Liezel is op-haar-merke-en-gereed vir Tokio

Liezel Gouws in die AGN-liga by Tukkies se kwalifiserendede byeenkoms vir Tokio. (Foto: Andries Kruger)

Deur Rentia Mynhardt

Nadat Liezel Gouws op vyfjarige ouderdom ʼn beroerte gehad het en dokters haar net twee jaar gegee het om te leef, berei sy haar 17 jaar later vir haar tweede Paralimpiese Spele voor.

“Ek hou daarvan om mense verkeerd te bewys as hulle dink dat ek iets nie kan doen nie,” vertel sy. Soos wat ons gesels, kom ek vinnig-vinnig agter dat dit beslis iets is wat sy in haar 22 jaar al ʼn hele paar keer reggekry het.

In 2015 verower sy vir die eerste keer die 800 m-wêreldrekordtitel tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskapsreeks, waarna sy haar eie rekord in 2018 verbeter om ʼn tweede keer met hierdie titel weg te stap. Van grootkop is daar egter nie by dié blondekop sprake nie. As ʼn mens oor haar prestasies lees, staan jy eintlik verstom oor haar nederigheid; die voete plat op die aarde. Sy maak geen geheim daarvan dat die Here haar rots is nie – dit is wat haar anker en regop hou.

“Ek moes in 2015 ʼn voetoperasie kry weens ʼn stresfraktuur. Dit het my vir ʼn hele ruk van die baan af weggehou. Op die ou einde het ek net ʼn bietjie meer as twee maande gehad om my vir die 2016- Paralimpiese Spele in Rio voor te berei. Ek was toe 16 en die jongste vrou in die span.”

Toe talente uitgedeel is, het sy nie net voor in die atletiekry gestaan nie. Hierdie slimkop (oudleerder van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp) slaag in 2017 met nie minder nie as sewe onderskeidings en beland toe by die NWU waar sy tans ʼn vierdejaarstudent in aptekerswese is. Die einde van haar studie is nog geensins in sig nie – sy begin volgende jaar met navorsing vir haar meestersgraad. Dat sy ook hiervan ʼn groot sukses sal maak, is in my oë reeds ʼn uitgemaakte saak.

In 2019 is sy vir die eerste keer alleen oorsee om aan ʼn kwalifiserende byeenkoms vir vanjaar se Spele deel te neem; 20 jaar oud en sonder ʼn afrigter. In Parys geland, is haar tas skoonveld. Ná ʼn groot gesukkel spoor sy eers ʼn dag later haar bagasie op, en waar dit enige mens van vlees en bloed lelik sou ontsenu, hardloop hierdie lang, lenige boertjie toe twee dae later beter tye as in die voorafgaande maande om die kortlys vir Tokio te haal!

“Ek het die Here voor elke wedloop gevra om my te lei en dat Hy self my Afrigter moet wees. Al was dit sulke slegte en deurmekaar omstandighede, het ek juis in daardie tyd soveel guns ervaar.”

Atlete in Potch kan oor die algemeen tussen afrigters kies en keur, maar om iemand te kry wat bereid én bevoeg is om ʼn para-atleet af te rig, is ʼn perd van ʼn heel ander kleur. Vir lank was Liezel die enigste gestremde atleet aan die NWU en moes sy noodgedwonge ʼn jaar lank (slegs met behulp van haar skoolafrigter se oefenprogramme) eintlik op haar eie oefen. Sy het intussen van Shaun Bownes, voormalige SA-hekkiesatleet, te hore gekom.

“Toe ek hom nader en vra om my af te rig, was hy dadelik so positief en opgewonde. Ek oefen van September verlede jaar af by hom saam met ʼn groot oefengroep. Dis vir my so lekker om saam met die atlete te oefen wat nie gestrem is nie, want dit druk my juis om beter te presteer.”

Om sielkundig sterk te bly is vir geen atleet wat op hierdie vlak deelneem ʼn gegewe nie, en soms begin jou kop met jou speletjies speel. Nadat Liezel vir ʼn lang ruk met haar tye in veral die 400 m gesukkel het, het sy naderhand ʼn sielkundige struikelblok teen hierdie item begin opbou. Dit ten spyte daarvan dat sy fiks en fisiek op ʼn baie goeie plek was. Omtrent twee maande gelede het Anuska van der Merwe, Liezel se oefenmaat met ʼn sielkunde-agtergrond, begin om haar met ʼn paar gemaklike en informele motiveringsessies te help om ʼn kopskuif te maak. Kort voor lank het Liezel nie net weer haar beste tye gehaal nie, maar ook daarop verbeter. Sy glo ná dese weer in haarself en sy het ʼn op-jou-merke-gereed-glinstering in haar oë terwyl sy rustig haar cappuccino sit en drink en geduldig al my vrae beantwoord.

“Dit voel vir my asof ek ʼn geleentheid het om deure vir ander gestremde atlete oop te maak en om hulle bewus te maak van al die geleenthede waarvan hulle dalk nie geweet het nie.”

Liezel Gouws (middel) tydens die 2016- Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro. (Foto: Wessel Oosthuizen)

Weens haar gestremdheid aan die een kant van haar liggaam, neem sy in die T37-afdeling deel en sal sy, volgens die voorlopige program, op 27 en 30 Augustus vir die 200 m- asook die 400 m-uitdunrondes in Tokio aantree.

Liezel is dankbaar dat haar ouers, en vurigste ondersteuners, haar van kleins af gemotiveer het om aan sport deel te neem, maar nooit druk op haar uitgeoefen het nie.

Op my vraag oor haar eetgewoontes, antwoord sy dat sy nie ʼn streng eetplan volg nie: “Ek eet baie gesond, maar het ook ʼn groot soettand. Ek sal ʼn sjokolade of roomys eet as ek lus is daarvoor sonder om skuldig te voel. Ek eet verskriklik baie! Ek eet tot my boeties onder die tafel in!”

In die village waar die atlete tuisgaan, is daar gelukkig kos in oorvloed waar jy letterlik enige ding onder die son kan eet, soveel soos wat jy wil. Die eetsaal, wat 24 uur beskikbaar is, kreun behoorlik onder die verskeidenheid kosse en dus hoef jy nie bekommerd te wees dat allerhande vreemde Oosterse disse dalk nie met jou sal akkordeer nie.

Wanneer sy ʼn blaaskans het en nie – as deel van haar praktiese ure – inentingspuite optrek nie, geniet sy die natuur, kamp, bordspeletjies en kosmaak, en sal sy nog graag ʼn halfmarathon en driekamp wil aandurf.

Suid-Afrikaners sal vandag – tydens die openingseremonie – op die punt van hulle stoele sit en wag vir dié spanlede in vellies om hulle opwagting te maak.

Gaan groot, Liezel!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Rentia

Sterkte Liezel asook aan die res van die span!