Lindie Strydom: Om te bou aan Plastic City

Sanet Fagan van SA Cares for Life by Plastic City (Foto: Lindie Strydom)

Die mense staan in rye met hulle emmers. Dis waterdag in Plastic City of Woodlane Village soos sommige na hierdie gemeenskap in die ooste van Pretoria verwys. Die munisipaliteit maak die vier tenks vol water wat teen vanmiddag weer leeg sal wees. Dit was deel van die oorspronklike ooreenkoms en basiese dienste waarvoor Colin en Denise van Tswelopele nege jaar gelede geveg het. Mense het toe in die bosse gebly. Vandag woon hier tussen 5 000 en 6 000 mense op die agt hektaar stuk grond agter Moreleta-gemeente. Daar is steeds geen lopende water nie en slegs beperkte sanitasie in die vorm van 33 opslaantoilette.

Ek sien vroue wat wasgoed was in bruin water wat getuig van hoe diep die vuil lê. Hier vee iemand ʼn voorstoep met ʼn bossie gras en iemand anders wat haar bak wil wys waarin sy wil plant as iemand net kan help met saad. Klein kinders stoot mekaar op ʼn stukkende plastiekfietsie, neem kamma foto’s met ʼn stukkende ou kamera, kom aangehardloop om die tannie wat gereeld hier kuier om die lyf te val en bak modderkoekies in die strate waar die rioolwater vrylik afloop. Dit stink.

Maar dis hierdie einste haglike omstandighede waarin honderde kinders grootword, wat Sanet Fagan van SA Cares for Life aan die hart gegryp en gelei het tot hulle betrokkenheid hier met ʼn strategie wat van binne af buite toe werk. Sy het al daai eerste dag wat sy hier aangekom het by die mense in hulle plastiekhuisies gaan sit om te hoor hoe hulle die nood beleef. “Veiligheid vir ons vroue en ʼn skool vir ons kinders,” was hulle eenvoudige versoek en hoe ver kan ons dit soms mis as ons van buite af instorm met ʼn antwoord wat die vraag eintlik heeltemal mis…

Kinders kom aangehardloop na Sanet Fagan van SA Cares for Life by Plastic City (Foto: Lindie Strydom)

Ek stap saam met ʼn paar van die cluster workers wat SA Cares for Life aangestel het, deur die strate van Plastic City. Dis vroue met ʼn hart vir hulle gemeenskap en wat elkeen na ʼn hoeveelheid gesinne omsien. Hulle is die oë en ore op die grond en ken die stories van die mense agter die geel nommers wat op die 865 oorspronklike geregistreerde shacks geverf is. Die rooi nommers is die nuwes. Hulle mag eintlik nie hier wees nie, maar die sekuriteit is nou weg en die hoeveelheid desperate strukture van plastiek groei by die dag.

Pretty vat ons na die huisie van die mamma wat sy Woensdagnag gehelp het met vervoer hospitaal toe, toe haar babatjie gebore is. Dit het gereën en die ambulans gaan nie sommer daar in nie. Die mamma laat my toe om hierdie twee dae oue lyfie vas te hou. Die babatjie het net die klere wat hy aan het en hierdie dapper mamma is alleen hier. Haar man soek werk. Enige werk.

Sophie wys ons die plekkie wat sy gekry het vir die ander mamma en haar dogtertjie wat moes vlug van ʼn man wat hulle mishandel. Ons sit by haar op die vloer in die donker vertrek. Die vroue maak planne.

“Jy is nou hier en ons wil jou help. Wat kan jy doen?”
“Ek hou van skoonmaak en ek kan kook.”
“Dan sal ons help met bestanddele vir vetkoek. Hier is mense wat by jou sal koop.”

Ek beleef haar verligting soos wat sy besef dis nou voortaan ʼn gedeelde las.

Ek sou niks gedink het van die pak kaarte in die modder soos ons aanstap op pad uit nie, maar Sanet ken al die tekens. Die kinders dobbel en as die dogtertjies verloor, moet hulle gunsies vir die ouer mans doen as betaling.

Die kinders wat op die hoop rommel by die uitgang speel, kom vrolik aangehardloop om hulle sprinkane in die leë koeldrankbottels so saam met ʼn thumbs up te wys. ʼn Kwaai ma begin hulle nader hark. Die mense sal hulle vat, hulle moenie daar speel nie. Die vrywilligers wat daar werk beaam dat hulle al voorheen iemand se baba aangebied is.

Mens weet nie of jy dom of dapper is om hier betrokke te raak nie. Jy steek beslis ʼn grenslyn oor, maar in die voorbeeld en voetspore van Jesus wat gereeld die kultuur van die dag se reëls gebreek en grense oorgesteek het om mense se lewens aan te raak, voel ek ook geroep om te antwoord op dit wat ek gesien het en nie later sal kan ontken nie… Ons voel ons moet hier bou.

  1. Bou op elkeen voor ons en elkeen hier langs ons se bydrae. Soos Colin en Denise, Moreleta-gemeente, dr Ellenore Meyer en die Universiteit van Pretoria, Rotary International en SA Cares for Life.
  2. Bou op die skouers van mense wat al ʼn lang pad stap en skouers wat ook maar soms hang. Bou op mense se gebede dat die Here nog hande sal stuur om te kom help…
  3. Bou al het ons nog nie die perfek uitgewerkte plan en projek nie, want as ons daarvoor wag, gaan daar dalk nog nege jaar verby en die volgende generasie kinders gaan steeds dood van die honger. Drie kinders het die afgelope week gesterf van gif wat hulle gedrink het.
  4. Bou van ʼn kant af en een behoefte op ʼn slag en met die honderde kinders wat ek in die stofstrate, tussen die shacks en huisies en op die rommelhope gesien het, voel dit vir my of ʼn skool of ʼn sentrum vir die voorskoolse kinders die plek is waar ons kan begin. Moreleta se skool is vol met 346 kinders, maar hier is nog soveel meer wat bereik moet word. Maar bou slim in die vorm van ʼn mobiele vraghouerskool wat mens altyd later weer kan skuif as die hofsake en heen-en-weer-gesprekke eendag opgelos is.

Ek was lanklaas so totaal en al oorweldig deur die omvang van die nood in ʼn gemeenskap. Ek wou vlug om net eers ʼn vatplek te kan kry van waar om te begin. Ek is nie die eerste wat so voel of haarself troos dat ons bydrae, hoe gering ook al, ons deel maak van ʼn oplossing nie en dis baie meer werd as die sit en wag om te kyk of die “probleem” nie maar vanself wil weggaan nie… Nog ʼn winter lê voor, die kinders word groot, van die mense probeer regtig. Ek kies om aan ʼn stukkie hoop in Plastic City te bou en ek nooi jou om my gerus te kontak en ʼn e-pos te stuur na [email protected] as jy saam met ons wil bou.

Lindie Strydom

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

DHK ·

Lindie, as jy darem dieselfde passie en liefde aan jou eie volksgenote wou bewys waar daar net soveel nood en leed is sou ek verheug voel. Helaas is Christenskap en omgee vir die Afrikaner van vandag die verwerping van hul eie…

Eish ·

Ek deel u sentiment, in totaliteit.
My gemoedstoestand was na die lees van die berig net nie sodanig om hierdie mening so keurig neer te pen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.