Lindie Strydom: Die terugkeeroomblik

Nina met haar pruik en teddiebeer in die hand! Foto: Lindie Strydom

Die atleet, Lasse Viren het tydens die 1976 Olimpiese Spele, halfpad in die 10 000 meter geval, opgestaan en uiteindelik die resies gewen in ʼn nuwe wêreldrekordtyd. Die volgende dag het hy die 5 000 meter wedloop sommer ook gewen. Gary Player was tydens die 1978 Meesterstoernooi in die tiende plek, sewe houe agter die voorloper, maar ná ses voëltjies op die finale nege gate, het hy die gesogte groen baadjie aangetrek. Die branderplankryer, Kelly Slater, het eers vyf agtereenvolgende wêreldtitels behaal en toe na sy terugkeer, weer ses in ʼn ry. Hy is vandag nog beide die jongste én die oudste man met ʼn wêreldtitel agter sy naam.

Ek geniet ʼn storie van iemand wat ʼn comeback maak en die sportkringe veral het baie voorbeelde, maar my dogtertjie, Nina (10) het onlangs op die verhoog ʼn terugkeeroomblik beleef waarvan ek haar eintlik wou red of spaar. Terwyl sy deelgeneem het aan ʼn sangkompetisie, het die wiele so bietjie afgekom en soos mens kan verwag, was haar teleurstelling maar groot.

Ek was so onseker of ek haar in die kar moet laai en huis toe vat of weer moet laat sing, soos iemand wat na ʼn kaping eintlik so vinnig as moontlik weer moet bestuur. Nina het self die maskara van haar wange afgevee, die pruik op haar kop gesit en met ʼn teddiebeer in die hand teruggegaan om die amper ironiese woorde van die blyspele “Annie” se Tomorrow te gaan sing: “When I’m stuck with a day that’s grey and lonely, I just stick out my chin, and grin and say – the sun will come out tomorrow so ya gotta hang on ‘til tomorrow, come what may!”

Ek en haar twee boeties, wat ook daar was die middag, het na die tyd gesels oor hoe dapper sy was om terug te gaan en weer te sing, soveel so, dat sy deur die Here se genade, daardie ervaring eintlik as iets positiefs gebêre het: “Die dag toe ek weer probeer het!” Die sertifikaat staan nou vir haar comeback.

Ek is bly Jesus hou nie sertifikaatseremonies waar jy simbole van jou laagste oomblikke voor almal op ʼn verhoog moet gaan haal nie, maar ek is soms bang mens beweeg te maklik aan! Ek wil nooit ʼn dag of oomblik vergeet waar ek my in Genade vasgeloop het nie. Of dit die wintervet is wat jy wil afskud met ʼn comeback hierdie lente en of dit die slegte ervaring van ʼn kaping of ʼn sonde is wat voel of dit jou bly pootjie – dit begin met ʼn besluit dat hierdie oomblik of laagtepunt, teleurstelling, flop of fout my nie finaal sal definieer nie! Ek sal nie hier bly lê nie! In antwoord op Jesus se uitnodiging van “come back” kan ek in die treffende woorde (en aksent) van Arnold Schwarzenegger sê: “I’ll be back!”

Lees Lindie Strydom se vorige rubrieke op Maroela Media.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Twinkles ·

Dis hoe ons opstaan in Sy krag wat ons menswees definieer.

Lukie Carelsen ·

Baie mooi Lindie! Laat my dink een vd beste voorbeelde van iemand wat ‘n comeback gemaak het. Bob Gass skryf in een van sy dagstukkies: “One of history’s greatest ilustrations is the story of a man who failed in business at 22, ran for the legislature and was defeated at 23, failed again in business at 24, was elected to the legislature at 25, his sweetheart died when he was 26, he had a nervous breakdown at 27, was defeated for congress at 34, was elected to congress at 37, was defeated for congress at 39, was defeated for the senate at 46, was defeated for vice-president at 47, was defeated again for the senate at 49 and he was elected President of the United States at 51! That man was Abraham Lincoln, America’s greatest President! The Word of God for you is “Be strong and dont even THINK of giving up!”

John ·

Groepsdruk? Kinders moet eenvoudig net presteer om die ouers goed te laat voel en ouers rasionaliseer hul glo liefdevolle aksies presies soos bogenoemde. Selfs kinders se lyding agv van die ouers se eie drang na beroemdheid word skrywes en hoof-opskrifte. Ons kinders is nie van ons ekstra ledemate nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.