Lindie Strydom: Jou (en my) ‘emmerlysie’

Anine Strydom (Foto: Johann Strydom)

Ek moes op Google gaan soek om uit te vind waar die uitdrukking “bucket list” vir die eerste keer gebruik is en dit kom wraggies uit die 2007-film, “The Bucket List”. (Dankie draaiboekskrywer Justin Zackham!)

Miljardêr Edward Cole (Jack Nicholson) en die motorwerktuigkundige, Carter Chambers (Morgan Freeman) ontmoet mekaar toevallig in ʼn hospitaalkamer. Hulle besef hulle het twee dinge in gemeen: ʼn behoefte om te aanvaar wie hulle is en wat hulle al in hulle lewe gedoen het en die behoefte om ʼn spesifieke lysie dinge te doen voor hulle die dag dood gaan! Teen die dokter se aanbeveling, verlaat hierdie twee die hospitaal op pad na die avontuur van ʼn leeftyd!

ʼn “Bucket List” is daardie wenslysie van dinge wat jy wil doen voor jy die dag doodgaan: ek wil Everest klim en drie kinders hê, om die wêreld toer of die Verenigde Nasies gaan toespreek! Die mooi Afrikaans vir hierdie term sal seker wees: “My emmerlysie voor ek die emmer skop!”

Die emmer-term het egter vir my ʼn diepere betekenis gekry die afgelope week danksy mense wat bereid was om iemand anders te help met ʼn item op hulle lysie.

My eie man, Johann, het sy ma Ysland toe gevat en met ʼn kampeerwa het hierdie tweetjies die land platgery. ʼn Jaar gelede het ʼn brander my skoonma se femur morsaf gebreek, wat haar ongelukkig so bietjie teruggesit het. Maar haar droom was steeds om eendag nog Ysland te sien en op 73 – met ʼn sterk stapstok – het sy hierdie avontuur saam met haar seun aangedurf!

Chaeli Mycroft en Barnie Cilliers (Team Beastie) by Comrades-marathon 2017 (Foto: Anil Mooljee, Facebook)

Natuurlik kom so ʼn gebaar nie sonder opoffering nie. Net soos my ander voorbeeld: Barnie Cilliers wat vir Chaeli Mycroft gehelp het om die Comrades Marathon te “hardloop”!

Chaeli, wat serebraal gestremd is, se hardloopmaat, het presies vier weke voor Comrades laat weet hy kan nie meer saam met haar hardloop nie. Twee dae later was Barnie aanboord. Hy het die eerste keer aan haar rolstoel gevat die oggend van Comrades. Die reël is dat net een persoon jou oor die 87 km afstand mag help of stoot en, soos die dapper drawwers sal getuig, was hierdie opdraende Comrades een van die moeilikstes nog! Dit was ʼn baie mooi en emosionele einde toe hierdie Team Beastie op 11 ure en 51 minute die wenstreep oorsteek!

Die Bybel praat van “dra mekaar se laste” en dit kan soms so swaar en ernstig klink. Het jy al ooit gedink om iemand se “emmer” vir hom te dra of ʼn ietsie van sy emmerlysie af te haal? Ek wonder hoeveel van die items op ons eie “bucket list” sou oorbly as ons eers die vreugde daarvan ontdek het om iemand anders met ʼn item op hulle lysie te help?

Lees alle vorige rubrieke deur Lindie Strydom op Maroela Media.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Basson ·

Het hulle gesien teen daardie bulte laas Sondag, en nou het ek die storie agter die storie dankie.
Baie geluk met hulle ongelooflike onbaatsugtige opoffering…

Kootjie Emmer ·

Wat is fout met die goeie Afrikaans woord “wenslys”? Almal gebruik deesdae die woord “emmerlys” n.a.v die fliek “The Bucket list”.

Vir my wat op ‘n plaas groot geword het, en vir die honderde duisende (miljoene?) SA-kaners wat in landelike gebiede en townships woon, is die woord “emmer” sinoniem met ‘n “slopemmer”. Daardie ding wat in die longdrop/buitetoilet die poef opvang en dan (twee)weekliks deur die nagkar verwyder word – ‘n onaangename en onwelriekende prentjie. In SA word amptelik, wyd en neerhalend verwys na die “emmerstelsel” of “bucket system”.

‘n SA emmerlys is dus ‘n inventaris van slopemmers vol poef- niks positiefs wat herinner aan ‘n idilliese wenslys nie.

Basson ·

Dis jou verwysingsraamwerk en konnotasie, maar nie noodwendig almal s’n.
So verskil ons maar, wenslysie beteken nie heeltemal dieselfde as ’emmer(skop)’ lysie?
Dalk kort ons ‘n nuwe skepping – kom ons begin met ‘lewenslysie’ – dit klink dalk minder morbied! :)

AN ·

Bucket list, emmerlysie of wenslysie – hoe dit ookal omskryf word: Christene is weergebore mense wie se drome, wense en “bucket lists” net uit een oorhoofse wens / begeerte bestaan: om God te verheerlik en Sy Koninkryk te versprei deur middle van Evangelisasie / “missions”, dis nie om ander mense met hul drome of “bucket lists” te help nie, natuurlik kan dit ( om ander met hul wense te help ) ook ‘n geleentheid wees om die naam van Jesus Christus hoog te hou en te verkondig aan die betrokke persoon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.