Liefde Wen se rugbyprojek ʼn reuse sukses tydens en ná Wêreldbeker

11987088_921154137950405_259333232303511870_n.png

Foto: Facebook

Die liefdadigheidsorganisasie Liefde Wen het tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi hul Groen en Goud-projek van stapel gestuur. Dié projek was daarop gefokus om klere, selfoonbybehore en ander produkte op hul webwerf te verkoop om geld in te samel vir ʼn rugbyspan in Lusikisiki, Transkei.

“Dit was ʼn massiewe sukses,” het Walton Krüger, die organisasie se verteenwoordiger in Lusikisiki, vertel. Hy het ook die kinders afgerig. “Ons het net so bietjie meer as R10 000 met die verkoop van die produkte ingesamel. ʼn Meisie in Australië het vir ons R5 000 geskenk en ʼn man van Springs het vir ons 50 rugbyballe gegee.”

“Ons het ook ʼn skenking gekry van Travel & Sport se Social Initiative om vir een van die spanne toerusting soos truie en toks aan te skaf, sodat hulle darem soos ʼn regte span kan lyk,” het hy geskerts. “Met ons vennootskap kan ons hierdie intiatief aanstaande jaar baie meer uitbrei en selfs probeer om vir die outjies blootstelling en wedstryde buite die Transkei te gee.”

“Die rugbyspeler Mpho Mboyizo is deur Travel & Sport Transkei toe gebring om met die spelertjies te kom gesels en vir die finale wedstryd skeidsregter te wees. Aangesien hy van Lusikisiki af kom, was dit baie spesiaal,” het Walton verder vertel.

Al het die Wêreldbeker nou tot ʼn einde gekom, het die projek nie gaan stilstaan nie. “Ons het ook uiteindelik terugvoer ontvang van die Grens Rugby Unie en hulle gaan ons help met die opleiding van afrigters.”

Die klein Oos-Kaapse spelers het nie uitgemis op die wedstryde tydens die rugbytoernooi nie. “Ons het ʼn projektor en ʼn groot muur gehad waar ons vir die outjies die wedstryde gewys het. Die ander mense in die gemeenskap het kom saam kyk,” het Walton uitgebrei. “Hulle het byvoorbeeld opgelet na die Kiwi’s se karakter op die veld en dit het vir een outjie ook baie beteken om die foto te sien waar Sonnybill Williams vir Jesse Kriel troos na die wedstryd toe die Bokke teen hulle verloor het. Hy sê hy het nog nie sulke sportsmanskap in ander sportsoorte ervaar nie.”

“Die publiek het ook baie positief gereageer op die veldtog. Dat mense soos onder andere die Springbokspelers, Elma Smit en Leandie du Randt die produkte se voetspoor versprei het op sosiale media, het natuurlik die verkope aangehelp,” het Walton gesê.

Bouwer Bosch, stigter van die organisasie, het Walton se stelling beaam. “Dit is altyd lekker om te sien as jou helde inkoop op iets en wil help om ons land ‘n beter plek te maak.  Die publiek se belangstelling was ongelooflik en ek dink ons het baie geleer in terme van hoe om nuwe projekte aan te pak in die toekoms.”

Walton kon nie uitgepraat raak oor die sukses nie. “Dit is fenomenaal om deel te wees van sulke projekte, waar ons kan sien hoe mense saam staan om iets te bereik,” het hy vertel. “Dit is regtig ʼn mooi ding om te sien hoe mense wil help, ná al die slegte goed wat mens daagliks in die nuus lees.”

“Die “pyl-in-my-hart-oomblik” was toe die een spelertjie sy been gebreek het toe ʼn losgemaal omgeval het en ek met hom op die grondpad hospitaal toe is. Daar aangekom het hy op die bed vir my, ten spyte van sy besering, gesê: ‘I like this rugby. I want to be a Springbok one day.’”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.