Lof vir petroljoggie wat jong vrou help

Nkosikho Mdele (Foto: Facebook)

ʼn Goedhartige petroljoggie het Donderdagoggend ʼn jong vrou gehelp nadat sy brandstof in haar motor wou gooi maar toe besef het dat sy haar beursie by die huis vergeet het.

Monet van Deventer (21) van Gordonsbaai in die Wes-Kaap was Donderdagoggend op pad na Tuine in Kaapstad toe sy by ʼn vulstasie buite Makassar gestop het om brandstof in te gooi. Voordat sy die petroljoggie kon vra om haar motor vol te maak, het sy besef sy het nie haar bankkaart of kontant by haar nie.

Nkosikho Mdele, die petroljoggie wat haar bedien het, het toe tot Le Roux se verbasing aangebied om vir haar brandstof te betaal.

“Ek het my kaart in my motor begin soek, maar ek kon dit nie kry nie. Ná die soektog sê ek toe vir hom dat ek nie my kaart kan kry nie en dat hy dus nie meer moet petrol ingooi nie,” het van Deventer gesê.

“Maar hy sê toe vir my: ‘Mevrou, jy kan nie op die N2 sonder brandstof gaan staan nie. Ek sal R100 vir jou ingooi en dan bring jy dit net terug wanneer jy weer hier naby is’.”

Van Deventer het gesê haar eerste instink was om skepties te wees.

“Ek het aanvanklik gedink dis ʼn slenter en dat hy my bankbesonderhede gaan vra. En ek was so geskok toe hy my niks vra nie, nie my naam of selfoon nommer nie, niks nie! Eers toe ek wegry het ek besef dat hy eintlik maar net ʼn goeie daad vir my wou doen, niks anders nie. Dit is wonderlik!” het sy gesê.

Mdele het aan Maroela Media gesê dat hy haar bloot gehelp het omdat hy kon sien sy hulp nodig gehad het.

Monet Van Deventer (Foto: Facebook)

“Ek wou nie hê sy moet op die N2 gaan staan sonder brandstof nie. Dit is nie veilig nie, so ek wou haar help,” het hy gesê.

“Ek was nie bang dat sy nie my geld gaan terugbring nie, ek het nie verwag dat sy gaan nie. Ek was meer bang dat iets met haar gaan gebeur as sy sonder genoeg brandstof verder gaan ry. Ek wou hê sy moes veilig uitkom waar sy moes wees.”

Van Deventer het gesê sy het dieselfde dag nog die geld vir Mdele teruggevat. Sy het ook vir hom sjokolade gevat om dankie te sê.

“Hy was so geskok om my weer te sien. Hy was baie dankbaar, maar dit het nie gelyk of hy verwag het dat ek gaan terugkom nie.”

Van Deventer het daarna ʼn plasing op Facebook gemaak wat al meer as 40 000 keer gedeel is en oorloop van positiewe kommentaar oor Mdele se goeie daad. Talle mense het ook al uitgereik na Van Deventer om vir Mdele in die hande te kry om donasies aan hom te maak of om vir hom geskenke te stuur. Mdele het gesê hy voel geseënd en dat hy voel asof God na hom omsien.

Volgens Van Deventer het die hele situasie haar nuwe hoop vir die land gegee. “Ek voel asof ek weer mense kan vertrou. Ek het hoop teruggekry wat vir ʼn baie lang tyd weg was, omdat ek so baie slegte goed sien en lees. Dit wys jou net daar is nog goeie mense daar buite wat mense help sonder om enigiets terug te verwag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

**anoniem** ·

Haar van is inderdaad Van Deventer. Het nou weer na haar Facebook plasing gaan kyk.

Anoniem ·

Voorwaar ‘n vertrouens- verhouding-verhaal so net na die Verkiesing

Ja sulke omgee gee my ook HOOP vir ons land

Onthou dit is Wes-Kaap dié en baie geluk aan Nkosikho Mdele en Monet van Deventer op die manier wat hulle die saak hanteer het !

Suid-Afrika is trots op Julle !

Nommer ·

Hierdie storie laat my nou letterlik met trane in my oë! Baie dankie meneer.

