe oë daarna kyk.

Maak iets moois vir jouself, jou ma of jou geliefde hierdie Valentynsdag of enige ander spesiale dag! 

draadharthangertjieDraadharthangertjie

Jy het nodig:

  • dik draad wat maklik buig
  • tang
  • dun draad
  • leerbandjie of toutjie
  1. Vorm ’n draadhart so groot soos jy verkies met die dikker draad.
  2. Begin van die onderpunt van die hart en draai die dunner draad om.
  3. Steek die punt van die draad weg dat dit nie sigbaar is of aan iets kan vashaak nie.
  4. Bind die leerbandjie of toutjie aan elk van die boonste punte van die hart.

lego-oorbelleLego-oorbelle

Jy het nodig:

  • Lego-blokkies
  • dik naald of speld
  • metaalstafie of draad
  • oorbelhakies
  • tang
  • kers
  1. Verhit die naald of speld versigtig oor die kers. (Die vlam van ’n gasstoof werk ook baie goed.)
  2. Maak ’n gaatjie regdeur elke Lego-blokkie.
  3. Druk die metaalstafie of draad deur die gaatjie.
  4. Buig die punt om sodat die hakie daaraan gehaak kan word.
  5. Haak die oorbelhakie aan die geronde punt.

koperdraadringKoperdraadring

Jy het nodig:

  • dun koperdraad, ongeveer 1 m lank
  • ’n ronde vorm waarom die draad gedraai kan word
  • krale – ongeveer vier van 5 mm in deursnee
  • tang
  1. Draai die draad ongeveer agt keer om die vorm.
  2. Draai die ring styf vas met die draad.
  3. Ryg die vier krale deur die draad.
  4. Draai die ring net na die krale weer styf vas.
  5. Draai elke kraal teen die ring vas met die draad wat oorbly.
  6. Steek die punt van die draad weg tussen die krale.

sleutelborsspeldSleutelborsspeld

Jy het nodig:

  • sleutel – nie te groot nie, anders kan die borsspeld dalk te swaar raak
  • kraletjies of versierings om op die sleutel te plak
  • sterk handwerkgom
  • borsspeld-speldjie
  1. Sorg dat die sleutel mooi skoon is.
  2. Versier die sleutel met versierings van jou keuse.
  3. Plak die speld agterop die sleutel vas.

magneetbordMagneetbord

Jy het nodig:

  • leë, skoon koeldrankblikkies
  • skêr
  • hamer
  • spykertjies
  • houtbord in die grootte van jou keuse
  • portrethakies
  • portretdraad of tou
  1. Sny die blikkies oop. Dit is nie nodig om ’n blikskêr te gebruik nie; ’n stewige skêr met kort lemme werk goed.
  2. Kap die blikkies op die houtbord vas.
  3. Sorg dat daar nie blik oor die kant van die houtbord uitsteek nie, dit kan iemand sny.
  4. Draai twee stewige portrethakies aan die agterkant van die bord in en maak die draad of tou daaraan vas dat jy die bord kan ophang.

opgedollie-voorblad-finaalBron: Opgedollie: Upcycling-projekte, Thana Nel, LAPA Uitgewers (2017)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.