[Luister] BirdLasser-app wil voëlspesies beskerm

BirdLasser. Foto: play.google.com

BirdLasser. Foto: play.google.com

Henk Nel, ʼn Johannesburgse voëlkyker, het die app BirdLasser vir slimfone ontwerp met die doel om die bewaring en notulering van veral inheemse voëls te verbeter. Dié app is onlangs bekendgestel.

Henk vertel die app is spesifiek ontwerp sodat voëlkykers enige spesie wat hulle teëkom kan aanteken. “Al die data gaan na ʼn sentrale databasis waar dit versprei word na organisasies soos BirdLife en SABAP2 wat navorsing oor die bewaring van voëlspesies doen,” het hy gesê.

“Gebruikers verskaf saam met inligting oor die spesie wat hulle gesien het ook inligting soos die datum, tyd en GPS-koördinate. BirdLife kry dan al die data wat byvoorbeeld sal aandui daar was 15 bloukransvoëls op ʼn spesifieke plek. Die organisasies weet of dit positief of negatief is en kan dienooreenkomstig optree.”

BirdLasser is ook gemik op Jan Alleman. Selfs al kuier jy nie gereeld in die wildtuin nie kan jy steeds spesies wat jy in jou tuin teëkom aanteken op die app. “Die app is vir almal: Van ornitoloë tot mense wat die Krugerwildtuin besoek of wat voëls in die tuin dophou. Ons kry die data van individue en aanvaar dit as korrek. Die data word gestuur na ʼn instansie soos BirdLife SA, wat uiteraard sal weet of dit moontlik is om ʼn sekere voëlsoort in ʼn spesifieke area te kry.”

Volgens Henk is die app ideaal vir Suid-Afrikaanse omstandighede omdat die land sulke uiteenlopende voëlspesies het. “Suid-Afrika is ryklik geseën met diverse voëlspesies. In Johannesburg kry ek op ʼn wintersoggend minstens 30 spesies in my tuin. Mense kan die app oral gebruik.”

BirdLasser kan ook help voorkom dat inheemse voëlspesies uitgeroei word. “Die app kan van hulp wees in gebiede waar stede uitbrei. Sulke plekke het gewoonlik nog klein areas met grasvelde en koppies wat verlore gaan met die uitbreiding van die stad.”

Die app is gratis en gebruikers kan dit gebruik sonder data of lugtyd. BirdLasser is beskikbaar vir Android, Apple en Windows.

Besoek BirdLasser se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ria Nel ·

Kan Henk nie vir Sanparke soorgelyke apps ontwikkel vir natuurbewaring vir die groot vyf?

Ignatius ·

Dit is ‘n baie oulike toepassing.Kan daar ook nie voorsiening gemaak word op Linux “Operating Systems ” nie, of is dit te gou?
Kan die inligting wat ‘n mens aangestuur het ook op hulle webwerf gesien word en waar dit vandaan kom?

Ignatius ·

In opvolging van my kommentaar en vrae sal ek vir Henk vra wat al die antwoorde sal he.
Ek het alreeds die toepassing op my slimfoon laat plaas en sien daarna uit om dit te gebruik aangesien baie voels my tuin besoek veral die voelbaddens wat hulle baie geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.