Lindie Strydom: Maslow se hiërargie

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Meeste van ons ken Maslow se hiërargie van behoeftes. Hy stel ʼn baie logiese vloei voor in die vorm van ʼn driehoek wat heel onder begin met ons mees basiese behoeftes van veiligheid: kos en ʼn dak oor ons kop. En sy filosofie of teorie is dat, soos jy daardie basiese behoeftes verwesenlik, kan jy bou na ʼn volgende vlak tot die hoogtepunt of spitspunt waar jy ʼn vol en vervulde lewe leef – nie net tot voordeel van jouself nie, maar juis ander om jou.

Dit maak vir my baie sin, maar in ons Suid-Afrikaanse konteks waar ʼn geweldige gees van entitlement heers van “eers dit dan dat”, is ek bang hier kruip dalk ʼn selfregverdiging in waar ek sit en wag vir die minimum wat my toekom voor ek uiteindelik eendag ʼn maksimum lewe kan leef. Of my eie behoefte en tekorte is die rede (dalk verskoning) hoekom ek nog nie buite myself kan fokus nie!

God se hiërargie werk anders! Daar is nie ʼn een plus een is altyd twee, of as A dan B, nie! As Hy die Here van ons lewe is, en ons soos Paulus kan verklaar in oorvloed of tekort – “ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee”, kan ek in watter omstandighede ook al, ʼn vol en vervulde lewe leef tot voordeel van ander en tot verheerliking van God!

Ek leef nie meer met ʼn minimum gesindheid soos ʼn student wat bang is hy het homself ooreis as hy 51% kry en die slaagsyfer was net 50 nie… Ek antwoord nie met my lewe op ʼn salaris of ʼn posbeskrywing nie, want dan het ek die minimum kriteria bestudeer en streng daarby gehou. Ek antwoord met my lewe op die Here se roeping! Ek doen wat ook al ek doen van harte soos vir Hom en nie vir mense nie! Ek werk vir die Here, al is ek op niemand se payroll aan die einde van die maand nie! En omdat ʼn “maksimum” God wat Sy alles en Sy beste vir my gegee het, Here is van my lewe, leer ek om in elke en alle omstandighede maksimum te leef!

My ekstra myle en “meer as wat van my verwag of vereis word”, is deel van my dankie aan God vir die maksimum wat Hy so onverdiend vir my gee!  En daardie “ekstra” waarvan niemand eers hoef te weet nie en waarvoor ek juis geen vergoeding of betaling ontvang nie, is my vreugde en lofprysing aan God!

Breek uit jou lineêre bestaan wat wag vir eers dit en dan dat en sterf aan jou entitlement! Niemand skuld jou iets nie! Ontdek die vryheid van ʼn maksimum vervulde lewe tot voordeel van ander en tot verheerliking van God maak nie saak waar jy is nie!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.