Lindie Strydom: Skuil daar dalk ʼn sinkgat in jou lewe?

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die druk van die lewe het ʼn manier om dit wat onder die oppervlak van ons lewe aangaan, boontoe te stoot. Iewers sal daardie goed wat jy dink jy onder beheer het, begin kop uitsteek. Daar waar dit ʼn ruimte of ‘n leemte vind om uit te kom.

Die prentjie wat by my opkom is een van daai soutbeskuitjies met die gaatjies in. Jy smeer dalk lekker Bovril of konfyt tussen die twee beskuitjies. As jy van bo af kyk, sal jy glad nie weet daar is iets tussen-in gesmeer nie, maar die oomblik wat jy afdruk, kom die smeergoed by die gaatjies uit. Dit kan nogal ʼn taai of vuil gemors afgee!

Hoe sê hulle: “Something’s gotta give!” Daai druk skuif iets uit – of dit nou die Bovril by die beskuitjie se gaatjies is, die lelike woorde wat by jou mond uitkom of die bekommernis wat by jou handpalms as sweet uitslaan!

‘n Ander prentjie is dié van die enorme sinkgat in Centurion. Die verslae is nou nog nie voltooi nie, maar wat ons hoor is dat daar ʼn sinkgat net 75 cm onder die pad-oppervlak is, min of meer so groot soos ʼn skoolsaal en 12 m diep! Daar ry min of meer 40 000 karre oor daardie kruising van Jean en Gerhardstraat elke dag! Dis nogal ʼn gewig! Wie weet hoe lank die pad nog daardie verkeersdruk sou kon hanteer voor hy finaal ingegee het?

Het die druk wat jy tans beleef, dalk veroorsaak dat ‘n stukkie van die leegheid in jou lewe uitstoot of inval? Jy het dalk jou humeur met jou kinders verloor, of jy was dalk oneerlik by die werk omdat jy bang is hulle vang jou uit en jy verloor dalk jou werk, jy het dalk betrokke geraak in ʼn verkeerde verhouding of begin om meer en meer te drink.

Dit is in tye van hoë druk wat ons besef hoe vol gate ons lewe eintlik is, maar dit is nie die einde van die wêreld nie! Soos met die gat in Centurion, is dit dalk juis genade dat daar eers net ‘n stukkie ingeval het om die krake en gate vir jou te wys, maar dan moet jy iets daaraan doen! Beleef eerder die frustrasie wat ons nou in Centurion beleef terwyl hulle ordentlik ondersoek instel, tyd vat om op te vul, reg te maak en te herstel as wat daar later groter skade en gemors is.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Freddie ·

Dankie Lindie, dit is so. My situasie is bietjie anders. Sien, ek werk vir myself van die huis af en kan net myself bedrieg. Dan het my meisie van vier jaar my gelos, seker oor die afstand en dat ek nie vir haar sal kan sorg nie. So ek weet nie of ek ‘n sinkgat of ‘n Provita is nie maar ek probeer dinge weer aanmekaar sit in hierdie stadige limbo wat ek in is. Ek het omtrent alles wat my lewe kan kompliseer weggevee want dit gee my soveel spanning met al die verwagting van alle kante. So eintlik is ek ‘n blanko muur in ‘n gang wat in die verte in strek. Ek begin nou besluite sonder my verstand te maak want ek dink dis my hele probleem. So dit filter deur my en as ek weer sien maak ek my studio skoon of unfriend almal op facebook of groei ‘n rooi baard. Dis maar hoe ek aangaan, so op die gearbox en nie die brieke.

Gina ·

Dis baie waar Freddie. Ons moet die dinge wat ons lewe onnodig kompliseer, laat gaan. Dit plaas net ekstra druk op ons en as die druk te veel word, kom daar lelike goed uit. Ek wil n lewe van eenvoud lei, want al hierdie ander dinge steel net ‘n mens se vreugde.

Darryl ·

Amen….Sterk en doelgerigte beeldspraak boodskap die..ek dink elke Christen se soeke moet gerig wees op vrede..vandat ek my prioriteite verander het en God begin ken het in al my besluite..het my lewe handomkeer verander..dankie Lindi vir die Gees gevulde boodskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.