Lindie Strydom: Voorloop is agternaloop

Argieffoto (Foto: philriley427, Pixabay)

Ek hoor nou die dag ʼn skoolhoof wat sê: “Nie almal sal eendag leierskapposisies beklee nie, maar almal sal iewers in die lewe leiding moet kan neem en daarom moet ons almal se leierskapsvaardighede ontwikkel!”

Die posisie van leierskap is ongelukkig nie vir almal beskore nie. Dit is ook nie vir almal ewe belangrik of almal se gawe nie – net soos wat ons nie almal vinnig kan hardloop of volpunte vir wiskunde kan kry nie. Daar is egter ʼn verskil tussen posisionele leierskap met ʼn balkie of ʼn baadjie, posisie of spesiale parkeerplekkie en intensionele leierskap waar ek enige plek, enige tyd, in enige omstandighede en op enige vlak in ʼn maatskappy of in die lewe aspris vorentoe sal tree om dit wat moet gebeur, te maak gebeur!

Ek het eers gedog ou Paulus is nogal voor op die wa met sy “volg my … soos ek vir Jesus volg” (1 Kor.11:1), maar ek leer iets van hierdie vrymoedige en intensionele leierskap by hom.

Paulus sê “doen wat ek doen, net soos ek doen wat Jesus doen!” met ander woorde, Paulus vra nie van ander mense iets wat hyself nie doen of bereid is om te doen nie. Dit begin by myself – by selfleierskap. Ek self is heel eerste ʼn navolger van Jesus voor ek ʼn voorloper vir enigiemand anders kan wees! Die rigting van my lewe word bepaal deur my agter Jesus aanloop en op hierdie agterna-loop-pad aanvaar ek verantwoordelikheid vir my eie lewe, my gesin, my gemeenskap en my land en ek antwoord op dit wat God van my vra om te doen – ongeag of ander mense hulle kant bring of nie!

Paulus sê verder, soos Jesus, wil ek alles wat ek doen, tot eer van God doen en op so manier dat mense kan sien hoe belangrik God is! Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan nie eers oor mense nie! Mense is bloot die begunstigdes van dit wat ek heel eerste tot eer van God doen en ja, natuurlik sal my navolgelingskap van Jesus altyd ʼn voordeel vir God se ander kinders ook inhou. Ek sien dan juis hoe Jesus in nederigheid en diensbaarheid Sy lewe neerlê vir ander!

En dan, met ʼn diensbare hart wat ander bo myself stel, soek ek nie my eie belang nie, maar dink ek heeltyd hoe ander deur dit wat ek tot eer van God doen, gered kan word! Hoe ander mense deur my voorbeeld, gedrag en optrede iets van God se hart kan leer ken.

ʼn Intensionele voorloop leier is dus heel eerste ʼn navolger van Jesus wat aspris God se hart op sy mou dra sodat hy deur sy lewe, sy werk, sy gesin en sy manier van doen, mense na Jesus kan wys. Iemand wat gehoorsaam antwoord op dit wat God van hom vra – ten spyte van mense, maar juis tot voordeel van mense!

Met vrymoedigheid wil ek jou nooi – kom loop saam soos ek agter Jesus aanloop!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.