Lindie Strydom – Omgee is morsig

Die kleuters van Pikanini Educare-sentrum in Elandspoort, Pretoria (onder die Hanna Charity and Empowerment Foundation) Foto verskaf deur Lindie Strydom

Dit werk nie altyd uit soos jy gehoop, beplan, gewens of selfs gebid het nie.

Ons het gewerk aan ʼn projek. Die pragtige leefstyl-sjef, Izelle Hoffman, het die dag voor die tyd van Johannesburg af deurgery om by ʼn spesifieke winkel die bestanddele te koop vir die lekker bord gesonde kookkos wat sy beplan het vir die kleuters in Elandspoort. Die niewinsgewende projek, “By Sweet Definition” het kolwyntjies gebak wat die 42 kleuters self sou versier, die koeldranke was gekoop en elke kind se bloedrooi drawstring-geskenksakkie reeds die aand voor die tyd in my kattebak.

Ek wou voor die tyd by Belinda Brönner, wat aan die stuur van die Pikanini-sentrum staan, weet wat van hulle grootste uitdagings in hulle gemeenskap is. “As dit reën, kan die kinders nie by die skool uitkom nie en daardie dae weet ek nie of hulle enigiets sal eet nie,” was haar antwoord.

Toe ek die oggend van ons besoek opstaan, het dit gereën. Dit het reg deur die nag gereën en ons was en is altyd baie dankbaar vir reën, maar daar was ʼn goeie kans dat daar nie een kind sou opdaag nie, maar net ingeval een of twee van die ouers wel kans gesien het om sonder kar of sambreel, die modder aan te durf om hulle opgewonde kleutertjie te vat, het ons besluit ons gaan!

Ek het net weereens besef hoe anders dinge werk in ander gemeenskappe. Daar was nie daardie oggend ʼn WhatsApp-groepie om vinnig ʼn plan B te beraam nie.  Ook nie ʼn mamma of ʼn paar mammas met super dooper-bussies wat sommer gou ʼn ander ma se kind ook kan gaan oplaai nie. Daar was nie enige ekstra warm klere teen die skielike onverwagse koue nie en ook nie ander kos in die huis nou dat jy nie vandag by die skool sal kan eet nie … Maar, ten spyte van die nat koue en ver loop het die kinders daardie oggend gekom en ons het vir hulle gekook, saam kolwyntjies geëet en gespeel!

Of dinge uitwerk soos jy dit beplan het of nie, en of die persoon jou goedbedoelde hulp aanvaar of nie, of hy jou laaste geld wat jy vir hom gegee het uitdrink en uitdobbel en of dit reën, niemand opdaag, die kos verbrand én een of ander beloofde skenking deur die mat val – laat ons nooit moeg word om goed te doen nie!

Omgee is nou maar net eenvoudig (soms) morsig, ongemaklik en onvoorspelbaar, maar dit gaan nie oor ons nie! Dit gaan oor God, wat ons nooi om by Hom aan te sluit in die werk waarmee Hy besig is in hierdie kosbare, weerlose armste van arm mense se lewens en dit wat Hy in ons lewens wil doen soos ons ons hande bietjie vuil maak …

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thea ·

Amen! Lindie, jy is voorwaar ‘n Vrou na God se hart. Dankie vir jou aansporing om ten spyte van….net God se wil te doen. God seën jou ryklik.

Santie ·

En die lekkerte van géé, is dat jyself méér ontvang in jou hart en gees, as dié vir wie jy gegee het.

Marinda ·

Ek kry so ñ knop in my keel en die trane loop stil oor my wange. Ek sien in my gedagtes presies hoe hierdie dag vir julle verloop het Lindie, dankie dat jy probeer om ñ verskil te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.