‘Liksens’, ‘moewies’ deel van nuwe Tesourus

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Afrikaans is so lewendig soos nog nooit tevore nie, meen prof. Leon de Stadler, voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum. Volgens De Stadler groei, bruis en knor die taal behoorlik. Soms sukkel dit, maar dit ontwikkel die hele tyd.

De Stadler het op 14 Mei tydens ʼn middagete-gesprek met prof. Rufus Gouws van die US se departement Afrikaans en Nederlands gesels oor die hersiene uitgawe van die Tesourus van Afrikaans. Dié tesourus het vroeër vanjaar verskyn en is die eerste hersiene uitgawe sedert 1994. Dit is deur Pharos, ʼn druknaam van NB Uitgewers, uitgegee.

“Sedert die verskyning van die vorige tesourus het die Afrikaanse woordeskat baie sterk gegroei,” sê De Stadler. “Dink maar aan die woordeskat wat betrekking het op moderne tegnologie, maar veral ook aan die pandemiewoordeskat wat Afrikaans verryk het.”

Die Tesourus van Afrikaans bevat meer as 140 000 inskrywings in 855 betekenisvelde waarvan 20 000 nuwe inskrywings is. Dit het kruisverwysings, idiome, vaste uitdrukkings en ook meer inskrywings uit die variëteite van Afrikaans.

Die ironie is dat die taal daagliks soveel groei dat die manuskrip, toe dit reeds op pad na die drukkery was, nie al die jongste woorde bevat het nie. Woorde soos bioborrel, druppeloordraagbaar, superverspreider, afstandskepping, voetgroet, elmboogkug en superverspreidergeleentheid is nie in die jongste uitgawe opgeneem nie.

De Stadler, ook voorheen verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, het saam met sy vrou, Amanda, die Afrikaanse tesourus bygewerk. Hulle het baie tesourusse geraadpleeg en uiteindelik op dr. L Brouwers en dr. F Claes se Het Juiste Woord, die grootste inventaris van sinonieme, styl- en betekenisvariante, uitdrukkings en teenstellings in Nederlands, as riglyn besluit.

Uiteraard moes die onderliggende konseptuele struktuur van die woordeboek wel aangepas word om die Afrikaanse leefwêreld te weerspieël. Met die hersiening van die tesourus is die struktuur behou, maar die interne organisasie van tesourusartikels wel vernuwe en verbeter.

De Stadler het bygevoeg dat dit vir hulle veral lekker was om ook op die taalvariëteite te kon fokus met die opname van vorme soos annerlik, jits, newwer, newwermaaind, nema, voorlik, omtes, oralster, klossie (kleinhuisie), moewies, habba, piemp, liksens, mouter, skorro-skorro, loslappie, komvandaan, barakat, ottermaklottertjie, boom en koelpatats (dagga), madjat, sjoekran, properse en sterkgevreet (sterkgevriet) (sterk van gees). Daaruit blyk juis die rykheid van die Afrikaanse taalskat.

“Dit is belangrik om erkenning aan die variëteite van Afrikaans te gee en duidelik te maak dat ons aan hulle aandag moet skenk. Natuurlik moet ons nog meer doen – die meer as 300 inskrywings wat opgeneem is, is maar net ʼn begin.”

De Stadler sê hy het opnuut bewus geword van Afrikaans as ʼn taal wat lewe. Volgens hom wys die hersiene tesourus juis op dramatiese wyse hoe lewendig die taal is.

“Dit was fassinerend om te sien wat met Afrikaans gebeur het in ʼn tydperk van meer as 20 jaar. Die taal lewe, jy voel heeltyd die pols daarvan, en die hersiene tesourus laat hoor hierdie hartklop in die opname van duisende nuwe inskrywings.

“Enigiemand wat vandag vir jou wil sê Afrikaans is besig om dood te gaan; ek het slegte nuus vir daai persoon. Dit is doodgewoon nie so nie.”

De Stadler meen almal wat skryfwerk doen, sal by die hersiene tesourus baat, maar hy het bygevoeg dat daar ook ander “ruimtes” is waarin die boek gebruik kan word.

“Dit was veral verblydend om byvoorbeeld te sien dat die boek die aandag van onderwysers getrek het en dat hulle meer wil weet oor hoe dit in die klaskamer gebruik kan word.”

De Stadler het gesê hulle is by verskeie geleenthede genooi vir onderhoude met onderwysers om hulle in te lig hoe om die tesourus ten volle te benut tot voordeel van die kinders.

  • Luister hier na ʼn onderhoud met Leon en Amanda de Stadler. Hulle het met Maroela Media gesels oor die verskil tussen ʼn verklarende woordeboek en ʼn tesourus, asook die waarde van slengwoorde en nuutskeppings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

…. Stellenbosch… say no more… en so word twak ook deel van ons woordeskat en die Kaapse word onse s’n… die ware eienaars en skeppers van onse spreektaal en onse eetgewoontes en onse tv en onse universities en alle onse wynplase en onse stem allemaal saam dattie lant aan diegenese eie nare trug gegie moet wòrre… moi so prof ve jou se help…

Johnny ·

Dat fonetiese skryf van Engelse woorde wat met ‘n Afrikaanse uitspraak gebesig word, nou gesien word as Afrikaans, veral waar daar reeds goeie Afrikaanse woorde bestaan, is tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.