Luister: Bordspel verken Anglo-Boereoorlog

Met Eendracht Maakt Macht, die eerste Afrikaanse bordspeletjie wat spelers strategies deur die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog neem, wil Pieter Liebenberg ʼn verskil maak.

Dié plattelandse plaasseun meen dit is ook sy passie vir geskiedenis en Afrikaans, dit is immers sy moedertaal, wat gelei het tot die ontwikkeling van hierdie bordspel.

“Ons kultuur en erfenis verdien net die beste. Ek wil graag hê die bordspel moet ʼn bydrae lewer, veral ook tot die uitbou van Afrikaans,” sê Liebenberg.

Hoewel die idee al meer as 20 jaar gelede by hom opgekom het, het Liebenberg eers sowat ʼn jaar gelede daad by die woord gevoeg en die projek voltooi.

Liebenberg het verlede jaar sy familie se kinders met tuisonderrig gehelp en met ʼn skok besef hoe kommerwekkend die inhoud van die geskiedenis as vak is. Geskiedenis, en meer spesifiek die Anglo-Boereoorlog, lê hom na aan die hart.

Pieter Liebenberg verduidelik hoe Eendracht Maakt Macht werk. Die speletjie neem spelers deur die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. (Foto: Verskaf)

“My ervaring is dat van die gebeure nie in soveel diepte in die skoolkurrikulum hanteer word nie en selfs wanneer ek met ouer kinders van so 12 of 14 gesels, kom ek agter dat hulle nie werklik die gebeure van die Anglo-Boereoorlog verstaan nie. Dit het my laat besef dit is nou die regte tyd om hierdie bordspeletjie bekend te stel.”

In dié bordspel neem spelers bevel oor hulle eie kommando, bou aan hul eie unieke vaardighede en word gelei om met ander saam te werk om ʼn gemeenskaplike doel te verwesenlik. Deur die loop van die spel word spelers aan verskeie historiese karakters en gebeure blootgestel.

Die speletjie se vyand is nie ander spelers of magte nie, maar eerder ʼn stryd teen tyd. Wanneer die oorlogkalender die einde van die spel aankondig, bepaal spelers of hul genoegsame heldepunte verdien het om as oorwinnaars van die stryd uit te tree.

Liebenberg, eienaar van die Wolfkraal-handelsmerk wat Eendracht Maakt Macht uitgereik het, sê dit was nie ʼn maklike taak nie, maar danksy die ondersteuning van familie, vriende en die hulp van kenners dat die projek voltooi is.

Ds. Hans Linde het die teksversorging gedoen en saam met Liebenberg gewerk om met nuutskeppings vorendag kom waarvoor daar nie reeds Afrikaanse woorde is nie. Kenners soos prof. Fransjohan Pretorius het gesorg dat die uitdagings in die bordspeletjie getrou is aan die geskiedenis van die tydvak en ‘n regte Danie Theron-karakter in Piet van der Westhuizen van Return Revolution het raad oor die kommando gegee.

Dr. Danie Langner van die FAK het ook ‘n prys aan Pieter Liebenberg van Wolfkraal gegee vir die ontwikkeling van die eerste Afrikaanse bordspeletjie oor die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. (Foto: Verskaf)

Liebenberg meen penkoppe tot grysaards sal iets oor die Anglo-Boereoorlog leer as hulle die bordspeletjie speel.

“Families begin regmaak om oor Kersfees byeen te kom, en ek dink dit is juis ʼn gulde geleentheid om die Eendracht Maak Macht-bordspel tydens hierdie familiekuiers nader te trek.”

Maroela Media het vroeër berig dat dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), ʼn toekenning aan Liebenberg oorhandig het vir sy ontwikkeling van Eendracht Maakt Macht.

Die Eendracht Maakt Macht-bordspel kos R1 300 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om meer te wete te kom. Dit word onder meer versprei deur Spoetnik, Protea Boekwinkel en Return Revolution.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delene ·

Tog te oulik! Dis baie interessant om van die Geskiedenis op ‘n speel-speel manier te leer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.