Loxton-skool in knyp ná brand, dog oorweldig deur skenkings

Loxton-skool-brand

Die JJ Booysen Primêre Skool op Loxton in die Noord-Kaap het tot op die grond afgebrand tydens die Junievakansie. Foto: Verskaf.

Tydens die Junievakansie vanjaar het die JJ Booysen Primêre Skool op die Karoodorp Loxton in die Noord-Kaap tragies tot op die grond afgebrand. Hoewel dit ʼn ongeluk was, het daar van die gebou niks oorgebly nie. Dié dorp se laerskoolkinders is dus in ʼn groot finansiële krisis gedompel en sonder hulpmiddels agtergelaat.

Die niewinsgewende organisasie, die Ek Leef-trust, beywer hom om spesifiek die kinders van Loxton te ondersteun deur gehalte-onderrig te bevorder en armoede te bekamp.

“Ons het die afgelope sewe jaar baie sukses hiermee behaal en is trots op die feit dat die organisasie, saam met die gemeenskap, reeds ʼn groot verskil gemaak het in ons minderbevoorregte kinders se lewe,” sê Nicolette van den Heever, projekbestuurder van die Ek Leef-trust.

“Drie laerskoolkinders het tydens die Junie-skoolvakansie by die skool se snoepie ingebreek en een van hulle het ʼn stapel papiere aan die brand gesteek,” vertel Van den Heever verder. “Dié vlammetjies het vinnig versprei en die kinders is vort om hul ouers te roep. Dit was egter te laat om enigiets te doen en die skool het tot op die grond afgebrand. Maatskaplike werkers help nou dié kinders om die trauma van die voorval te verwerk,” sê sy.

“Die kinders van JJ Booysen is tans in lokale oor die dorp versprei, maar hulle sit op die vloer en het geen leermateriaal nie. Die doelwit is om hulle so gou moontlik weer aan die leer te kry met die minimum tot ons beskikking, maar ons het ook hulp nodig deur middel van skenkings om hierdie doelwit te bereik.

“Ons is egter verstom en dankbaar vir die ander kinders in die groter en meer gevestigde skole van die Karoo se inisiatief om ʼn verskil te wil maak. Die kinders in hul huidige skole het ander skole uitgedaag, en daag hulle steeds uit, om prenteboeke en storieboeke vir die ouderdomsgroep ses tot 13 te skenk. Ek het onderneem om die kinders te help deur hul skole en ander skole te nader om deel te word van die projek.

“Die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl het die meeste boeke, ʼn allemintige 3 000, ingesamel,” vertel Van den Heever trots. “Ons is ook oorweldig deur skenkings van ander instansies wat skryfbehoeftes en meubels betref en is verskriklik dankbaar. Selfs toeriste wat kom blomme kyk, het boeke en ander benodigdhede in die dorp vir ons afgelaai!” sê sy oorstelp.

Deon Meyer, bekroonde skrywer en stigter van die Ek Lewe-trust, het verlede Woensdag by die Hoër Meisieskool La Rochelle ʼn draai gaan maak om persoonlik die meisies wat die projek namens die skool behartig het, te bedank. “Ek is so dankbaar dat daar nog soveel omgee in ons land is,” sê hy.

“Ek is betrokke by die mense van Loxton en die Ek Lewe-organisasie, omdat ek glo alle Suid-Afrikaners het ’n verantwoordelikheid om moue op te rol. Dis maklik om die regering te kritiseer, maar dit verg ’n bietjie moed en durf om self iets te doen,” sê Meyer.

“Ons het nou al genoeg boeke om weer ʼn biblioteek vir die kinders op te rig, maar daar is nog ʼn groot leemte wat meubels en ander leermateriaal soos legkaarte en speelgoed betref,” sê Van den Heever. “Ons het nog onder meer klaskamermatte, ʼn afrolmasjien wat hoë druk kan hanteer, skryfbehoeftes en afrolpapier nodig.”

Stuur skenkings na Duikerfonteinstraat 23, Loxton, Noord-Kaap, of gaan na die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarie ·

Was nie ‘n ongeluk nie maar ‘n inbraak wat verkeerd geloop het .

maria ·

Tog te jammer!! Nie n sent vir die afbrand van skole nie!
Nie eens simpatie nie. Vra die ouers van die kinders wat betrokke is by die afbrand om in te staan vir die brand. Neem n foto dat ons kan sien hulle bou op wat die kinders afbreek!

E.K. ·

Maroela wil net weet – volgens berig benodig hul afrolmasjien. Gebruik skole dan nog afrolmasjiene?? Of bedoel julle eintlik kopieermasjien? Afrol is mos donkiejare gelde al uit? Sou net wou weet of ek reg verstaan of wat.

Reinette ·

Maatskaplike hulp om die trauma te verwerk?
Halllooo…. hulle het die skool afgebrand. Wat het hulle gedink toe hulle die papiere aan die brand steek.
Hopelik het die maatskaplike werker n goeie lat.

Pierre ·

Hi Reinette, ek dink hulle bedoel eerder dat daar trauma hulp aan al die skoolkinders gebied word want dit is tog hulle wat geraak word. Ek glo ook dat daar die nodige stappe geneem sal word teen die 3 skuldiges. Laat ons oopkop wees gegewe die omstandighede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.