Lof vir petroljoggie wat jong vrou help

Nkosikho Mdele (Foto: Facebook)

ʼn Goedhartige petroljoggie het Donderdagoggend ʼn jong vrou gehelp nadat sy brandstof in haar motor wou gooi maar toe besef het dat sy haar beursie by die huis vergeet het.

Monet van Deventer (21) van Gordonsbaai in die Wes-Kaap was Donderdagoggend op pad na Tuine in Kaapstad toe sy by ʼn vulstasie buite Makassar gestop het om brandstof in te gooi. Voordat sy die petroljoggie kon vra om haar motor vol te maak, het sy besef sy het nie haar bankkaart of kontant by haar nie.

Nkosikho Mdele, die petroljoggie wat haar bedien het, het toe tot Le Roux se verbasing aangebied om vir haar brandstof te betaal.

“Ek het my kaart in my motor begin soek, maar ek kon dit nie kry nie. Ná die soektog sê ek toe vir hom dat ek nie my kaart kan kry nie en dat hy dus nie meer moet petrol ingooi nie,” het van Deventer gesê.

“Maar hy sê toe vir my: ‘Mevrou, jy kan nie op die N2 sonder brandstof gaan staan nie. Ek sal R100 vir jou ingooi en dan bring jy dit net terug wanneer jy weer hier naby is’.”

Van Deventer het gesê haar eerste instink was om skepties te wees.

“Ek het aanvanklik gedink dis ʼn slenter en dat hy my bankbesonderhede gaan vra. En ek was so geskok toe hy my niks vra nie, nie my naam of selfoon nommer nie, niks nie! Eers toe ek wegry het ek besef dat hy eintlik maar net ʼn goeie daad vir my wou doen, niks anders nie. Dit is wonderlik!” het sy gesê.

Mdele het aan Maroela Media gesê dat hy haar bloot gehelp het omdat hy kon sien sy hulp nodig gehad het.

Monet Van Deventer (Foto: Facebook)

“Ek wou nie hê sy moet op die N2 gaan staan sonder brandstof nie. Dit is nie veilig nie, so ek wou haar help,” het hy gesê.

“Ek was nie bang dat sy nie my geld gaan terugbring nie, ek het nie verwag dat sy gaan nie. Ek was meer bang dat iets met haar gaan gebeur as sy sonder genoeg brandstof verder gaan ry. Ek wou hê sy moes veilig uitkom waar sy moes wees.”

Van Deventer het gesê sy het dieselfde dag nog die geld vir Mdele teruggevat. Sy het ook vir hom sjokolade gevat om dankie te sê.

“Hy was so geskok om my weer te sien. Hy was baie dankbaar, maar dit het nie gelyk of hy verwag het dat ek gaan terugkom nie.”

Van Deventer het daarna ʼn plasing op Facebook gemaak wat al meer as 40 000 keer gedeel is en oorloop van positiewe kommentaar oor Mdele se goeie daad. Talle mense het ook al uitgereik na Van Deventer om vir Mdele in die hande te kry om donasies aan hom te maak of om vir hom geskenke te stuur. Mdele het gesê hy voel geseënd en dat hy voel asof God na hom omsien.

Volgens Van Deventer het die hele situasie haar nuwe hoop vir die land gegee. “Ek voel asof ek weer mense kan vertrou. Ek het hoop teruggekry wat vir ʼn baie lang tyd weg was, omdat ek so baie slegte goed sien en lees. Dit wys jou net daar is nog goeie mense daar buite wat mense help sonder om enigiets terug te verwag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anje Badenhorst

Is haar van nie Van Deventer nie??

Tanya Engelbrecht

Ons kort meer mense soos jy.

Nommer

Hierdie storie laat my nou letterlik met trane in my oë! Baie dankie meneer.

Sputnik

Ek het al voorheen my ondervinding met lesers gedeel: Ek en my vrou het baie jare gelede, nog voor selfone, teen Winterskemer in besige verkeer naby die (destydse) Jan Smuts Lughawe ‘n pap wiel gekry. Ek het onmiddelik besef dat ek kort tevore die motor laat diens het en die domkrag, ens. uitgehaal het en nie eeer teruggesit het nie. Binne ‘n minuut het ‘n jong man en sy vrou van, as ek reg onthou, Eldoradopark by ons gestop. Sy gereedskap het op ons motor gepas en ons kon die wiel omruil. Hy’t aan my gesê dat hy een hele… Lees meer »

Ferdi

Ni alle swartmense is soos EFF en BLF ondersteuners ni