LLB-program nou voltyds op Akademia-kampus aangebied

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, Sarita Gerber, programkoördineerder van LLB, prof. Pieter Duvenage, waarnemende dekaan van Regsgeleerdheid, en prof. Hermie Coetzee, departementshoof van Regsgeleerdheid, klink ʼn glasie op die nuus dat LLB vanaf 2023 ook via die voltydse kontakmodel op die Centurion-kampus aangebied gaan word. (Foto verskaf)

Akademia het die nuus op Donderdag aangekondig dat LLB vanaf 2023 ook voltyds via die kontakmodel by die Centurion-kampus aangebied gaan word. Die instelling bied reeds vanaf 2020 LLB nauurs aan deur middel van telematiese ondersteuning aan studente. Tans spog die gewilde program met 440 studente oor verskeie akademiese jaargroepe. Aan die einde van 2023 word die eerste graduandi in hierdie program gelewer.

Om LLB ook op die voltydse kontakmodel aan te bied was ʼn natuurlike volgende stap vir die instelling nadat BCom (Ekonomie en Regte) reeds op hierdie wyse aangebied word. Die tyd het ook aangebreek met die LLB-program, nou in sy derde jaar op die nauurse onderrigleermodel, wat reeds goed gevestig is. Die oogmerk van die instelling is om ʼn volledige kampusaanbod oor alle fakulteite en studierigtings in die toekoms die lig te laat sien.

Sarita Gerber, programkoördineerder van LLB by Akademia, noem dat daar ʼn groot aanvraag in die mark was om die program via voltydse kontak te volg. “Noudat akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys en registrasie by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid suksesvol afgehandel is, kan ons uiteindelik in dié behoefte voldoen.”

Hoewel ʼn nauurse afstand-LLB-program ruimte vir studente skep om te werk terwyl hulle studeer, deel Gerber dat daar ook verskeie voordele daaraan verbonde is om die kwalifikasie volgens ʼn voltydse kontakmodel te studeer. Dit sluit onder meer in dat studente in direkte kontak met mekaar en hul dosente op kampus is en dus makliker inhoud kan bespreek. “Studente kan ook makliker aan die opwindende studentelewe deelneem en waarlik ʼn vol studentelewe eerstehands beleef,” noem sy. Nog ʼn voordeel is die vergemakliking van groepswerk en die voltydse kwalifikasie skep ook meer ruimte vir persoonlike akademiese begeleiding.

“Akademia se LLB-program, ongeag of jy dit via die voltydse kontakmodel of nauurse onderrigleermodel studeer, is werklik besonders, aangesien ons teoretiese opleiding van gehalte met ʼn praktykgerigte inslag bied,” noem Gerber. “Ons sien daarna uit om ons eerste graduandi te lewer wat selfstandig en waardegedrewe is en oor fundamentele regsvaardighede sal beskik.”

Sy vertel verder dat die departement se personeel werklik ʼn diverse en dinamiese span is wat uit verskeie vakspesialiste bestaan. Akademici vir die program is ook oorwegend nie net dosente nie, maar ook regspraktisyns. Dit beteken dat hulle waardevolle praktiese insigte met studente kan deel om hulle uitstekend vir die werkplek voor te berei.

Prof. Hermie Coetzee, departementshoof van Regsgeleerdheid by Akademia, noem dat die regsprogram veral uitstaan weens die departement se vennootskap met die Solidariteit-regsnetwerk. “Ons vennootskap met hierdie regsnetwerk skep die geleentheid vir waardevolle internskappe en mentorskappe om sodoende noodsaaklike praktiese ondervinding vir studente te verseker.”

Gerber se raad aan studente wat die LLB-kwalifikasie as studierigting by Akademia oorweeg, is om seker te maak dat hulle ʼn werklike passie vir die regsberoep koester. “Om die regswêreld te betree is ʼn groot besluit, maar indien dit jou roeping is, sal hierdie beroep jou grootste verwagtinge oortref,” sluit sy af.

  • Indien jy belangstel om LLB via die nauurse onderrigleermodel of via die voltydse kontakmodel by Akademia te studeer, besoek die Akademia-webblad vir meer inligting of woon ʼn interaktiewe aanlyn inligtingsessie op Donderdag 19 Mei om 19:00 by. Bespreek jou sitplek vir die inligtingsessie hier. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop. Akademia – maak kennis met jou toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.