Lindie Strydom: Passie wat opoffer

Annerike Heyneke (9) van Laerskool Menlopark (Foto verskaf aan Maroela Media)

Ons oudste seun Paul het begin hardloop by ʼn landloopklub wat oom Jan Neser jare terug begin het. Oom Jan het self vir Gauteng-Noord gehardloop en ons vermoed sy rekord vir die 10 km-padwedloop staan dalk nog steeds.

Hy het sy eie kinders afgerig toe hulle op laerskool was, toe ʼn rukkie gestop tot sy kleindogter, Carla wou begin hardloop. Hy het weer begin afrig met ʼn groep van vier atlete wat oor ʼn ses jaar tydperk gegroei het tot 50 atlete van verskillende skole in Centurion. Hy het al die jare gratis en verniet met groot toewyding sy passie vir die sport uitgeleef en een jaar gespog met 15 atlete by SA’s! Nou het sy dogter, Elize Fourie, die aflosstokkie by haar pa gevat en rig sy elke middag die gretige laerskool kinders af, al het sy nie self meer enige kinders op laerskool nie. Beide haar dogters het al vir Gauteng-Noord op SA’s gehardloop en sy het gemis om met kinders te werk.

En moenie dink die deel van ons passie kom eers op jou oudag nie! Annerike Heyneke (9) van Laerskool Menlopark het tydens een van die landloopwedlope waaraan sy deelgeneem het, raakgesien dat daar atlete saam met haar hardloop wat nie eens tekkies het nie. Hulle het nie eers ʼn stel klere van hulle eie gehad nie en moes tussen die hardloopitems die gehawende en flenter klere uittrek om vir die volgende een aan te gee.

David Modiba van Modiba Oliven Atletiekklub in Olievenhoutbosch (Foto: Tekkie Buddies, Facebook)

Dit is ʼn groep van 65 atlete van Modiba Oliven Atletiek Klub in Olievenhoutbosch. Hulle word deur David Modiba afgerig wat 14 jaar gelede die klub begin het. Toe hulle bietjie uitvra, het David vir Annerike en haar ma, Aneli vertel dat baie van hierdie behoeftige atlete Maandag tot Vrydag elke middag getrou kom oefen net omdat hy vir hulle kos gee by die oefening.

So begin Annerike met haar “Tekkie Buddies”-projek om vir hierdie atlete tekkies in te samel. Sy wil sien dat hulle net so voluit kan deelneem aan die sport wat sy so geniet. Klein Annerike het reeds 50 pare tekkies ingesamel en kon by die laaste byeenkoms vir 30 atlete hulle inskrywingsfooie en vervoer betaal en ook ʼn kospakkie gee met die geld wat sy ingesamel het.

Intussen het Annerike en 27 van David se atlete die Gauteng-Noord-landloopspan gehaal wat op Jeugdag in Zeerust gaan deelneem aan die interprovinsiale byeenkoms.

Ek bewonder mense wat vir die liefde van ʼn saak, sonder vergoeding of erkenning, iets van hulleself sal opoffer en gee om hulle passie met iemand anders te kan deel, hetsy met tyd en ʼn kospakkie langs die baan of ʼn paar tekkies wat iemand soos ek in staat stel om hulle talente ook voluit te ontwikkel. Dit voel vir my of ons ondersteuning vir die jeug wat uitreik na mekaar om juis ʼn brug te bou tussen my oorvloed en ander se tekort, sommer hierdie vakansiedag op 16 Junie ook nuwe sin en betekenis gee…

Besoek gerus die Facebook-blad Tekkie Buddies
Stuur ʼn e-pos aan Aneli Heyneke [email protected]

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stinkgogga ·

So witmense is nie almal rassisties en haatdraend nie?
Daar is dus mense wat omgee vir ander van n ander ras en hul lewens beter probeer maak. Mooi so, meisiekind, hoop jy kry die erkenning wat jy verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.