Lughawe-beampte wyd geprys vir weldoenersdaad

Vincent (Foto: Facebook)

ʼn Polisiebeampte van die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park word wyd op sosiale media geloof nadat hy ʼn Pretoriase vrou vroeër dié week met haar handsak – wat items soos haar huissleutels en beursie bevat het – herenig het.

Isma Theron-De Witt, ʼn naelkunstenaar van Centurion, vertel Dinsdag aan Maroela Media sy was “totaal oorbluf” deur dié polisiebeampte, net bekend as Vincent, se vriendelikheid; dít terwyl die man tydens die hele soektog na haar handsak heeltyd volgehou het dat hy bloot sy werk doen.

Theron-De Witt sê sy het pas in Gauteng geland ná ʼn kort besoek aan George in die Wes-Kaap toe die petalje op die lughawe ontvou het.

“Ek het effens haastig uit die vliegtuig geklim omdat ons reeds bietjie laat was en ek die laaste Gautrein huis toe moes neem,” vertel sy. “Toe ek by die stasie kom, is ek ingelig dat die laaste trein reeds weg is. Ek het gedink: Isma, alles sal oukei wees. Rook ʼn sigaretjie, ontspan en dan maak jy sommer van ʼn huurmotordiens gebruik.”

Min het sy geweet dat ʼn tweede terugslag haar om 22:00 alleen en in ʼn histeriese toestand op die lughawe sal laat. “Ek het buite gaan staan, en toe besef ek my handsak is weg. Ek was onmiddellik bietjie paniekerig omdat my sleutels, juwele, beursie en baie ander items daarbinne was. Ek het toe maar na die inligtingshokkie gedraf op soek na iemand wat moontlik kan help. Min het ek geweet dat meeste van die personeel om 22:00 in die aand nie meer besonders lus is vir werk nie.

“Die beampte by die inligtingshokkie het my eers na ʼn ander plek gestuur, toe stuur dié mense my terug grondvloer toe, toe hardloop ek weer derde vloer toe en toe weer na nóg ʼn plek toe. Ek was sekerlik by agt verskillende plekke, en tóé raak ek histeries. Ek het begin huil en ʼn anafilaktiese reaksie (allergiese reaksie) gekry. Dís toe Vincent my kruisbeen op die grond in die middel van die lughawe aangetref het.”

Isma Theron-De Witt (Foto: Facebook)

Theron-De Witt sê Vincent het haar gerusgestel en toe saam met haar die soektog na die handsak onderneem. “Siestog, ek dink hy was bietjie verbouereerd ook,” terg sy. “Hy het my net so gekyk en gesê: ‘Ma’am, are you all right? It’s going to be okay.’ En dit wás weer oukei.”

Vincent het Theron-De Witt later gehelp om die handsak tot by een van die hulpstasies in die lughawe na te spoor. By dié hulpstasie het sy uitgevind dat die lugredery al ʼn geruime tyd na haar op soek was om haar weer met haar handsak te herenig, maar sy het dié boodskappe nie gekry nie omdat haar selfoonbattery pap was.

Later, toe Theron-De Witt terug huis toe wou keer en haar selfoonbattery haar wéér in die steek laat, het Vincent nóg ʼn keer ʼn bestuurder van die huurmotordiens Uber buite die lughawe gekry, haar met haar bagasie na die motor gehelp en toegesien dat sy die lughawe veilig verlaat.

“Ek is so geseënd dat ek een van die skatte binne die polisiediens kon ontmoet,” vertel sy. “Dit herstel werklik ʼn mens se geloof in die mensdom en dis só wonderlik om so behandel te word. Ek wil ʼn miljoen keer vir Vincent dankie sê; hy is werklik ʼn voorbeeld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elvira ·

Daar IS sulke wonderlike mense soos hierdie man wat bereid is die ekstra myl te stap en te help. Baie dankie hoop jyt n grooooot dankie geskenk gekry.

Gerrit ·

So , dan is hy die een die enigste polisieman in die saps waaroor party mense my aavat as ek sê hulle is almal useless,nou glo ek julle almal is nie useless nie.daar is darem een.

RN ·

Dis nie net na 22h uur wat hulle nie lus is vir werk nie. Bly Vincent kon jou help. Sorg volgende keer dat jou selfoon vol gelaai is voor jy vlieg, dan is paniek aanvalle nie nodig nie.

izette ·

Een van die Engele wat op die aarde wandel het haar pad gekruis, dis great…….

Lj ·

Sy klink my na een van daai tiepe mense wat opstaan sodra mens geland het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.