Lindie Strydom: Eindig sterk

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Ek dink baie van ons voel die einde van die jaar moegheid aan ons lyf! Die kop is plat en die hart is moeg. Ons probeer veral ons emosionele energie sover moontlik spaar, maar is daar nie dalk ʼn manier om meer emosionele energie te genereer sodat ons 2017 sterk kan klaar maak – en sommer 2018 met meer lewenskragtigheid kan aanpak nie?

Maak jou bed op!

Dít was Admiraal William McRaven se voorstel van hoe jy begin om die wêreld te verander in sy toespraak by die Universiteit van Texas in 2014:

“If you make your bed every morning, you would have accomplished your first task of the day. This will give you a small sense of pride and encourage you to do another, and another… Making your bed will also reinforce that the little things in life matter. If you can’t do the little things right, you will never be able to do the big things right… And if by chance you have a miserable day, you will come home to a bed that is made – that you made. So if you want to change the world, start off by making your bed.”

Binne die groot en aanhoudende, elke dag se ernstige taak en verantwoordelikheid, is dit die afhandeling van die kleiner takies, wat ons energie en selfs moed gee vir die volgende tree en taak. So, maak jou bed op en maak iets wat halfpad is, klaar. Dit gee meer energie as die bietjie wat dit vat!

Maak kontak met mense

Na Patch Adams op ʼn jong ouderdom sy pa verloor het, geboelie is en drie keer in een jaar in die hospitaal beland het omdat hy sy lewe wou beëindig, het hy besluit: “You don’t kill yourself, stupid; you make a revolution!”

Met sy eie hartseer as dryfveer, het hy as mediese dokter die gesondheidsorgstelsels uitgedaag met sy revolusionêre idees van “compassionate connections” – kontak met enige mens, maar veral pasiënte, deur die gee van geskenke soos omgee en liefde, humor en pret, luister en tyd. Hierdie unieke “voorskrif” van hom, het nie net die pasiënte se gemoed en gesondheid ten goede beïnvloed nie, maar ook die dokter of verpleegster wat hulle behandel het.

Dis ʼn wen-wen! Jy vind self sin en betekenis wanneer jy iemand anders help om hoop te vind! Ons is gebore vir deernisvolle kontak met mense en dit genereer energie vir beide partye aan die gee en die ontvangkant!

Doen iets wat jy geniet

As ons kinders buitemuurse aktiwiteite moet doen vir redes soos “’n geleentheid om hulle talente te ontdek, karakter te bou en sosiale- en ander belangrike lewensvaardighede te ontwikkel, vir gesondheid en vir pret en sommer vir aandagafleibaarheid ook” – watter buitemuurse aktiwiteite doen ons as ouers om hierdie lange lys waardevolle voordele in ons eie lewe te laat realiseer?

Op skool mag ons nog aan alles deelneem en dit geniet, maar dan raak ons “groot” en ernstig en besluit (verkeerdelik) dat ons loopbaankeuse ʼn tipe vonnis is wat ons in een of ander tronk vir die res van ons lewe bêre! Ons voel half dood, maar juis omdat ons soveel van wie ons is stukkie vir stukkie laat doodgaan!

Ek moes ontdek dat dit vir my goed en gesond is om soveel as moontlik van wie God my gemaak het om te wees, lewendig en ook ingeoefen te hou. Seisoene en omstandighede verander en mense kan tot 12 verskillende beroepe in hulle leeftyd beoefen! Iewers mag ek dalk een van my ander gawes en talente moet inspan! Ek kan nie van alles gelyktydig ʼn werk maak wat ʼn inkomste genereer nie, maar ek is mos meer as net ʼn werk! Ek mag uit dankbaarheid teenoor God myself ten volle uitleef ook in stokperdjies en ander belangstellings!

So, doen iets wat jy geniet, doen iets sinvol en doen dit wat jy al lankal wou en maak dit klaar sodat jy 2017 sterk kan klaarmaak!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.