Lielie sê “ek sien myself in die bosveld.”

Lielie Viljoen

Lielie Viljoen

Lielie Viljoen, van die Hoërskool Waterkloof, spog met ʼn indrukwekkende 10 onderskeidings in die matriekeindeksamen. Sy het A’s inkatrol vir Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, besigheidstudies, fisiese wetenskap, lewenswetenskappe, rekeningkunde, geskiedenis en geografie.

Hierdie spogleerling van Pierre van Ryneveld wil graag in pa Ampie se voetspore volg en ʼn wildsveearts word. Sy het aansoek gedoen by die Universiteit van  Pretoria. Haar ma, Noeline, is ʼn rekenmeester en entrepreneur. Lielie het ʼn jonger broer, Braam, wat verlede jaar in graad 10 was.

Sy beplan om die vakansie tuis in Pretoria en op hul plaas in Limpopo deur te bring. Sy is baie lief vir die natuur en is byna elke naweek op hul wildplaas teen die grens van die Botswana.

Lielie ry graag perd en sê enigiets buite of in die natuur maak haar die heel gelukkigste. Sy geniet dit om aktief te wees en het ʼn groot voorliefde vir sport.  Sy doen crossfit elke oggend en kan nie ʼn uitdaging soos ʼn warrior race of pretloop weerstaan nie.  Sy speel ook graag hokkie.

Sy geniet ook drama, toneelspel, redenaars, debat en gedigte. Sy is baie lief vir taal en veral vir Afrikaans. Lielie het verskeie kere tot die finaal van die nasionale ATKV-kompetisie deurgedring.  Vir drama het sy deur die jare by verskeie kunstefeeste ʼn A++ ontvang. Sy het ook talle kere die kunstefeeste se poësie-toekenning gekry.

Lielie het vanaf graad 8 tot 12 na die nasionale finale rondte van die Wetenskapekspo deurgedring. Sy het navorsingstake ingeskryf, waaronder ʼn inenting vir hartwater wat sy ontwikkel het. Sy het ook ʼn alternatiewe fraktuurbehandelingstegniek toegepas en ʼn “R-track”-stelsel om renosterstropery te keer, ontwerp.

Haar lewensleuse is:

wen of verloor – ek sal altyd my bes probeer.

Sy eer haar ouers vir haar akademiese sukses: “My ma het my slim gemaak en my pa het my sterk gemaak.” Sy sê haar oorywerigheid is soms tegelyk haar grootste bate en grootste kruis. Sy bewonder ook haar oupa, want hy het sy hele lewe elke dag sy beste gegee en nooit ʼn enkele mens leed aangedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.