Lindie Strydom: Agterdeur se soek en vind

Argieffoto (Foto: dimitrisvetsikas1969, Pixabay)

Onvergenoegd, Ondankbaar, Ontevrede en Teleurgesteld is vier vriende wat dag in en dag uit by die agterdeur sit. Hulle torring en karring met hulle skroewedraaiers aan die skarniere. Praat aanhoudend oor hulle slegte werke en slegte huwelike, die slegte hand wat vir hulle gedeel is. Hulle draai ʼn bietjie en praat ʼn bietjie, tot die agterdeur op ʼn dag oopswaai en hulle verbaas vir mekaar kyk en sê: “Die agterdeur het vir ons oopgegaan! Dit moet ʼn teken wees. Ons moet hier uitgaan op soek na ʼn beter werk en ʼn beter huwelik en dalk deel iemand daar buite vir ons ʼn ander lot kaarte om mee te speel. Hoe kan jy ooit voor kom in die lewe as alles teen jou tel?” Hulle pak net die stel gereedskap op en skuif aan na die volgende agterdeur waar hulle gaan sit…

Jaloesie staar by die venster uit. Haar oë is vasgenael op elke beweging van haar bure. Haar man waai vir haar in die voortuin waar hy ʼn boom vir hulle plant, maar sy sien niks, want die bure het tuindienste en ʼn landskapargitek wat vandag kom afmetings doen. Toe sy uiteindelik geïrriteerd omdraai op soek na haar koffie en beskuit wat laat is, het haar man reeds sy tas gepak en die pad gevat. Hy en die kinders bly nou op ʼn ander dorp.

Aanspraakmaker sit arms gevou op die sypaadjie en wag vir terugvoer. Hy vertel vir die manne wat besig is om sement te meng om die slaggate mee toe te gooi, van sy hope briewe aan die regering, kerke en NWO’s oor die toestand van die paaie. Teen die tyd wat die werkers klaar is met gate in die hoofstraat, hou Aanspraakmaker se storie oor hoe totaal en al useless almal is, nog steeds aan.

Ongelukkigheid kan nie verstaan hoekom niemand onder in die gat by hom wil kom sit nie. Hoe durf hulle vir hom ʼn tou afgooi om mee uit te klim as hy net vra vir bietjie geselskap hier onder in sy gat?

Jaloesie is vasgevang voor die venster terwyl die lewe voor haar oë verby gaan. Ongelukkigheid is vasgevang in ʼn gat en haat die eensaamheid daar onder. Aanspraakmaker is vasgevang op die sypaadjie waar die probleme waaroor hy sit en tob, een vir een hier reg onder sy neus reggemaak geword… En Onvergenoegd, Ondankbaar, Ontevrede en Teleurgesteld sweef weer van agterdeur tot agterdeur – elke keer so verbaas as die skarniere waaraan hulle geskop, gekrap, getorring en geslaan het, die agterdeur finaal laat oopgaan.

Dit wat jy soek, sal jy vind – hetsy ʼn agterdeur of ʼn probleem, ʼn onregverdigheid of nog ʼn rede vir ongelukkigheid. Dit waaraan jy die hele tyd dink en oor tob en op broei sal groei! Klink vir my ons moet nuwe saad begin plant en natgooi en nuut begin soek sodat ons nuut kan vind: oplossings en geleenthede, potensiaal en selfs vrede by die wawyd oop voordeur wat ons heeltyd misgekyk het met ons oog op die agterdeur …

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.