Lindie Strydom: Breek die reëls!

Argieffoto (Foto: bosmanerwin, Pixabay)

Ek het eers op 19 Januarie ʼn motto vir die jaar gehad en aangesien ek toe nou reeds die “reëls” gebreek het van die perfekte lysie op 1 Januarie, het ek besluit – dan hou ek maar by hierdie tema vir 2018: #breekdiereëls

My eie uit-die-bloute-hardlopery so sonder plan of oefenprogram het die kopswaai begin en toe het ons oudste seun se atletiekdag die spyker finaal ingeslaan. Dit mag dalk klink soos “fyn brag” (ek is ook maar net ʼn ma) maar hoor asseblief die getuienis van dis nooit te laat nie. Moenie bekommer as jou kind nog nie op vier met klavier begin het nie – daar is hoop!

Ons seun Paul het voor sy skool se huissport op 19 Januarie nog nooit ʼn medalje gewen nie. Laas jaar was hy vierde in die 1 200 m wat hom ʼn op-die-hond-se-stert-plekkie in die skool se atletiekspan gegee het. Ek was tranerig oor hoe mooi hy vir my gelyk het in die atletiekdrag en so dankbaar vir die twee geleenthede waar hy sy skool kon gaan verteenwoordig.

September het hy by ʼn nuwe afrigter begin oefen en ook maar met van beserings tot laringitis en ʼn skeeftrap by die Parkrun gesukkel.

Die atletiekdag kom en Paul is halfvier die oggend al saam met my wakker. Pure opgewondenheid en hope adrenalien omdat hy hier in sy laaste jaar in die laerskool vir die Leeuspan met “vis-blikke-jam-blikke” kan voor gaan! Rêrige atlete is nie dirigente nie. Hy breek al die “reëls”, maar geniet homself gate uit!

As ek sien, hol ʼn geel hempie verby: “Ek het gou die hekkies probeer,” en as ek dink ek gaan op hom op die pawiljoen laat sit dat hy net bietjie tot rus kan kom, kom hy terug met ʼn wysvinger in die lug – “Eerste in die verspring!

Hy wen op die ou end die 100 m, 200 m, 800 m, 1 500 m en die verspring! Ons giggel net oor die tweede plek in die diskus en derde in die hekkies! Maar die mooiste is toe ons die aand huis toe stap en Paul vir ons sê: “Elke keer voor die skoot geklap het, het ek vir die Here dankie gesê dat ek so kan hardloop.”

Loshande die lekkerste dag van sy lewe met geen stres of angstigheid oor ʼn posisie op ʼn podium nie en ek wat nie kan help om te wonder of dit nie juis die verskil gemaak het nie? En so, in die middel van êrens en nêrens, word my 2018 motto gebore: #breekdiereëls … en begin bou!

Breek uit die boksies en hokkies wat jy vir jouself gebou het. Geniet die lewe sonder al hierdie mensgemaakte beperkings! Geniet jou gesondheid, geleenthede en gawes wat die Here aan jou toevertrou het en begin Hom daarmee te verheerlik – ongeag of dit ʼn punt tel op ʼn tellingbord iewers! Hy is ʼn God wat reëls breek! Wat grense oorsteek om lewens aan te raak, kos uit die hemel laat reën en ʼn see oopmaak!

As jy jouself weer vang met frases soos “ek is mos nie ʼn atleet nie”, “ek kan tog nie dit of dat nie”, onthou dis nooit te laat nie, tensy jy self die reël vir ʼn ouderdomsbeperking gemaak het en dan is dit tyd om jou reëls in 2018 te breek!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ek stem 100% ·

Ek stem 100% van breek die reël. Ek rig af per abuis en my breekd ie reël is geen druk om iemand anders se beste te hardloop nie, doen net jou beste en die sukses is ongekend. Dan dank ons die Vader vir al die ekstras, ons wou net ons beste doen, maar kry elke keer soveel meer.

Anna-mari Bouwer ·

Pragtig.Die geheim….Elke keer VOOR hy deelneem se hy dankie.Ek glo dit en leef dit het baie getuienisse daaroor.Rom:4-17.Julle is geseend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.