Lindie Strydom: Herwin jou lewe

Foto: Lindie Strydom

Ek sien vanoggend my Avbob-notaboekie op my lessenaar. “Since 1918” – hulle is amper ʼn 100 jaar oud! Die boekie is van herwinde papier met die bekende herwinningsteken van “reduce, reuse and recycle” voorop en ook in die hoekie van elke blaadjie. Die ironie tref my. Die afgelope 100 jaar is Avbob die ouens wat jou op die ou end, aan die einde van jou geleende tyd hier op aarde, met ʼn mooi seremonie en waardigheid, in die grond bêre. Dis mos maar net ons stof wat agterbly. Ons siel sien uit na ʼn ewigheid saam met God. Of dis hoe dit veronderstel is om te wees.

Ek wonder egter oor die laaste 100 jaar, hoeveel half-geleefde-lewens en nooit-ontdekte-talente, hoeveel verlore-geleenthede, idees en drome moes hulle saam met iemand se liggaam in die grond begrawe en dink “what a waste…” Hulle sê mos begraafplase is van die rykste plekke op aarde juis oor al die ongebruikte potensiaal wat daar begrawe lê.

Ek wil ʼn vergelyking tref tussen ʼn begraafplaas en ʼn landfill of ʼn vullishoop waar ons al die gemors begrawe. Ná ons die rommel reduce, reuse en recycle het, word net dit wat jy absoluut niks mee kan doen nie, in die landfill begrawe. Ek wil só leef.

Soos George Bernard Shaw gesê het: “I want to be thoroughly used up when I die.” Ek wil opgebruik wees vir die Koninkryk van God! Daar moet van my niks oor wees aan die einde van my lewe nie! Hulle kan my ou stoffies maar net sowel op ʼn ashoop gooi!

Ek wil die begrippe van “reduce, reuse and recycle” ook terugbring na my lewe toe:

  • REDUCE: Die vermindering van gemors en onnodige kompleksiteit wat ons baie keer self veroorsaak. Die herlei en die terugbring na die eenvoud van waarvoor hierdie lewe en my lewe eintlik bedoel was voor ek aan die einde agtergekom ek het my tyd en daarmee saam my lewe gemors!
  • REUSE: God mors niks! Hy belowe om selfs ʼn slegte ervaring ten goede te gebruik! So, gee vir Hom die gemors in jou lewe, sodat Hy die rykdom wat daarin weggesteek is, vir jou kan oopbreek en jy die lewenslesse en die karaktervorming kan ontsluit en begin gebruik!
  • RECYCLE: Gee jou lewe vir die Here en gaan saam met Hom deur daai smeltingsproses sodat jy as ʼn nuwe mens op nuwe maniere gebruik kan word!

Dis hierdie kant van die ewigheid, ses voet bo die grond, waar ons ons lewe kan herwin, waar ons, ons lewe, ons talente en tyd weer kan begin gebruik en waar ons die onnodige gemors kan afskud om ligter saam met Jesus te leef! Wil jy nie in hierdie herwinningsweek wat ons vier, die Here vra om jou lewe te herwin nie?

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lukie Carelsen ·

Wat ‘n wonderlike dagstukkie! Soveel wat ons daaruit kan leer. Baie dankie Lindie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.