Lindie Strydom: Jou persoonlike beste

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire, Pixabay)

Ek het al baie in die sportkringe gehoor van ʼn “PB” – ʼn persoonlike beste. Die atleet het nie noodwendig die wedloop gewen of die verste of hoogste gespring nie, maar langs sy naam staan daar PB. En wat ek geniet van ʼn PB is die feit dat dit persoonlik is, dat dit joune is en dat dit jou heel beste is, m.a.w. as jy teen jouself moes hol of spring of gediggie opsê, het jy sopas jouself gewen – jy kompeteer teen jouself!

Volgens Google hardloop ek ten minste twee keer so lank aan ʼn 10 km as Comrades-marathonkampioen, Charné Bosman, en enige ernstige atleet sal dink my doelwit waarheen ek werk, is lagwekkend. “Ons reël solank dat die straatligte sal aanbly en dat die skoot nie sal klap soos by ʼn Comrades voor jy uiteindelik die 10 000 meter klaar maak nie!” Mense moet maar lag, want dis ek teen myself, ek wat eintlik nog nooit ʼn atleet was nie en ek wat myself probeer verder druk as waar ek al in my lewe was.

ʼn Vriendin van my se dogter oefen by Hoërskool Centurion se landloopafrigter, Deon Saayman en hy praat van jou “persoonlike beste” as ʼn wen! Deon se atlete is nie gefokus op die ou hier langs hulle nie. Die vraag is altyd: “Hoe lyk jou eie tyd teenoor dit wat jy laas week gehardloop het?”

Op kultuurgebied het my tweeling, Hugo en Nina hierdie jaar by die Kunsfees deelgeneem aan die onvoorbereide-lees-afdeling. Hulle het op eie inisiatief aangedring om dit te probeer en wat ek hier van die kantlyn af kon waarneem, was dit te danke aan hulle Afrikaanse juffrou Leandi Taljaard. ʼn Onderwyseres wat hulle selfvertroue so opgebou het dat hulle kans gesien het om hierdie lees-Goliat met ʼn woord of twee plat te trek. En hulle het! Dadelik is mens nuuskierig oor die punt of simbool wat hulle behaal het, maar dit gaan glad nie daaroor nie! Dit gaan oor die persoonlike oorwinning wat hulle behaal het soos wat hulle die “ek kan”-grense nog verder geskuif het …

Hoe sal jy weet of jy kan en wat jou beste is om van daar af te verbeter, as jy nie probeer om uit te vind nie? Niemand sal weet wat jy onder die oppervlak wegsteek nie, maar jy weet en die Here weet! En soos enige Pa wat vir Sy kinders goed is en vir hulle goeie gawes en geskenke gegee het, wag Hy om te sien wat jy sal dink van dit wat Hy vir jou uitgekies het!

Mag daar aan die einde van ons lewens hier op aarde “PB” langs ons naam staan omdat ons in elke opsig en rol, geleentheid en verantwoordelikheid ons persoonlike beste gedoen het, van harte soos vir die Here!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baie spesiaal ·

Hierdie stukkie en storie en vergelyking is baie spesiaal. Ja ek werk ook met PB’s van atlete en kan dit nou ‘n stappie verder neem!!! Dat dit ook in hul lewenswyse so sal wees.

ronica ·

hierdie stuk van persoonlike beste is baie bemoedigend.ek het altyd my klein kinders gese gee net jou beste.baie dankie.

Gideon ·

Dankie Lindie. Ja ons is so gebreinspoel dat alleen nommer 1 tel. Nie eens tweede is goed nie. Ek is 100% met jou. So baie van ons is soos die een wat die een talent ontvang het en dit onder die klip gaan begrawe, veral in ‘n prestasie behepte samelewing. Nee baie van ons moet ons 1 talent net so ontwikkel en oefen. Dit is meestal ‘n groter prestasie ss daai een wat tops presteer met 4/5 van sy / haar top prestasie. Die 5 gawes persone kry al die hande klap en die 1 gawe word soms gespot met n 2/1 pooging.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.