Luister: Afrikaans kry ʼn virtuele taal-instituut


Foto: 'n Skermskoot van die VivA-app

Foto: ‘n Skermskoot van die VivA-app

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het vroeër vandeesmaand amptelik tot stand gekom. Dit het ten doel om digitale hulpbronne van, kennis oor en tegnologiegebaseerde dienste vir Afrikaans in ʼn virtuele netwerk te ontwikkel en beskikbaar te stel tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap.

Volgens die aangewese uitvoerende direkteur, prof. Gerhard van Huyssteen van die NWU en voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, sal VivA uiteindelik ʼn internasionaal erkende navorsingsinstituut en diensverskaffer wees vir Afrikaans in die digitale era.

VivA se stigterslede is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV, Dagbreek Trust en Noordwes-Universiteit. Die Afrikaanse Taalraad, Afriforum, CTexT (Noordwes-Universiteit), Fonds Neerlandistiek, die PUK-Kanselierstrust en Vriende van Afrikaans sal ook finansieel bydra tot die instituut se werksaamhede.

VivA het reeds nieamptelik in Augustus 2014 afgeskop met die oprigting van ʼn taaladviesdiens, asook die ontwikkeling van ʼn aanlyn grammatika en die VivA-webblad as eerste prioriteite. ʼn VivA-app word ook beplan sodat almal toegang kan hê tot verskeie dienste en hulpbronne van die instituut.

By die taaladviesdiens sal  gebruikers via verskillende kanale advies kan kry oor die gebruik van Afrikaans in geskrewe tekste.  Sophia Kapp, skrywer en taaladviseur van VivA, beskryf VivA se taaladviesdiens as gerieflik en eietyds. “Dis ʼn toeganklike, gratis hulpmiddel vir elke gebruiker van Afrikaans wat vinnig antwoorde soek op taalnavrae. Of jy nou ʼn gesoute skrywer is of ʼn leerder wat die eerste keer met die taal kennis maak, hulp is ʼn muisklik ver. Met VivA het jy Afrikaans onder die knie, op jou vingerpunte en in die sak!”

Die aanlyn grammatika word as die vlagskipprojek van VivA gesien. “Dis noodsaaklik vir die internasionalisering van Afrikaans, terwyl dit ook belangrike inligting en data sal insamel wat in ander projekte gebruik kan word,” sê Van Huyssteen. Hierdie deel van die projek sal in oorleg met die Nederlandse en Friese Taalportaal geskied.

Volgens hom is daar reeds verskeie doelstellings geïdentifiseer vir die oprigtingsfase tussen nou en 2019. Een daarvan is om ʼn  omvattende korpus van kontemporêre geskrewe en gesproke Afrikaans te ontwikkel en te onderhou. “Dit is noodsaaklik om die rykheid van Afrikaans in al sy variëteite vas te lê, nie net in Standaardafrikaans of een van die hoofstroom variëteite nie. Hoe lyk Zefrikaans? Hoe verskil vandag se tienertaal van dié van die jare Tagtig?”

ʼn Aanlyn, elektroniese Afrikaanse terminologiediens word ook beplan. “Een van Afrikaans se grootste skatte is die enorme vakkundige woordeskat wat oor baie jare ontwikkel is. VivA wil hiermee voortgaan deurdat kundiges terme sal skep en gebruikers dan die databasis sal kan raadpleeg. Ons is baie bly om te kan sê dat Protea Boekhuis se ‘Kuberwoordeboek’ die eerste vakkundige woordeboek is wat hierby ingesluit sal word ,” het Van Huyssteen gesê.

Prof. Wannie Carstens, Direkteur van die Skool vir Tale by die Noordwes-Universiteit en direksielid van VivA, het die instituut beskryf as ʼn “wow-oomblik” vir Afrikaans. “Hierdie projek lanseer Afrikaans in die kuberruimte in – enige persoon wêreldwyd met internettoegang sal nou Afrikaanse bronne kan gebruik.”

Besoek gerus VivA se webblad vir meer besonderhede.
Laai die app af op die Google Play Store of Apple App Store.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.