Lindie Strydom: ‘Dit kan my maar kos’

Argieffoto (Foto: GLady, Pixabay)

Ek het nog altyd geglo dat as jy besig is met ʼn projek of ʼn insameling, kan dit jou maar iets kos! Inteendeel, ek dink dit moet jou iets kos, want hoe vra jy al die ander mense om blikkieskos of winterbaadjies in te samel sonder om in jou eie kas te gaan grawe? Hoe sal jy met oortuiging iemand probeer oorreed om vir ʼn saak by te dra waarvoor jy self nie bereid is om iets te gee nie?

Ek het eers later besef dat dit ʼn Bybelse beginsel is. In 2 Samuel 24 lees ek hoe Dawid drooggemaak het en hy vir die Here ʼn offer moet bring op ʼn spesifieke plek. Dawid vra vir die eienaar van die grond, of hy die dorsvloer by hom mag koop, maar die man sê: Nee, Koning Dawid, jy kan dit maar vat! En offer net wat jy wil, die beeste is hier en die brandhout – ek gee dit alles vir jou. “Mag jou Here jou offer aanvaar.”

Maar dis mos nie Dawid se offer as Arauna dit alles gee nie? En daarom antwoord Dawid in vers 24: “Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” Dawid het die grond gekoop, die offer gebring en die Here het sy gebede verhoor.

Dit gaan nie oor die offer nie. Dit gaan oor wat in ons harte gebeur wanneer die opoffering ons iets kos, of dit geld, moeite, tyd of selfs van ons slaap kos. As ek iets van myself opoffer en gee, is ek op ʼn ander, meer hegte manier self daartoe verbind.

Ek glo waar jou skat is, met ander woorde waar jy jou geld gegee het of jou belegging van tyd en talente gemaak het, daar is jou hart en waar jou hart is – dit wat vir jou regtig belangrik is, dit wat jy sien as jou bates – daar volg jou lojaliteit en jou betrokkenheid ook. As dit net eers jou beursie geraak het, sal dit jou hande en voete ook in beweging bring. Die res van jou sal volg as jy eers ʼn stukkie van jouself gegee het – as jy vir iets gewerk het, as jy vir iets gesweet het, as jy vir iets betaal het en as jy vir iets gebid het…

Moenie so bang wees dat iets jou gaan kos nie. Dit wat die moeite werd is, kos baie… kyk maar na Jesus se voorbeeld wat Sy lewe neergelê het omdat ek en jy daardie prys en opoffering werd was. En moenie so bang wees om vir die Here ʼn (berekende) opoffering te maak nie, maar moet ook nie dink dit gaan stop by jou hart nie, want soos jy jou lewe gee, wil jou beursie, jou ego, jou drome en jou planne ook saam kom!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Respek ·

Ai Lindie, wat ‘n mooi weergawe van jouself en so word my respek ook vir jou al meer en meer. Ook moet daar nooit boek gehou word oor wat dit jou kos want dan kom dit nie uit jou hart.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.