Die liefde, ʼn koestering, onmisbaar, dis wat ons het. Liefde is ʼn seëning, goudkleurige hennetjies, ʼn boodskap vol spelfoute…. Ons het ʼn paar skrywers gevra wat liefde is.
Lien Botha … die skadu van bome, klank van voëls, swem saam met visse, vrede, vergifnis, veldpaadjies, samesyn, tuis, rakke vol boeke met tyd om te lees.
Rachelle Greeff … my twee goudkleurige henne.
Sophia Kapp … ʼn tweesnydende swaard, ʼn troos, ʼn dolk, ʼn wederopstanding, ʼn verplettering, ʼn beskutting, ʼn bedonnering, ʼn wilsbesluit, ʼn rit op ʼn tuimeltrein, ʼn stil hawe, ʼn swerftog in die woestyn, ʼn seëning, ʼn seerkry, ʼn amen, ʼn requiem. Niemand is daardeur onaangeraak nie en niemand kom ooit ongeskonde daarvan af nie. Almal sweer dit op ʼn kol af, almal glo dit is vir hulle beskore. Maar een ding is seker: Van al die goed wat ons het om in hierdie gebroke wêreld in te stort, is die liefde die enigste ding wat die mag en die vermoë het om dit ten goede te verander.
Debbie Loots … om met sonsondergang op Seepunt se promenade te kyk hoe gewone mense tango-dans op die maat van ou Argentynse musiek.
Santie van der Merwe … ʼn oorkoepelende begrip vir diep deernis, respek en toegeneentheid. Dit moet eers in jouself begin voordat dit in ander aangesteek kan word. Liefde is nooit stagnant nie. Dit verander en groei en dit gedy in onselfsugtigheid. ID du Plessis sê dit die beste: “die liefde neem ʼn duisend vorme aan”.
Kobus Geldenhuys … wanneer ek in my geliefde se oë kyk en diep die ewigheid insien.
Kristel Loots … soms, maar nie áltyd ’n m**rse ruiker rose wat jou hooikoors gee nie, ook nie ’n boks blink sjokolade wat jou vetmaak nie. Dit steek soms, goed gekamoefleer, kop uit in die alledaagse dinge. Jy erken dit in ’n man wat vrekbang is vir kieme wat met ’n gepynigde uitdrukking op die gesig jou rug Vicks smeer as jy vrot van die verkoue is. Liefde wys wanneer jy die pitlose, suikersoet kroon van die waatlemoen kry terwyl die liefde van jou lewe spoeg-spoeg aan die pitte die minder soet skywe eet.
Dis ’n sexy boodskap vol spelfoute, met ’n stomp potlood geskryf teen die yskasdeur.
Liefde is verskuil in ’n skielike soen in jou nek wat die hoendervleis oor jou hele lyf laat uitslaan terwyl jy staan en skottelgoed was.
Liefde is vir almal – dit vra nie hoe oud jy is óf hoeveel jy weeg nie.