Lindie Strydom: Goed, beter, beste

Argieffoto (Foto: Foundry, Pixabay)

Watter verandering of aanpassing moet jy maak, om dit wat jy tans doen, beter te doen?

Ek ry al jare lank dieselfde pad elke dag. Toe ek vir my en my seun met Google Maps ʼn nuwe drafroete probeer uitwerk, ontdek ek wat is eintlik die kortste pad na ons huis toe. ʼn Paar minute op Google en ʼn toetslopie met die tekkies, en nou spaar ek elke dag ʼn paar minute se tyd en sommer ʼn paar sente se petrol ook!

Ons hou nie noodwendig van verandering nie, juis omdat dit iets van my gaan vra, maar al kos die aanpassing aanvanklik ʼn bietjie kopspasie en tyd, spaar dit jou uiteintlik baie, tyd, geld en moeite!

Tevredenheid oor waar jy op die oomblik is en hoe jy nou maar aankap elke dag, kan eintlik gevaarlik wees, want jy stagneer en dan mis jy uit op die heel beste wat jy kan doen of kan wees, of dit nou as spreker, skrywer, atleet of dissipel op ʼn pad van heiligmaking is! En dis presies die punt wat Jim Collins in sy boek Good to Great maak: “good is the enemy of great”. My slim man, Johann het Jim se stelling egter nog ʼn treetjie verder gevat: “and better is even worse”. Want verbetering kan ook verlammend wees en verhoed dat jy volhou en enduit tot by uitnemendheid gaan! Jy voel mos jy het reeds so ʼn ietsie bereik. Beter is steeds nie beste nie.

Of dit nou Jessie Potter, Henry Ford of Tim Robbins is wat dit gesê het, dit bly waar: If you always do what you’ve always done, you always get what you’ve always gotten.”

In watter area van jou lewe kan jy bietjie opskerp of watter vaardigheid kan jy opbou om van goed, beter na beste te gaan?

Abraham Lincoln het gesê: “Give me six hours to chop down a tree and I will spend the first four sharpening the axe.” Ek het nie geweet dat hy ʼn ervare houtwerker was en daarom hierdie aanhaling heel moontlik letterlik en figuurlik bedoel het nie. Ondoeltreffende toerusting mors tyd en daarom het Abraham geglo jy gebruik die grootste deel van jou tyd om die regte gereedskap vir die taak te kry of te ontwikkel.

Dit sluit vir my aan by wat Prediker sê: “As die byl stomp is en nie geslyp word nie, moet jy meer krag gebruik. Dit betaal om jou verstand te gebruik.” (Pred.10:10)

Is ons te lui of te gewoond, te bang of te besig om die verandering of die verbetering te maak wat nodig is om die beste te wees wat ons kan wees?

Dis dalk tyd om te stop en net eers weer jou lewe, jou gereedskap, jou gesondheid, jou gehoorsaamheid aan God en wat Hy van jou vra, jou begroting, jou werk en jou verhoudings op te skerp of die nodige toerusting en vaardighede wat jy kort, te bekom en dan weer verder en dieper en nader en hoër te gaan tot by die beste bydrae en mees doeltreffende impak wat jy kan maak!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.