Lindie Strydom: Verwagting van werk

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

Ek dink ons almal ken mense wat geweldig swaar steun op ander om hulle gelukkig te maak. Hulle is eintlik totaal en al afhanklik van ʼn ander om hulle te vervul. Hulle leef met ʼn onrealistiese en onregverdige verwagting van die persoon en die verhouding en as iemand so swaar aan my trek, so baie van my vra en verwag, is dit wanneer ek wil onttrek en sê: jong, vind eers die geluk in jouself! Ek kan jou nie vervul of gelukkig maak nie!

Sommige van ons het hierdie tipe verhouding met ons werk. Ons dink werk moet ons gelukkig maak. Werk moet ons vervul! Ons leef met ʼn onrealistiese en onregverdige verwagting van ons werk, ons werkplek en die span mense saam met wie ons werk, en dit beteken jy stap in met ʼn verwagting en ʼn vereiste wat dadelik die lewe uit die plek begin suig – en mense begin suig soos ʼn parasiet wat net kom haal wat hy self nodig het!

Wat as werk die plek is waar ek as heel mens, vervul deur my verhouding met God, myself kan gaan uitleef – nie om iets te gaan kry of haal nie, maar om iets te gee en te bied?

Ek gun elke liewe mens om in die oggend uit die bed uit te spring van opgewondenheid om werk toe te kan gaan, homself gate uit te geniet, ʼn fees van ʼn tyd saam met sy kollegas te hê en vanaand sy kop neer te lê met ʼn diep tevredenheid omdat hy voel dat hy regtig ʼn reuseverskil aan die mensdom gemaak het en boonop sakke vol geld daarvoor betaal is!

Ek weet dit is die uitsondering, maar ook nie onmoontlik as ons anders begin dink oor werk nie.

Hierdie werk is dalk nie dit waaroor jy jou lewe lank gedroom het nie, maar dis ʼn manier om vir jou gesin te sorg en brood op die tafel te sit. Dis nie noodwendig die mees inspirerende bondel sonstraaltjies waarin jy jou elke dag wil vasloop nie, maar dis ʼn geleentheid om te groei juis omdat hulle so interessant anders as jy is … Dis nie mense wat noodwendig iets vir jou kan of wil doen of jou werk en lewe vir jou makliker gaan maak nie, maar dit kan dalk mense wees vir wie jy iets beteken! Werk is ʼn plek om te behoort – ʼn plek van invloed waar jy kan gaan om ten goede te beïnvloed!

Dank die Here vir werk!

Lees alle vorige rubrieke deur Lindie Strydom op Maroela Media. 

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.