Lindie Strydom: Die paar sekondes om ʼn brug te bou

Argieffoto (Foto: Freephotos, Pixabay)

As ek stap of ry, is dit met ʼn doel. Jy kan sien ek is iewers heen op pad en gewoonlik haastig! So ry ek die middag van my en my oudste seun se landloopoefening op pad na my aksie-netbal-wedstryd – dit gaan vinnig! My notaboek en dagboek is reeds in die kar, want net na die netbal het ons ʼn vergadering oor die fondsinsameling vir ons kinders se Suid-Kaap toer en tussendeur sê ek gediggies op dat dit by my ore uitkom. Dis Kunsfees op die oomblik!

In die woonbuurt waar ek bly, stap baie mense van die werk af op pad na die treinstasie in Bothalaan. Ouens wat ʼn harde dag se werk agter die rug het en nie die voorreg het om soos ek met ʼn motor lekker vinnig en gemaklik by hulle huise en gesinne uit te kom nie.

Twee ouens kom flink aangestap by die kruising waar ek van plan was om amper net te pause – nie eers te stop nie – toe hierdie gedagte my tref! Die drie sekondes wat ek wag vir hulle om eers verby te stap so saam met ʼn vinnige “hallo!”, is ‘n manier wat ek vandag ʼn brug kan bou in Suid-Afrika!

Ek en my man praat baie met ons kinders oor brug bou: die enkele sekondes wat jy neem om die tannie wat ons pakkies pak, te groet of om plek te maak vir iemand in die verkeer, of die klein bietjie ekstra moeite en tyd wat dit neem om mooi te praat met die karwag wat so gretig aangestap kom om jou met jou pakkies te help – dis klein dingetjies wat my niks kos nie en tog ʼn belangrike brug bou!

Na afloop van my netbalwedstryd is ek weereens op ʼn drafstap om dié slag betyds te wees vir die fondsinsamelingsvergadering. Ek stap agter ʼn vrou wie se skouers duidelik hang. Soos ek met my lang tree verby kom, sit ek net my arm om haar met ‘n “alles lyk nie vandag so oukei nie”… Jy weet iemand se gemoed is vol, as hulle hart sommer daar in die koue tussen die karre onkeerbaar oorborrel – dalk hierdie keer in drie minute in plaas van ʼn paar sekondes. Niemand hou van laat wees nie, maar ek hou ook nie daarvan om die tipe mens te wees wat nie onderbreek kan word in haar “vreeslike belangrike dag” as iemand net ʼn oor wat hoor nodig het nie.

Net soos Rome, word Suid-Afrika nie in ‘n dag gebou nie en ook nie noodwendig met die vyf of 10 jaar bouplanne van belangrike mense in belangrike posisies nie. Daar is broodnodige brug-bou-werk wat elkeen van ons elke dag in so min soos drie minute of soms selfs drie sekondes kan doen.

Lees alle rubrieke deur Lindie Strydom op Maroela Media. 

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genieve ·

Ja Lindie, ek stem 100% saam met jou,self n glimlag kan n verskil maak in iemand se lewe wat met n swaar gemoed loop.

Pieter en Diana Smit van De Rust ·

Veels geluk met verjaarsdag en mag elke dag vir julle geluk bring.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek wil nooit weer ‘n brug bou vir niemand en vir niks! Dis van brug bou dat my nuwe motor erens beland behalwe in my motorhuis, dis van brue bou dat my pa nie meer met ons is nie en dis van brue bou dat ek agtergekom het dat ek eweskielik versiende is en my verstand moet gebruik en daai brug NET eksklusief moet bou tussen my en “mense van my kerk …..” Laat die ander maar hul eie brue tussen hul eie mense bou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.