Lindie Strydom: Vooraf besluitneming

Argieffoto (Foto: Clovis_Cheminot, Pixabay)

Ons seuns is Lego mal en altyd op die uitkyk vir ʼn spesiale aanbod of bietjie afslag, wat ongelukkig meer kere soos ʼn slaggat is. Vóór jy daardie verlydelike rooi plakker met “50% af” gesien het, was jou oog nog mooi op die bal: ons spaar en werk en werk en spaar vir daai spesifieke stel. En dan skielik swig ons voor die “nooit-eers-daaraan-gedink-nie-winskopie” en die somme klop nie meer nie!

So leer ek saam met my kinders ʼn belangrike lewensles hierdie vakansie waar daar nou meer tyd is om by hierdie winkel en daardie winkel in te stap vir wat ons dink net window shopping is: “Neem die besluit vóór jy by die winkel ingaan” of nog beter – moenie eers ingaan as jy klaar gekies het waarvoor jy spaar en werk en werk en spaar nie of soos in baie “grootmense” se geval, as jy klaar al jou geld geblaas het nie!

Dit laat my dink aan wat die sielkundige, James Clear sê: “Stop making choices and start making commitments.” My verbintenis tot sekere doelwitte waaroor ek voor die tyd mooi rustig en nugter, versigtig en berekend kon dink, vereenvoudig en vergemaklik of skakel sommer geheel en al uit, baie van die keuses en oorweldigende hoeveelheid opsies waaroor ek in die hitte van die oomblik staan en wroeg of wik en weeg en probeer mik en pas met geld wat ek weet ek nie het nie of dinge wat ek nie wil doen nie! Ek val nie vir slim of manipulerende verkoopstegnieke wat jou hartklop opjaag as hulle sê “maar dis net vir vandag!” nie, want ek beoefen die ongelooflike krag van “vooraf-besluitneming”!

In plaas van “voornemens” vir die jaar, wil ek dus eerder kyk na my “verbintenis” vir die jaar wat hopelik sal help met die daaglikse uitdaging van waarvoor om ja en waarvoor om nee te sê. Wat is die “Ja!” waarvoor ek leef en waartoe ek myself verbind, sodat ek makliker “Nee!” kan sê vir die oulike en dierbare perdjies wat ek nie kan bekostig om ook nog op te saal nie!

  1. Ek is verbind tot God. My grootste begeerte vir 2018, is om gehoorsaam aan Hom te leef in absoluut alles. Ek soek sy wil en sy koninkryk en is verbind tot dit wat Hy van my vra en Sy standaard wat verseker “anders” is as die “almal-doen-dit-maar-so”-standaard.
  2. As rentmeester van God se bronne, tyd en geld, wil ek eenvoudiger leef en minder en minder op myself opgebruik sodat daar meer en meer beskikbaar is vir my gemeenskap en ander in nood!
  3. Ek is verbind tot my gesin en die rede hoekom ek glo God hulle aan ons toevertrou het. As ek iewers gaan optree omdat my gesin ook glo in dit waarvoor God my gebruik, wil ek die kortste tyd moontlik van die huis af wees. Ek sal soms baie vroeër as die res van ons huis moet opstaan, juis omdat ek nie ons tyd saam wil steel nie. Ek wil nie ons kinders langarm lewenslesse probeer leer van “maak soos ek sê en nie soos ek doen nie!” Ek is verbind tot hulle opvoeding met die ondersteuning van ʼn gemeenskap en wil ʼn inspirerende voorbeeld wees wat ook bereid is om my foute te gebruik as voorbeeld van hoe om dit nie te doen nie…
  4. Ek is verbind tot my gemeenskap en wil hierdie jaar aan nog ʼn stukkie selfsug sterf. Ek wil beskikbaar wees om te dien waar ook al ek God aan die werk sien!

Soos Paulus kan ek ook nie sê, “dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in…” (Fil.3:12)!  En die verwagting in my hart is dat my verbintenis tot die belangrikste, my sal spaar van die onbenullige wat tyd, geld, energie en lewe steel en dat my fokus op die beste, my sal weerhou van die “goeie” sodat ek gehoorsaam aan God dalk ook soos Moses voor die see sal staan en die water sien oopgaan in 2018!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Verstom ·

Kosbare kind van God en ‘n groot inspirasie. Ons leef in so ‘n negatiewe wêreld en mense om jou dat dit maklik so maklik is om die satan ‘n gap te gee om jou af te bring ‘n moedelose negatiewe gemoedstoestand. Dankie dat ons Hemelse Vader sulke mense aan ons toon, wat Sy lig uitstraal om ander te motiveer om beter en nader aan God te leef. Dis nie die aarde skatte wat saak maak nie, maar ons Hemelse skatte wat vir ons gebêre word, indien ons die wil van die Vader doen om dit te kan bekom.

Erika ·

Sy is ‘n pragtige vrou, want nie skaam is om te herken sy is ‘n kind van GOD nie.

christa ·

Stem saam. As jy nie geld het nie bly uit die winkels. Gaan winkel toe om iets spesifiek te koop en wees sterk om nie rond te kyk na aanliklikke items nie. Klere winkels sien my net wanneer ek spesifiek iets wil gaan koop en as ek dit gekry het kyk ek nie verder nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.