Luister: ATKV vereer legendes in die kunste


V.l.n.r.: Petru Wessels, Anneli van Rooyen, Carel Trichardt, Bennie Bierman, Johan van Rensburg, Japie Gouws (besturende direkteur van ATKV-groep).

V.l.n.r.: Petru Wessels, Anneli van Rooyen en agter staan Carel Trichardt, Bennie Bierman, Johan van Rensburg en Japie Gouws (besturende direkteur van ATKV-groep). Foto: Verskaf

Die ATKV het Woensdag ʼn paar legendes vereer vir hul lewenslange bydrae tot die kunste in Suid-Afrika.

Bennie Bierman, Johan van Rensburg, Carel Trichardt, Petru Wessels en Anneli van Rooyen is almal tydens die geleentheid by Northwards-herehuis in Parktown vereer.

Petru beskryf die toekenning as ʼn “verjongingskuur” om nog so lank moontlik te doen wat sy doen. “Dis my groot droom vir my en Carel, om nog so lank as wat dit ons beskore is, deel te kan hê aan die uitleef en uitbou van ons wonderskone, geliefde moedertaal vir almal wat ʼn oor het om daarna te luister.”

Anneli, wat ly aan ʼn pynlike toestand genaamd trigeminale neuralgie, het tydens haar toespraak ʼn baie bemoedigende boodskap oorgedra. “ʼn Mens weet jy loop ʼn pad en hy mors met jou; elkeen van ons hier sit met ʼn knak of ʼn seer of ʼn swaar of ʼn moeite. Elkeen van ons het ʼn keuse: Wat maak jy nou? Wat maak jy met dit wat oorbly nadat goed van jou weggevat is?” het Anneli gesê. “My drome is van my gesteel, maar daar is altyd hoop. Waar daar asem is, is daar hoop en waar daar asem is, kom nuwe drome.”

Tydens sy bedanking het Johan gesels oor sy loopbaan, sy betrokkenheid by die Alabama en die begin van die uiters gewilde program Noot vir Noot. “Die opdrag was om iets te maak waarvan mense hou, wat hulle laat glimlag en hande klap. Dit is jou werk, en dit is wat ek gedoen het my hele lewe lank.”

Volgens Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, het Afrikaans en Afrikaanssprekendes kreatiewe vermoëns wat onder die beste ter wêreld gereken kan word. “Taal en kultuur word deur die ATKV beskou as van die belangrikste instrumente om Suid-Afrikaners te help om mekaar beter te verstaan. Met hierdie toekennings wil die ATKV graag erkenning verleen aan diegene wat deur middel van talente en vaardighede ’n onmisbare bydrae gelewer het tot die kunste in Suid-Afrika,” het Gouws gesê.

Caroline Modiba, wenner van die 2013 ATKV-Muziqanto, het tydens die geleentheid ook die gaste vermaak met liedjies soos I could have danced all night en Oktobermaand.

Maroela Media het tydens die geleentheid met Johan van Rensburg, Petru Wessels en Carel Trichardt gesels oor wat die commendatio vir hulle beteken.

Meer oor diegene wat vereer is:

Bennie Bierman was tussen 1981 en 1995 die hoof van musiek by die SAUK. Ná sy aftrede was hy tot 1999 steeds die samesteller en aanbieder van die program Knapskoot op RSG. Afgesien van sy werk by die SAUK was Bennie ook deur die jare betrokke by verskeie kore en orkeste. Hy het hom deur die jare onderskei as een van die land se topmusiekbeoordelaars. By die ATKV was Bennie betrokke by die totstandkoming van die Forte-, Crescendo- en Prelude-musiekkompetisies, asook as beoordelaar van ATKV-Applous en ATKV-Lier.

Johan van Rensburg is ná ʼn loopbaan as lektor in musiek aan die destydse PU vir CHO in die middel-tagtigerjare aangestel as regisseur en later spesialis-regisseur van Afrikaanse verskeidenheidsprogramme by SAUK TV1 in Aucklandpark. Hy verlaat die SAUK in 1989 en stig Stemmburg Televisie saam met Johan Stemmet. Gedurende die tagtigerjare speel die twee Johans leidende rolle in die aanbieding van ses jaarlikse ATKV-Liedjieskryfwerksessies. Johan is self ʼn ATKV-Crescendowenner – hy het in 1983, die jaar waarin sy vrou, Rina Hugo, aangewys is as die algehele wenner van Crescendo, die afdeling vir beste Afrikaanse liedjie van die jaar gewen.

Carel Trichardt is nie net ’n gesoute verhoogakteur en -regisseur nie, maar het deur die jare ’n huishoudelike naam geword weens sy verskyning in talle films, televisiedramas en -reekse, asook radio-aanbiedings en handelsflitse. Hy tree ook gereeld op as beoordelaar van kunswedstryde en toneel- en filmfeeste, waaronder die ATKV se Tienertoneelfees.

Saam met haar man, Carel, het Petru haar merkwaardige talent vir Afrikaans ook ingespan om ’n verskeidenheid poësie- en prosaprogramme saam te stel wat landwyd opgevoer is. Petru en Carel is al jare lank aktief betrokke by die bevordering van die Afrikaanse woord deur onder meer skoolbesoeke, kinderteater, die aanbied van jeug- en vroueweke, dramaklasse, boeke-uitstallings en spesiale opvoerings vir senior burgers.

Anneli van Rooyen beklee eweneens ʼn spesiale plek in die geskiedenis van Afrikaans, danksy treffers soos “Seemeeu”, “Sewe sakke sout”, “Ek wil jou ken”, “Neem my op vlerke” en “Ek lewe”, om maar net enkeles te noem.  As eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria is sy in 1979 aangewys as wenner van die ATKV-Crescendo. Daarna was sy op verskeie maniere betrokke by die Afrikaanse musiekbedryf totdat trigeminale neuralgie, ’n uiters pynlike toestand, haar musiekloopbaan kortgeknip het. Anneli is ten spyte daarvan steeds bekend vir haar blymoedigheid en sterk geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.