Lindie Strydom: Klaar gepraat

Argieffoto (Foto: carol_s, Pixabay)

Ek het so ʼn punt bereik van opgekyk en opgeluister na al die video’s op Facebook en opgelees aan al die kommentaar op elkeen se poging om iets te probeer doen. Ek voel behoorlik opgeblaas van al die idees en opinies, filosofieë en redenasies en ten spyte van my gewoonlike lang asem is ek selfs opgepraat, opgedink en opgeredeneer. Ek is op soek na God se hart vir Suid-Afrika!

Ek glo dis nou die tyd om te begin doen wat die Here eintlik al lank al van ons gevra het om te doen.

John C. Maxwell het gesê: “Christians are educated well beyond their level of obedience.” Ons weet te veel en ons doen te min van wat ons reeds weet ons moet doen! Ons gaan ten gronde weens ʼn gebrek aan die toepassing van die kennis!

Soveel mense raak verward met al die baie stemme in hulle ore: “Wie moet ons volg en wat is nou die volgende stap?” En dan soek hulle na nog ʼn metode, reëls of resepte, ʼn stelsel of stappe om te volg.

Miskien is daar nie ʼn tekort aan planne en projekte nie, maar wel ʼn gebrek aan fokus in die soeke na God se koninkryk en doodeenvoudige gehoorsaamheid! Dalk is die “stappe” wat ons nou kort, die voetstappe van Jesus waar ons dag vir dag in verhouding met Hom en in Sy voorbeeld gevorm word om te doen wat ons Hom sien doen.

Ons wil by hierdie einste Jesus, wat van ons vra om haat met liefde te antwoord, aansluit in die werk waarmee Hy besig is en die werk waartoe Hy ons roep as Sy medewerkers sodat ons nie aan die einde uitasem en gedaan, verbaas staan en wonder, “Haai, Here, wanneer was U dan honger of dors en siek of ʼn vreemdeling buite?”, en Hy vir ons sal sê: “Sover julle dit aan die geringste en minste nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie…”

Terwyl ons vuiste en argumente rondgooi en swaai, is God aan die werk in Suid-Afrika, besig met die vuil werk – dit wat vir ons so onbenullig, gering en min lyk. Nou is die tyd om ons voorneme en intensie om nog eendag by Hom aan te sluit te laat oorgaan tot aksie deur te doen wat vandag gedoen moet word en tree vir tree saam met Hom GROOT te gaan juis in die klein, die min en die gering…

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wessel ·

Dit is baie waar. Ons moet eers stil word voor die Here en dan doen, wanneer die Lig deurgebreek het.

Wie? ·

Dit gaan nie oor My nie, dit gaan oor God en sy Koninkryk..!

MvS ·

Ware, ware woorde! So baie kennis en so min toepassing. Ander moet altyd verander, nooit ek self nie. Lindie jy laat ‘n mens altyd weer herbesin oor mens se eie rol in hierdie lewe. Seën vir jou!

Ek is Sam ·

Pragtige en ware woorde dat ons met hart en siel en verstand moet terugkeer na ons God en sy gebooie … maar …

Ek is Sam ·

… die Christendom van die dag dwaal van die Woord van God, wat met elke vertaling afgewater word, en menige gruwels volgens die Woord, is vandag aan die orde van die dag. Ons kan slegs tot ons Vader terugkeer indien ons tot die waarheid van die Woord terugkeer en ons nie wend tot die kerklike en menslike dogma en voorskrifte nie. Daar is ‘n wet wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood (Spr. 14:12). Die weg na die ewigheid is smal … so smal soos die paal waaraan ons Verlosser gehang het … en min vind dit (Matt 7:14). Klink dit soos die Christendom van ons tyd? Volgens die Woord sal slegs ‘n oorblyfsel gered word (o.a. Rom. 9:27).

Ons Vader sug: “Jerusalem, Jerusalem … hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke … en julle wou nie!” Laat ons terugkeer tot die Woord, want “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.” (Joh. 1:1), wat deur engele bewaar en aan ons oorgegee is, net om in vandag se tyd deur die mens verdraai en verkrag te word. Ek verstaan waarom my God haastig is om vuur op die aarde te werp (Luk. 12:49) … en beslis is die Christendom se god van liefde nie dieselfde God wat ek aanbid nie. Leer Hom eers ken, die God van Abraham, van Isak, van Jakob.

Wilhelm ·

Lindie,ek hoor wat jy se,maar ek dink dis eintlik n klap in die gesig as jy se die boere moet terug keer na die wil van die Here toe!Moenie die boere verwar met die res van die volk nie!Ons lewe baie na aan die Here en lewe net op sy genade!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.