Lindie Strydom: Welwoorde wat aanhou bou

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Dit was seker vyf jaar gelede wat ek een middag by my kinders se skool indraf en in die verbygaan vir ʼn seun ʼn kompliment gee. Ek kan nie onthou presies wat ek gesê het nie, maar ek weet dit was ʼn opregte kompliment met spesifieke besonderhede – nie net ʼn algemene “goed gedoen, Boeta” nie. Dit was vir hom. En van daai dag af, tot waar ek hom hierdie week weer raakloop op die skoolgronde, ʼn pragtige hemelbesem van ʼn seun, weet ek my woorde het indruk en selfs impak op sy lewe gehad, want hy groet my anders. En dit gaan nie oor my nie, maar oor die krag van woorde wat bou.

Laat my dink aan wat iemand vir my gesê het, jare na hulle my iewers hoor praat het: “Ek kan nie meer onthou wat jy gesê het of waaroor jy alles gepraat het nie, maar ek kan onthou hoe dit my laat voel het.” En dis ongelukkig waar van beide opbouende asook afbrekende woorde – die hoe jy iemand laat voel het in daai oomblik.

Ek staan een dag langs ʼn rugbyveld waar ʼn o.9-spannetjie speel. Ek hoor hoe ʼn ouer op een van die kinders skree. Nie eers sy eie kind nie. Die outjie speel sy hart uit, maar hoe meer die mense skree, hoe meer senuweeagtig raak hy en hoe minder wil sy planne en idees waarmee hy probeer opmaak en regmaak, werk. Ek het al geleer – as jy iemand beter behandel as wat hy is, strewe hy om meer te wees, maar as jy hom afpraat of verkleineer gaan dit hom nie help om beter te raak nie. Ek sê nie jy moet jok nie, maar bly dan eerder stil of soek iets mooi wat jy wel kan uitlig. En in my ervaring beleef ek, hoe meer ek vir die mooi soek, hoe meer sien ek die mooi raak en weereens is dit ook waar van hoe meer jy fout soek, hoe meer sal jy fout vind.

Ek het ʼn vriendin, Hanlie Kotze. So paar jaar terug druk die Here dit op haar hart om met iemand se verjaarsdag, regtig moeite te doen om vir ʼn rukkie stil te word en oor hulle menswees te dink voor sy vir hulle ʼn boodskap stuur. Dit maak die woorde, hoe eenvoudig ook al, soveel meer persoonlik as die “copy en paste”-prentjie. Hierdie jaar is haar missie om gereeld en aspris mense te komplimenteer – sonder enige spesiale okkasie! En as iemand wat al self onder haar woorde deurgeloop het, kan ek getuig hoe sy mens vir mens, kind vir kind en dag vir dag God se koninkryk en ons gemeenskap bou met haar woorde …

Spreuke 3:27 praat van ʼn weldaad wat ons nie moet weerhou van iemand aan wie dit toekom terwyl jy die geleentheid het om dit te gee nie. Ek sou hier ook ʼn “welwoord” wou byvoeg wat ons moet sê terwyl ons kan en terwyl ons die kans het.

Kom ons doen goed, deur goed te praat! Kom ons as ouers “praat” die voorbeeld! Kom ons bou mense en kinders – almal se kinders – met ons woorde en komplimente, opbouende terugvoer en aansporing. Ek weet vandag dat een opregte belangstellende woord iemand jare lank kan hou en aanhou bou …

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genieve ·

Dankie Lindie baie inspireerende woorde, sowaar opbouende woorde en gesaai met liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.