Lindie Strydom: Die ‘per ongeluk’-doelwit

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Ek het onlangs “per ongeluk” ʼn doelwit bereik wat my laat dink het oor die hele wetenskap van doelwitstelling. Ek is van daai wat dae lank beplan, uitskryf, invul, uitwerk en afbaken, maar ook teen dag twee, as ek iewers nie by die plan gehou het nie, teleurgesteld sal opgee!

Ek het ʼn 10 km-padwedloop in stormsterk wind gaan hardloop op die eerste dag van ons vakansie, die 9de Desember. Iemand het vir my sussie se nuwe vriend gesê ek hardloop, maar niemand het hom vertel hoe ver nie en ek vermoed om vir ousus te probeer beïndruk, word ek toe ingeskryf en saamgesleep.

Die oggend ná die wind ons darem in ʼn redelike tyd oor die wenstreep gewaai het, is daar ʼn strandresies op die sand wat vir ons, niks-gewoond-Gautengers toe baie opwindend klink en die Maandagoggend om vyfuur het sussie-se-vriend, wat intussen verkeerdelik aangeneem het dat ek ʼn atleet is, my kom oplaai vir wat hy noem, “ʼn rustige 8 km”.

En toe hou ek maar net aan met hol! Daar was bospaadjies en langs-die-see-paadjies, teerpaadjies en selfs ʼn dag op die trapmeul, nog ʼn 10 km op Oujaar in Hartenbos, vier Parkruns by vier verskillende venues en eers hier by 180 km besluit ek toe om dit nou maar af te rond na 200 km in 31 dae – die laaste 5 km die middag van 8 Januarie op die hoogtepunt van die gillende hittegolf wat ons getref het!

Hier is wat ek van myself en doelwitstelling geleer het – en moet my asseblief nêrens aanhaal nie, want die kenners gaan my kap:

  1. Om te hardloop om maer te word, sou my nie vir 200 km kon dra nie! Maar om te hardloop omdat ek kan en omdat ek dankbaar is vir gesondheid en graag my kinders wil inspireer – dit het! Ons tekkies het ons gesin na stroompies in die berg en rotspoele by die see geneem en niks daarvan kos geld nie! Die regte rede en die regte vertrekpunt bepaal dus die belangrike verskil tussen ʼn trekkrag vorentoe (ek wil) teenoor ʼn stootkrag hier van agter (ek moet!)

 

  1. Ons ervaar soveel druk om te presteer in elke area van ons lewe, dat ek nie dit, wat my juis help ontspan, ook nog te gedrewe wil maak nie! Die aanslag van “no pressure”, kom ek gaan hardloop net en voel hoe ek voel, het vir my baie beter resultate gelewer! Ek het elke keer verder gehardloop as wat ek eintlik gedink het ek kan! My sistematiese brein wil vooraf bepaal die hoe, wat en wanneer, maar my avontuurlike hart wil soms net “die pad vat en kyk waar ek uitkom!” Hier het ek ʼn manier ontdek om daardie broodnodige avontuur weer bietjie aan te vuur!

 

  1. En teen my eie spoed en tempo wat selfs ná 200 km eintlik nog dieselfde is! Dit klink dalk hondstadig vir ander super atlete, maar dis sag genoeg op my lyf dat ek voel ek kan dit môre weer doen!

 

  1. En omdat my linkerbrein tog maar iets wil meet of tel, geniet ek een of ander metinginstrument, selfoon of “hol-losie” wat die swaarkry en sweet konkreet maak met syfers en statistieke as bewyse. Die verskil is net ek sien hoe ek aan iets bou in plaas van ʼn mylpaal wat ek moet probeer jaag! Ek kan getuig dat die “accountability” van die drawwergemeenskap op iets soos ʼn STRAVA-app, dieselfde uitwerking het as ʼn weeklikse Weigh Less-vergadering het waar almal kan sien hoe jy vorder, maar almal mekaar ook aanspoor! Wie weet! Iewers in daai groep is dalk ook ʼn ou wat verkeerdelik glo jy kan hol en dit laat jou strewe om die meer te wees wat hy reeds glo jy is!

Toevallig het ek verby die 21 dae-punt gegaan en heel toevallig, iewers op my roete deur die bos, begin dink – miskien ʼn 21 km vir my 40ste verjaarsdag in Maart, want dit voel vir my of ek op 40 meer kan doen as op 21!

Mag jy die jaar wegspring met die regte rede en trekkrag vorentoe en mag jou tekkies of jou fiets jou op avonture neem waar jy jou gesondheid met dankbaarheid tree vir tree kan vier en geniet!

Lees alle vorige rubrieke deur Lindie Strydom op Maroela Media.

Lindie Strydom

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Charlene ·

Lindie, ek het nou jou rubriek baie geniet!!
Ek draf self al jare, is getroud en ‘n ma van twee pragtige dogtertjies! Ek stem 100% saam met jou – om te kan hardloop en in die vars lug te wees is ‘n “blessing” en ek is dankbaar om gesond genoeg te kan wees om te kan hardloop! Dit gee mens ook tyd om te besef hoe geseënd ons is en te herhinner aan die wat nie so bevoorreg is nie…
Ek is self nie ‘n super atleet nie, maar het geleer dat dit nie van belang is nie. Hardloop het my geleer dat ‘n mens tot soveel meer in staat is as wat mens dink!
Mag jy ‘n wonderlike en baie geseënde 40ste verjaarsdag hê en eet sommer baie koek na jou 21km!! Hoop om jou gou te sien by een van ons hardloop klubs in Gauteng se motiverings praaitjies! Jy is ‘n inspirasie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.