[Luister] Afrikaans sonder grense met internasionale skole-ekspo

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigine. Foto: Verskaf

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigine. Foto: Verskaf

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het onlangs die heel eerste Internasionale Afrikaanse Skole-ekspo bekendgestel om internasionaal die liefde vir Afrikaans te vier en by jongmense ʼn liefde vir die taal te kweek.

Die gewilde Sterlopers-aktrise, Jenna Dunster, is vanjaar die ambassadeur vir die projek en sê dié projek kan baie doen om die liefde vir Afrikaans onder skoolkinders van graad 6 tot graad 12 te kweek.

“Die ekspo gee jongmense die geleentheid om kreatief te wees in Afrikaans,” het sy verduidelik. “Hulle staan ook ʼn kans om groot pryse te wen. Afrikaans is al vir agt jaar die taal waarmee ek my brood en botter verdien en ek het ʼn groot passie daarvoor.”

Dunster sê dit is veral belangrik om jong kinders entoesiasties te maak oor Afrikaans. “Dit gee ook vir onderwysers oulike gereedskap om in hulle klaskamer te gebruik. Dis moeilik om kinders positief te laat voel oor Afrikaans, veral as dit nie hul eerste taal is nie. Maar met projekte soos hierdie probeer ons ʼn liefde vir die taal kweek.”

Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte by die FAK, sê dit is die eerste keer dat die Afrikaanse skole-ekspo, wat al vir vier jaar deur die FAK aangebied word, op ʼn internasionale front plaasvind.

“Afrikaans is nie net ʼn taal wat binne die grense van Suid-Afrika gepraat word nie en in die buiteland is daar ook baie mense wat Afrikaans praat wat lief is vir dié taal,” het Jansen van Vuuren gesê.

Sprekers van Namibië, België en Australië gaan vanjaar by die ekspo optree. Die tema van vanjaar se ekspo is 100 Jaar van Afrikaanse films en deelnemers kan die tema in allerlei kategorieë uitbeeld, wat onder meer skilderkuns, opstelle en storieboeke insluit. Daar is ook ʼn ope-kategorie vir inskrywings in die vorm van poësie, kortverhale of liedjies.

Die algehele wenner sal ʼn oorsese reis ter waarde van R25 000 wen.

Besoek die FAK se webwerf vir meer inligting oor hoe om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.