Lindie Strydom: Bou en breek

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Die frase “’n maak-of-breek-oomblik” val nie vir my so lekker op die oor nie. Ek kan nie dink dat enigiets in die lewe óf in ʼn mens se loopbaan afhang van een spesifieke oomblik en as jy hom gemis het, het jy hom gemis nie.

Jo Black sal vertel van daardie spesifieke aand wat hy die regte liedjie op die regte tyd gesing het toe die regte persoon instap en hom hoor. En mense sal sê: “Die res is nou geskiedenis”! Of ek dink terug aan die aand wat ek een van die regisseurs van Egoli op die skouer gaan tik het om te sê ek sal graag eendag ná skool in hierdie sepie wil speel. Vir my en Jo en wie ook al kon daardie “oomblik” moontlik ʼn tipe deurbraak gewees het en die begin van iets, maar daarna volg ʼn daaglikse “oomblik-vir-oomblik”-keuse van wat jy sal maak met hierdie platform of geleentheid wat jy gekry het – gaan jy daarop bou of breek? Ons almal het ʼn “oomblik-vir-oomblik”-keuse of ons ons loopbaan en lewe wil bou of breek, ons huwelik of verhouding met God wil bou of breek, ons reputasie of bydrae tot die koninkryk, werkplek, gemeenskap of stad wil bou of breek.

En dan weet ek ook nie of ek hou van die “of” in die frase nie: “maak OF breek”, want soms hang die einste nuwe bouwerk af van iets wat eers gebreek moet word. Ek sterf aan daardie ou vernietigende gewoontes deur die kweek van nuwe ritmes. Dit voel vir my of “bou en breek” en “breek en bou” wil saam werk! Slaan plat die mure, breek die afstand en bou aan jou verhouding met God of jou man en jou kinders, breek uit die negatiewe gedagtes en omstandighede en bou aan ʼn positiewe bydrae.

Dalk het jy lank lank gelede vasgehaak by ʼn oomblik wat jou “gebreek” het en toegelaat dat dit alles daarna bepaal het. Jy het nooit weer gebou aan enigiets nie. Solank jy vandag nog ʼn “oomblik” of kans het, het jy ʼn keuse of jy vorentoe gaan breek en bou of bou en breek. Mag jy oomblik vir oomblik bou aan ʼn “breek-en-bou”-lewe!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.