Sputnik ·

Ek het al voorheen my ondervinding met lesers gedeel: Ek en my vrou het baie jare gelede, nog voor selfone, teen Winterskemer in besige verkeer naby die (destydse) Jan Smuts Lughawe ‘n pap wiel gekry. Ek het onmiddelik besef dat ek kort tevore die motor laat diens het en die domkrag, ens. uitgehaal het en nie eeer teruggesit het nie. Binne ‘n minuut het ‘n jong man en sy vrou van, as ek reg onthou, Eldoradopark by ons gestop. Sy gereedskap het op ons motor gepas en ons kon die wiel omruil. Hy’t aan my gesê dat hy een hele winternag in sy motor langs die R21 moes deurbring omdat niemand by hom wou stop nie. Hy’t hom voorgeneem hy sal sovêr moontlik nooit dat dit iemand anders oorkom nie. Mens wonder net hoe veilig so-iets deesdae vir ‘n samaritaan is.

Sons ·

Mdele, ek weet dat die Here jou baie gaan seen vir dit wat jy gedoen het. Mag dit net goed gaan met jou. Mag jy geseend wees in als wat jy doen.

Gerda ·

As die res van die mense ook net iets uit die berig kan leer en toepas…..

@Juffrou Le Roux, moet nie te gou vertrou nie en wees nogsteeds versigtig, die volgende samaritaan wat jou hulp aan bied is dalk nie so barmhartig nie.

**anoniem** ·

Wat ‘n onbaatsugtige man. Baie dankie dat jy haar gehelp het. Die Here sal jou seën waarokal jy gaan!

willem Botha ·

Ok net in die wes kaap waar daar nog goeie mense woon.

Anoniem ·

Voorwaar ‘n vertrouens- verhouding-verhaal so net na die Verkiesing

Ja sulke omgee gee my ook HOOP vir ons land

Onthou dit is Wes-Kaap dié en baie geluk aan Nkosikho Mdele en Monet van Deventer op die manier wat hulle die saak hanteer het !

Suid-Afrika is trots op Julle !

Gert ·

Ek glo daar is nog sulkes maar is dun gesaai. Mens kan deesdae nie sulke gebare altyd goedhartig aanvaar nie want party is slenters en dit nog gebeur met vrou

kolla ·

Dis min dat mense uit eie beweging sal help want hulle wil nie betrokke raak nie. My ondervinding is egter dat meeste mense sal help as jy in die nood is en om hulp vra.

Glo-in-goeie-dade ·

Een goeie daad op ‘n slag, dis hoe SA sal verander. die petroljoggie is ‘n voorbeeld vir BAIE!!

Rooijan ·

Jy al ooit gehoor “Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie”?

KrokodilBotha ·

Daarsy, die DA kan begin om die N2 te beveilig. Vol punte vir die petrol man.

Annoniem ·

Ag nee wat jy kon hom n ekstra R 100 gegee het vir die moeilikheid waaruit hy jou gered het asgvag jou agterlosigheid
nee wat jy is baie ondankbaar
Mooi so petroljoggie ! Hoop die sjokelade proe soet !

$ ·

Annoniem, met sulke bitsige en gevoellose kommentaar kan ek verstaan waarom jy dit anoniem doen.

Strand looper ·

Mooi man! Jy maak elke Suid Afrikaaner trots op jou! Ons kort meer sulke mooi stories.

Rine ·

Is dit nou regtig nuuswaardig? Enige iemand sal mos aanbied as kan help. Weird.

Lalie ·

Ons land is vol van die wonderlikste mense, al is sommiges EFF verbonde

Michelle ·

Nkasikho wat hy vir die dame gedoen het sal God vir jou in veelvoud terug doen, miskien nie vandag nie maar Hy sal wat ‘n nederige gebaar baie dankie vir die mooi mens wat jy is.

Ai. ·

So mooi gebaar…Ongelukkig is daar nog so 45 999 999 van hom nodig om Suid Afrika n beter plek te maak..

Elna ·

Dit maak mens baie bewoë om sulke mooi stories te lees. Dankie petroljoggie vir jou wonderlike hulp. Wens daars baie meer mense soos jy in die land.

GR ·

Stuur hierdie vir rassistiese Lesufi en Malema sodat hulle kan sien wat kan in hierdie land gebeur waar mense mekaar help ongeag die kleur van hul vel of taal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.