Loopbaan tussen sterre wink vir Stefan  

Stefan Buys

Stefan Buys, dux-leerling van Hoërskool Garsfontein, is trots op onderskeidings in al agt sy vakke:  Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, rekeningkunde, fisiese wetenskappe en ekonomie.

Sy pa, Joerné, is ʼn tandtegnikus en sy ma, Lizette, ʼn biokinetikus. Sy jonger sussie, Liné, is nog op skool.

Stefan gaan sy vakansie deurbring aan die Weskus en ook in Mosambiek. Daarna beplan hy om rekenaaringenieurswese aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer. Sy droom is om daarna astrofisika aan Wits of ʼn universiteit in Engeland te studeer. Hy wil uiteindelik by ʼn ruimte-georiënteerde maatskappy soos SpaceX, of by die SKA-projek in die Kalahari gaan werk.

Dié loopbaan sal Stefan se twee voorliefdes goed inkorporeer. Hy is aan die een kant lief vir rekenaarstelsels, hoe dit werk en die interessante toepassings daarvan in die werklike wêreld. Aan die ander kant is sy groot belangstelling sterrekunde. Hy hou gereeld die sterre dop deur sy teleskoop.

Hy sê hy glo aan die bevordering van die mensdom in sy geheel. Hy streef ook daarna om ʼn lewe te lei wat tot minimale berou sal lei.

As ek 40 jaar oud is en terugkyk op my lewe wil ek oor so min dinge as moontlik spyt wees.

Hy is ʼn voorstander van die vermindering van die mensdom se inpak op die omgewing deur byvoorbeeld die gebruik van alternatiewe energieopwekking.

Stefan was visiepresident van sy skool se VLR en het hokkie vir die derde span gespeel.

Sy geheim vir sukses kom neer “om op jou sitvlak te sit en te leer”. Hy glo sy hardwerkendheid en die mense wat hom ondersteun het ʼn groot rol gespeel. Dit was veral sy oupa, ʼn “wiskunde boffin”, wat hom met wiskunde gehelp het.

Oor Elon Musk, sy rolmodel, kan hy nie uitgepraat raak nie en dit is duidelik dié persoon wat Stefan wil navolg in sy loopbaan. Hy beskryf hom as innoverend en iemand met die wil om die wêreld te verbeter en uiteindelik die mensdom ook. “Hy het in sy 40 jaar op aarde die lewe van so baie mense verbeter en mense opgewonde gemaak oor wetenskap en wiskunde. Sy maatskappy het die eerste vloeistofaangedrewe vuurpyl in ʼn wentelbaan om die aarde geplaas. En boonop kom hy nog van Suid-Afrika af.”

Stefan beskryf homself as toegewyd en vriendelik, maar erken ook dat hy soms ongeduldig kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sybrandt en Alta van Niekerk ·

Baie geluk, Stefan! Ons is baie trots op jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.