Loodglaskunstenaar blaas ‘lig’ in Gelofte

Die drie loodglaspanele wat nou deel is van die Vrijheidsreis-uitstalling by die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

Toe Chris Boshoff, ’n amateur-loodglaskunstenaar van Pretoria, die geleentheid gekry het om tydens ’n uitstalling van Solidariteit Helpende Hand sy werk ten toon te stel, sou hy nooit kon dink dat sy handewerk eendag in die Voortrekkermonument (VTM) se Senotaafsaal sal pryk nie.

Die span by die Voortrekkermonument het vroeër vanjaar besluit om die museum-uitstalling op te knap en te moderniseer, en het die hulp van verskeie kunstenaars ingeroep om hulle te help om die uiteindelike visie te laat realiseer.

ʼn Diepgelowige Boshoff kyk dikwels op na die hemel vir inspirasie in sy loodglaswerk en die Bybelse motiewe, soos die Bethlehemster, vredesduif en kruis, wat in talle van sy kunswerke verskyn, kan ook gesien word in die loodglaspaneel wat hy vir die Voortrekkermonument se nuwe Vrijheidsreis-uitstalling ontwerp het.

Die Vrijheidsreis-uitstalling is amptelik op 14 Junie by die monument geopen.

“Ek was aanvanklik nie heeltemal seker oor wat om te doen toe dr. Danie Langner van die Voortrekkermonument my gevra het om ’n loodglaspaneel te ontwerp wat in die monument se Senotaafsaal opgerig moet word. Ons was dit egter eens dat dié paneel hoop by mense moes wek en ’n sterk gelowige tema moes hê,” sê Boshoff.

Die nuwe “Gelofte-loodglaspaneel” is 3,8 m x 1,4 m en beeld die Gelofte uit. Wat die drie panele van die loodglaskunswerk selfs nog meer spesiaal maak, is dat dit nie net die verlede uitbeeld nie, maar ’n duidelike boodskap van hoop en vooruitgang uitbeeld.

Chris Boshoff kyk dikwels op na die hemel vir inspirasie in sy loodglaswerk en die Bybelse motiewe, soos die vredesduif en kruis, wat in talle van sy kunswerke verskyn. (Foto verskaf)

Boshoff en sy vrou, Ronel, wat saam met hom aan die projek gewerk het, sê dat dit vir hulle ’n besonderse eer is om te weet hul handewerk pryk nou in die Voortrekkermonument. Tog is dit die voorreg om toekomstige geslagte te kan inspireer wat vir albei van hulle uitstaan van die projek.

Dit is die eerste keer dat die Gelofte in die Senotaafsaal vertoon word vir geslagte wat kom.

Boshoff en sy vrou Ronel is baie geëerd om deel te kon wees van so groot projek. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.