Lindie Strydom: Roetine

Basecamp Hotel in South Lake Tahoe (Foto: Miryam Muller, Full Insight)

Die einste ding wat deur ʼn besige skoolkwartaal my behoud is, is ongelukkig ook my dood – roetine! Roetine wat so nodig is sodat mens nie elke dag van voor af hoef te wonder waar jou belangrikste prioriteite in die dag sal inpas nie, maar roetine wat ook my regterbrein desperaat laat uitroep: “Asseblief! Gee my net ʼn breek van hierdie sieldodende herhaling!”

Die slim mense sê verandering en variasie is so goed soos vakansie. So selfs met Jan Tuisbly se karretjie, keer niks jou om vanaand – vir ʼn verandering – in ʼn tent te slaap nie – al is dit in jou kombuis of eetkamer of gang! Daar is geen wet wat sê jy mag nie Rice Krispies vir aandete eet of koek en ʼn stuk steak vir ontbyt nie. Hare is so ʼn veilige plek om met verandering te eksperimenteer – kleur dit pers of sny dit af! En as jy ʼn “midlife awareness” tref (my man weier om dit ʼn krisis te noem!), koop vir jou ʼn ander kar of skiet ʼn oorbel in jou neus, maar om jou vrou vir ʼn ander model in te ruil is net morsig vir ewig en ʼn tatoe is weer so permanent!

Ry aspris ʼn ander pad huis toe en laat jou kinders jou ʼn slag aantrek dat jy voel hoe dit voel. Hou ʼn wakkerbly met springmielies en DVD’s en ʼn krismisbed voor die TV. Gaan uit die kantoor vir middagete na ʼn wildvreemde restaurant en vra die kelner om sy gunsteling vir jou te bring en drink jou koffie kruisbene op die vloer of hou ʼn safari-ete saam met al jou ewe-verveelde pelle!

Dis goed en wel om die vaal winter met ʼn paar vinnige variasies te probeer inkleur, maar hoekom mag offbeat nie deel van ons elke dag se lewensritme reg deur die jaar wees nie?

Iewers het ons, ons beroepskeuse en werk as ʼn tipe vonnis aanvaar wat ons moet uitdien in ʼn agt-tot-vyf-tronk. Ons mag maar elke dag elke deeltjie van ons Godgegewe gawes en persoonlikheid uitleef op verskillende maniere en ja, selfs sonder betaling! Jy wou eintlik altyd ʼn juffrou geword het, so gaan help by die kinderkerk of kook sop vir die sopkombuis, begin ʼn biblioteek by jou huis en hardloop elke Saterdag die (gratis) Park Run!

Breek uit jou roetine en uit jou klein hoekie en gaan doen nuwe dinge op nuwe plekke om vir nuwe mense die lewe op nuwe maniere ʼn bietjie beter te maak! Variasie is soos vakansie – elke dag van die jaar!

Lees alle rubrieke deur Lindie Strydom op Maroela Media. 

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.